Ranger vs Triton: Nie alle bakkies is eweknieë nie

Ek het onlangs vir my jaarlikse wintervakansie die kindertjies by mekaar gemaak, die karavaan gehaak en in die pad geval. Rigting: ATKV Eiland Spa.

Dit is die vierde agtereenvolgende jaar wat ons in Julie daar vakansie hou. Ek het die eerste jaar met my eie Renault Grand Scenic gesleep. Die jaar daarna met ʼn Volkswagen Amarok V6 en die daaropvolgende jaar met ʼn Hyundai H1. Vanjaar het ons twee voertuie gebruik … nee, nie gelyktydig nie; een soontoe en een terug.

Eerste aan die beurt was Ford se nuwe Ranger 2.0 SiT XLT 4×4 10-spoed outo en daarna Mitsubishi se Triton 2.4D-iD 4×4 outo. Só vergelyk die twee:

Ontwerp

Beide bakkies is mooi in hul eie reg. Die pel wat die ander bakkie gery het, sê die Triton is vir hom verreweg die mooiste bakkie tussen die twee. Ek sukkel om ʼn wenner te kies. Die twee is vir my ewe mooi, al verskil hulle baie. Mense se smaak verskil – so ek los dit vir jou om self te besluit watter bakkie vir jou mooier is.

Binneruim

Die Triton se binneruim is netjies en ergonomies, maar beslis kleiner as die Ranger. Ek verkies die Ranger se breë kajuit. Albei bakkies het ʼn goeie spesifikasievlak met ses lugsakke, ABS, spoedbeheer en so meer.

Die Ranger het ʼn baie beter inligting- en klankstelsel. Waar die Ranger punte verloor, is sy sitplekgordels wat effe kort is. Vir groter passasiers, as mens vas is – is jy vas. Ek is oortuig daar is manne wat dié bakkie gaan koop en bo-op die gordel gaan moet sit om die alarm stil te maak, want die gordel gaan eenvoudig net nie pas nie. Die Ford se laaibak is effe dieper as die Triton sʼn – so mens kan aanvoer dat daar meer onder die bakseiltjie gelaai kan word.

Enjin en ratkas

Daar is bitter min verskil tussen die twee enjins. Die Ford lewer 132 kW en 420 Nm. Die Mitsubishi 133 kW en 430 Nm. Die Ford is ʼn 2.0 viersilinder enkelturbodiesel. Die Mitsubishi is ʼn 2.4 viersilinder enkelturbodiesel.

Die Mitsubishi se 16 kleppe en MIVEC-stelsel verkies meer omwentelinge as die Ford, en dit is nie ideaal vir sleep nie. As dit by die ratkaste kom, is dit waar die Ford sy staal begin wys. Die Ranger gebruik Ford se nuwe 10-spoed outokas. Dit is dieselfde ratkas wat hulle oorsee in hulle F150-produk gebruik. Buiten die feit dat die wringkragomsitter klink of hy sukkel om lekker vas te trap wanneer jy aan die rol kom, is die Ranger-ratkas puik. Daar is 10 ratte, so mens kan presies kies hoe jy wil sleep. Mens kan met die knoppies op die rathefboom ratte elimineer sodat die ratkas óf net 1 – 8 gebruik, óf mens kan enige ratte elimineer – byvoorbeeld 1, 4, 7 en 10.

Die Triton het ʼn eenvoudige 6-spoed wringkragomsitter outo. Waar hy punte verloor is die ratverhoudings van vierde, vyfde en sesde ratte. As mens ʼn kwaai bult teen 100 km/h teëkom, wil die bakkie terugspring vierde toe. Dan klim die omwentelinge bo 3 500 r/min. Dis te hoog vir die diesel. As jy hom vyfde toe druk met die spane agter die stuur, dan val die omwentelinge net by 2 000 r/min … dis weer te laag.

In vergelyking is die Ford se ratte amper almal omtrent 500 r/min uitmekaar en hy jaag glad nie rond vir ratte nie, so dit maak nie saak watter spoed jy wil handhaaf nie, daar is minstens drie ratte in 1 500 r/min bandwydte tot jou beskikking.

Onderstel en ritgehalte

Wat betref sleep blink die Ranger eenvoudig bo die Triton uit. Die Mitsubishi se rit is effe hard en as mens sy bande na vol vrag toe pomp, dan is hy éérs hard. Die Ranger toor bietjie in hierdie afdeling. Met die agterbande op 2.8 gepomp, ry hy heerlik. Die Ranger vat dit ʼn stappie verder.

Ek het al voorheen hieroor geskryf toe ons met die Wildtrak in Februarie gesleep het. Ek het nou al met al die bakkies gesleep, Isuzu, Navara, Hilux, Triton, Ranger, Amarok – de lot, en daar is eenvoudig geen ander onderstel wat sonder ʼn stabiliseerder só stabiel sleep soos die Ranger nie, punt.

Om dié toets regverdig te hou, het ek ook nie die stabiliseerder op die Triton opgesit nie en die karavaan het redelik rondgerits agter die bakkie. Ek dink daar is ʼn paar faktore – Ford se “trailer assist” wat in sy stabiliteitsbeheer ingebou is, maar ook die fisiese sleepstang en hoe hy op die bakkie monteer. Ford se sleepstang is die 3.5 ton-swaardiensstang wat standaard op alle Rangers uitkom.

Die bevinding

Die Ranger wen dié toets vir my. As sleepvoertuig is hy moeilik om te klop. Ek het gedink die Ranger was effe swaar op brandstof teen 13.8 ℓ/100 km – maar die Triton het 15.5 ℓ/100 km gegee. Beide het teen 120 km/h gesleep. Die Triton moes wel Magoebaskloof uitklim en die Ranger het hom afdraande gehad. Die kombinasie van die Ranger se ratkas sleep lekker op die oop pad en sy stabiliteit is ongeëwenaar.

Die Triton is regtig ʼn lekker bakkie en hy sal ook goedkoper wees om te verseker as die Ranger. Die Triton se 4×4-vermoë is weer beter as dié van die Ranger – maar hierdie is ʼn sleeptoets en ongelukkig span die Ranger hier die kroon.

Die twee vergelyk só:

ModelKragBrandstofverbruikSleepkapasiteitWaarborg en diensplanPrys
Ford Ranger 2.0 SiT XLT 4×4 outo132 kW/ 420 Nm13.8 ℓ/100 km3.5 ton4 jaar/ 120 000 km-waarborg

6 jaar/ 90 000 km-diensplan

R574 995
Mitsubishi Triton 2.4DI-D 4×4 outo133 kW/ 430 Nm15.5 ℓ/100 km3.1 ton3 jaar/ 100 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R589 995

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Die Triton lyk vir my op n drumpel maar soos die Toyota of te wel hoe hy in die jaar 2021 of 2022 sal lyk soos hulle tekere gaan met al aanpassings en verbeterings net om kopers se aandag te trek.

Lou

Ek is seker maar outyds maar die Triton se vooraansig veral, maar eintlik die hele buite aansig is vir my baie ver van mooi af.
Die Ford vertoon baie mooier met mooi lyne en netjies oor die algemeen.

Ij

Ford en sy massa produksie het homself al mooi bewys. Ek sal die Triton toe oë vat.

Siener

Volgens die CAR July 2019 tydskrif—-Mitsubishi Triton DC2.4 Di-D 4x4AT—-Oil Filter R255, Air Filter R759, Left Rear Tyre R1496, Left Headlamp R27 267, Windscreen R12 426 Brake Pads R2 456 Total Parts Basket R48 060

Ford Ranger DC 2,0 Sit XLT 4×4 10AT Oil Filter R132, Air Filter R4 427, Left Headlamp R4 427, Left Rear Tyre R2685, Windscreen R2 055 Brake Pads R1481 Cambelt Tensioner R2846 Total Parts R14 248
Dis waarom Ford Ranger die pas aangee en altyd ‘n wenner gaan wees.

Siener

n Ranger mag maar grond pad ry komend van n ou toyota man.