Ranger vs. Hilux – waar staan dinge nou?

Toyota Hilux. (Foto: Verskaf)

Daar is twee opknappings wat onlangs in die bakkiewêreld plaasgevind het wat dinge ʼn bietjie wil opskud. Ford se opknapping is effe kleiner as dié van Toyota, maar die Ranger was ver voor die Hilux in seker opsigte – dus was groot opknapping nodig vir Hilux.

Ek het onlangs tyd met albei deurgebring om my geheue te verfris – en ek gaan hier probeer bepaal wie staan nou waar.

Ontwerp:

Hier gaan smaak en voorkeur ʼn groter rol speel as feite. Die Ranger was vir my ʼn mooier bakkie as die Hilux – maar nou, in Legend-spesifikasie is die Hilux vir my regtig mooi. Albei bakkies het die sport-rolstaaf en ʼn rolluik op die laaibak agter. In terme van ontwerp is daar nou nie ʼn lelike een tussen die twee nie.

Binneruim:

Hier was die Ranger al geruime tyd voor as ʼn mens luukshede in ag neem. Die Hilux het nou ook CarPlay en Android Auto bygekry met ʼn fantastiese JBL-klankstesel. Die Ranger se sitplekke voel van ʼn beter gehalte, maar die Hilux se sitplekke is vir my die gemaklikste. Die Ranger se kajuit voel effe groter en het beter gehalte, maar weer eens, hier gaan smaak ʼn groter rol speel as feite.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Verlede jaar het Ford sy nuwe 2.0 dubbelturbo enjins bekendgestel, met ʼn tienspoed outo. Die ratkas is ʼn reuseverbetering op die sesspoed wat hy vervang. Die dubbelturbo-enjin is vir my beslis lekkerder in die Laeveld as hier bó op die platorand. Ford beweer 157 kW en 500 Nm. In die Laeveld voel dit só sterk, maar in Gauteng nie naby daai syfers nie.

Toyota se opknapping van die 2.8 grens aan verstommend. Die enjin is nou verskriklik stil, en terwyl ons by Gerotek sy 4×4 vermoë op die proef gestel het voel die enjin se kragband baie breed. Die wringkragomsitter voel ook of hy nou vinniger vas skop en is perfek gekalibreer vir wilde 4×4 hindernisse.

Beide dryfstelsels het hul sterkpunte. Die Ranger is vir my effe meer gerig op gemak op die oop pad, en sy stabiliteit as mens sleep is ongeëwenaard. Die Hilux se dryfstelsel is beslis die beter 4×4 voertuig en meer gerat vir harder werk.

Veiligheid, vering en ritgehalte en padhouvermoë:

Die twee bakkies is aan die voorpunt van veiligheidstelsels in ʼn bakkie. Albei spog met sewe lugsakke, ABS, EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer. Waar dinge puik raak is met die aktiewe veiligheidstelsels soos aanpasbare spoedkontrole en aktiewe botsingwaarskuwing. Radar hou die verkeer voor mens dop – en as ʼn noodsituasie ontstaan begin alarms gil om die bestuurder te waarsku dat hulle nou moet oplet. Indien hy of sy nie vinnig genoeg reageer nie sal die voertuig self noodremme aanslaan.

Die Thunder is effe sagter geveer as die Hilux, en dit is hoekom ek sê hy is effens meer op vragdra gerig. In dieselfde asem is sy ritgehalte effens beter as die Hilux s’n. Albei bakkies het ook al ʼn ver pad gekom in terme van padhouvermoë. Tien jaar terug sou mens beslis nie met ʼn bakkie die padhouvermoë kon vertrou soos nou nie.

Opsomming:

Ford se Wildtrak was in ʼn klas van sy eie in vergelyking met die Hilux. Die Thunder is op die Wildtrak geskoei, en het meestal dieselfde spesifikasies. Die rolluik op die laaibak agter sluit met die hand, en die klap sluit saam met die sentrale sluitstelsel. Die verdeler in die laaibak wat kan stel om vrag vas te keer werk fantasties.

Die Hilux het ook nou ʼn torsie-staaf wat die klap ligter maak om oop en toe te maak. Die rolluik maak elektries oop en toe en sluit saam met die sentrale sluitstelsel. Die stofweringstelsel op die klap seel baie netjies en hoort amper al die stof uit die laaibak uit te hou. Indien ʼn mens graag wil 4×4 het die Hilux heel beter grondvryhoogte met 286 mm teenoor die Ranger se 237 mm. Albei bakkies kan 3,5 ton sleep.

Die twee bakkies is nog nooit voorheen só gelyk nie. Die Ford-manne gaan bly by die Ranger, maar die Toyota-manne het nou regtig rede om te spog, al is die RS-pakket wat die elektriese rolluik en rolstaaf insluit peperduur.

Die twee vergelyk só:

Ford Ranger 2.0Bi-Turbo 4×4 Thunder outo157 kW teen 3 750 r/min 500 Nm tussen 1 500 en 2 000 r/min8.1 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R787 000
Toyota Hilux 2.8GD-6 4×4 Legend RS outo150 kW tussen 3 000 en 3 400 r/min

500 Nm tussen 1 600 en 2 800 r/min

8 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R851 100

Ander opsies:

Isuzu D-Max 3.0TD 4×4 AT35130 kW/ 380 Nm8.6 ℓ/ 100 km5 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R846 700
Ford Ranger 2.0Bi-Turbo 4×4 Raptor157 kW/ 500 Nm8.3 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R857 700
Volkswagen Amarok 3.0 V6 TDI Extreme 4Motion190 kW/ 580 Nm9.5 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R974 600

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Het nog altyd ‘n sagte plekkie vir ‘n mooi kar en bakkie..
Weet ook dat die manne gedurig stry oor die Ranger versus die Hilux. . Ek het hierdie artikel baie geniet. Mooi uiteengesit, met pryse en al! Veilige kilometers toegewens aan almal! My Nissan Qashqai verskaf my groot reisplesier!

Anoniem ·

Het nie bykans 1 Miljoen rand om aan ‘n bakkie vir veldry te spandeer nie. Indien jy nie met hulle sal veldry nie, is dit ‘n wit olifant en ‘n status ding. The best 4×4 by far on Tar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.