Renault Duster verrassend goed

Die Renault Duster 4x4 Foto: Quickpic

Die Renault Duster 4×4 Foto: Quickpic

Ek moet bieg.

Dit was met ‘n mate van skeptisisme dat ek dié 80 kW turbodiesel viersilinder (met 4-wielaandrywing) by die invoerders gekry het.

Nie heeltemal oortuig oor wat my te beurt gaan val tydens die weeklange verbintenis met die Duster nie (wat ‘n koddige naam; veral in die Platteland) het ek binne twee dae die volgende afleidings gemaak:

Die Renault Duster is, wat sy grootte betref, heeltemal in die kol ten opsigte van die mark se huidige voorkeure vir ietwat kleiner SUVs (sportnutsvoertuie). Kyk maar na die Nissan Qashqai en sien hoe gewild hierdie voertuie geword het.

Wat die Renault Duster self betref, was ek veral beïndruk met sy rigtingvastheid, uitstekende verfgehalte, goeie versnelling danksy sy uitstekende 240 Nm wringkrag wat reeds teen 1 750 opm inskop, en sy uitgerekte waarborgtydperk – 5 jaar/150 000 kilometers (in die voetspore van Hyundai).

Die volgrootte-noodwiel – weliswaar op ‘n staalvelling – die 475 liter bagasieruim, parkeersensors agter en die hoogteverstelbare bestuurdersitplek het ook indruk gemaak. Sy lae CO2-besoedelingsfaktor van 143 gm/kilometre stel nogtans die regime in staat om ‘n addisionele belasting van R1 966-50 uit die koper te wurg.

Padgedrag is goed vir so ‘n relatief swaar 1 700 kg voertuig, die remme – skywe voor en dromme agter – werk gerusstellend en die Continental-bande (215/65 R16) is ‘n goeie keuse. Ratskakeling is uitstekend (6-gang handratkas) en die draaisirkel is redelik sonder om werklik goed te wees.

Die maksimum snelheid is 171 km/h, die brandstofverbruik (vervaardigersaanspraak) is 5.3 liter/100 kilometers, en die Duster hoef net elke 15 000 km gediens te word. Danksy die 3 jaar/45 000 km diensplan is feitlik alles die eerste drie jaar gratis.

In 1977 was Renault die eerste vervaardiger wat suksesvol turbokrag by hulle enjins gevoeg het, en vandag is die maatskappy steeds toonaangewend in hierdie opsig. Dis dan ook verstaanbaar waarom die Renault Duster in 2012 Indië se motor van die jaar was.

Maar daar was, soos met feitlik alle motors, tog ‘n paar goedjies wat gepla het. Deesdae verwag ‘n mens by elektriese vensters (ja, al vier het dit) dat ‘n enkele druk van ‘n knoppie die venster na bo sal stuur. Maar nie die Duster nie, jy moet maar die vinger op die knoppie hou.

Teen 120 km/h – dis nou wanneer jou spoedmeter reeds 127 km/h wys – is daar ‘n effe irriterende suisgeluid rondom die kantspieëls, terwyl die instrumentpaneelontwerp dalk net so effentjies meer modern kon gewees het.

Maar dis alles harekloof en die Renault Duster ‘sagte’ 4×4 gaan ‘n buitengewone sterk mededinger in sy segment wees.

Ek wag nog net vir Renault om te verneem hoeveel Rande hulle vir hom wil hê. ‘n Goeie prysaanduiding is dat die ietwat afgeskaalde 4×2 1.6-liter petrolmodel ‘n uiters mededingende R194 000 kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.