Ry luuks en groen met Uber

Die BMW i3 (Foto: bmw.com)

Die BMW i3 (Foto: bmw.com)

Die huurmotordiens Uber bied Kaapstadse gebruikers van 13 Junie tot 18 Julie die geleentheid om op ʼn koolstofuitlaatvrye manier rond te rits in ʼn nuwe BMW i3 as deel van hul UberGREEN-veldtog.

Die veldtog, wat in April in Johannesburg van stapel gestuur is, word nou in samewerking met Woolworths aan Uber-gebruikers gebied.

Alon Lits, hoofbestuurder van Uber in Afrika, sê dié organisasie het kragte gesnoer met BMW en Woolworths omdat albei dié organisasies dieselfde “groen visie” vir Suid-Afrika het. “Die BMW i3 is ʼn elektriese motor wat uiteraard gaan help om koolstofuitlaat te verminder. Gebruikers kry die geleentheid om op ʼn volhoubaarder manier van een plek na ʼn ander te beweeg teen ʼn bekostigbare prys, en meteen die koolstofspoor ook verklein,” het Lits gesê.

Byna 15 000 mense het van dié diens gebruik gemaak in Johannesburg, en meer as 5 300 km is toe op ʼn meer omgewingsvriendelike manier afgelê, het Lits gesê.

Hanna Ross, hoof van kliëntediens by Woolworths, sê dié groep probeer sy deel vir die omgewing doen. “Die feit dat Uber dié diens aan hulle gebruikers wil beskikbaar stel, strook heeltemal met die beginsels van Woolworths.”

Tim Abbott, besturende direkteur van BMW Suid-Afrika, sê hy hoop dié veldtog stel meer mense bloot aan elektriese motors. “Ons voorsien ’n toekoms waarin dit eenvoudiger, toegankliker en volhoubaar is om van een plek na ʼn volgende te beweeg.”

Meer as 50 000 motors is wêreldwyd verkoop sedert die BMW i3 se internasionale bekendstelling. Soveel as 124 van die motors is in Suid-Afrika verkoop sedert Maart 2015.

Hoe werk dit?

  • Kies die UberGREEN opsie tussen 13 Junie tot 18 Julie
  • Kies die roete soos gewoon
  • Die diens is beskikbaar tussen 07:00 en 19:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Knapie ·

Groen, volhoubaar, kleiner koolstof voetspoor?? Iemand vergeet dat daar êrens n kragsentrale is wat nou moet harder werk om die voertuig se battery te laai? En glo my, n steenkoolkragsentrale is nie baie effektief nie.

Piet Snot ·

Praat jy.
Ek wonder ook: word daai steenkoolsentrale se koolstofspoor bygetel wanneer die elektriese motors se besparings uitgebasuin word?
Indien dit “nee” is, is die groenstories mos twak. Of watter deel vd argument verstaan ek nie?

Knapie ·

Voetspoor seker kleiner omdat sentrale op een plek stil staan… Groter koolstof konsentrasie oor kleiner voetspoor/area.

Die teorie werk seker in lande waar elektrisiteit opgewek word deur hernubare bronne. SA is nie só n land nie. Ek is nie op datum met ander lande se elektrisiteitsnetwerke nie. Sal interesant wees as iemand wat weet my kan inlig van lande wat slegs afhantlik is van hernubare bronne.

Johan ·

Ek sal Uber graag gebruik as hulle ‘n paar M5’s in hul vloot het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.