Ry nou verder as ooit – sonder petrol!

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Baie lande is al heelwat verder gevorder in die elektriese-motor-revolusie as Suid-Afrika. Ons gebruik gedurig die verskoning van reikafstande, dat die afstande wat ons in Suid-Afrika moet ry net te groot is. Nie meer nie.

Ek hou regtig baie van elektriese voertuie. Maroela Media het voorheen oor die Nissan Leaf en die BMW i3 berig, en ek is mal oor albei, maar meer oor die tegnologie en wat dit kan bied. Jaguar gaan vroeg volgende jaar die mark op sy kop draai met die bekendstelling van die allernuutste Jaguar I-PACE.

Die Jaguar I-PACE. Foto: Verskaf

Hoekom? Die I-PACE het ʼn asemrowende reikafstand van 470 km. Jaguar is besig om ʼn reusenetwerk hoëkapsiteitlaaiers op strategiese plekke in stede en op die N1, N2 en N3 snelweë te installeer. Dit gaan beteken dat ʼn mens reise see toe sal kan onderneem van Gauteng … in ʼn elektriese voertuig.

Die I-PACE het van Jaguar Centurion vertrek met ʼn vol battery. In Harrismith aangekom is dit daar op die nuwe 60 kW hoëkapsiteitlaaier herlaai. ʼn Paar ure later was die I-PACE in Durban teen ʼn fraksie van die koste van gewone brandstof. Jaguar het ook nie allerhande truuks getrek om die afstand te kon aflê nie, en die spoedgrens is ten alle tye gehandhaaf.

Kyk ʼn kort video:

Ek kan nie wag om my hande op die Jaguar I-PACE te kry nie. Die I-PACE het ʼn asemrowende 298 kW en sal van 0 – 100 km/h draf in ʼn indrukwekkende 4,8 sekondes. Dit gepaard met die 470 km reikafstand maak dit ʼn voertuig waarna ons regtig baie uitsien in 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Carlien ·

Ai, hoe gaan ons gewone mense op gewone salarisse hierdie karre bekostig?? Gaan julle dit ook moontlik maak met kleiner goedkoper modelle?

Johan ·

Wat was die koste om te herlaai in Harrismith en hoe lank het dit geneem om te herlaai voordat die reis kon voortgaan?

Vraagteken ·

Ongeveer 2 ure met die ‘fast charger’. Maar omdat jy hom vinnig laai, word die afstand per laai verminder na 280km.

marco polo ·

Julle is seker nie ernstig nie? Elektriese motors in SA, waar elektrisiteitsvoorsiening afhanklik is van daardie onbevoegde, korrupte nes met die naam Escom?

Arak ·

Ek hoor van die elektriese karre, maar my vraag is, wat is die energiedigtheid van die batterye. Vir diesel is dit iets soos 48MJ/kg, en na my wete is die beste battery maar 0.9MJ/kg. So, selfs as jy aanneem dat ‘n diesel motor net 30% effektief is, sit jy steeds met 15MJ/kg. Dus het diesel eenvoudig 15x meer energie as die battery. Ja, jy kan meer battery insit, want die binnebrand enjin,tenk en ratkas is uit so die kar is ligter, maar ook net tot op ‘n punt. Ook ‘n vraag wat niemand behoorlik beantwoord nie is, wat is die gesondheidsimpak van elektriese motors. Hier sit jy langs die sterk elektriese velde vir ure aan een, en jy kan jouself nie behoorlik isoleer nie want anders raak die kar weer te swaar. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek hou van die idee, maar dit voel vir my daar is ‘n klomp komponente wat die elektriese evangeliste nie regtig oor eerlik is, of hulle weet eenvoudig nie. Vir die stad maak dit vir my baie meer sin.

Chris Ws ·

Daar word niks gepraat van wat die prys vir die Jaguar is nie.Dit sal die hele storie laat sink!Dis die probleem met enige elektriese motor – die prys sit hom bokant die vuurmaakplek van die’ motoriste wat besparingsbewus is.Die’ wat ‘n elektriese motor kan bekostig is niks gepla oor hoe brandstof pryse nie want hulle het genoeg geld.Die prys van ‘n elektriese motor is eenvoudig te hoog vir “gewone” mens en net rykes gaan daarby baat.

JWC ·

Ai tog ou maat… dis nog net ‘n foefie… ‘n rykmansfoefie! Jy noem die Leaf, die I3 Bm, jy kan nie wag om jou hande op die Jag te kry nie…. jy sê niks van die buitensporige prys wat die “eksperimente” kos nie; jy kla nie oor die paar uur wat die herlaaiperiode neem nie, jy meld nie die batteryherlaai siklus nie en sê niks oor die vervangingskoste van die batterye nie en hoe “ongroen” die bou en uiteindelike afskryf van die tegnologie is nie. Met die verfyning van die binnebrandenjin, het die wêreld net nog geen teëvoeter gevind nie. Die volgende tegnologie wat baie meer verfyn behoort te word is dieselenjins… dan sal jy ‘n ding sien! Miskien, net miskien is daar so iets op pad….

IK ·

Bring die Total besparingrit(te) terug. Dit was tog geloofwaardige toetse. Iewers moet daar ook aandag gegee word oor hoe om brandstof te bespaar soos deur meer oordeelkundig- en stadiger te bestuur asook gereelde versiening vd voertuig. Linksdraai by alle beheerde kruisings/T-aansluitings behoort ‘n toegeeteken te wees (robots ingesluit). Dis al baie jare so in Amerika.

chrisjan ·

IK ek stem met jou saam.Daai Total besparingsritte was nog iets hoor!Net vir interessantheid : ek ry ‘n 2.5 diesel dubbelkajuit ISUZU bakkie.Hy is nou 17 jaar oud.teen ‘n spoed van 110km/h (100km/h werklike spoed) kry ek 12,8 km/liter.Dit meet ek van ‘n vol brandstof tenk tot ek hom weer volmaak.Maw ek raai nie.Deur my spoed te verminder na 100km/h(92km/h werklike spoed) kry ek nou 13.2km/liter ook van vol tenk na vol tenk.Hier moet ek se dat dit deels oop teerpad en deels grondpad is wat ek ry.Ek het begin om my spoed effens stadiger te maak (90km/h=82 werklike spoe) wanneer ek dorp toe ry(24km waarvan 10 km grondpad is) en het reeds 14,6km/liter gehaal so!Wanneer ek op die teerpad is pas ek my spoed aan by voertuie wat my van agter nader sodat ek hulle nie ophou nie en verminder weer spoed sodra daar geen verkeer agter my is nie.Dit werp vrugte af glo my.So ja ,deur stadiger te ry spaar mens definitief brandstof.Ongelukkig is dit nie altyd prakties moontlik nie agv die gevaar wat dit inhou vir my en ander padgebruiker waarvan die meeste 120km/h ver oorskrei.Indien iemand dink ek oordryf is ek bereid om saam met daai persoon ‘n brandstof verbruik toets te doen.Ek sien ek ry my Isuzu vir nog 17 jaar!

Vraagteken ·

Blah blah blah… As jy die wiskunde gaan doen dan sal jy sien dat jy ongeveer 150 000 km kan ry met ekstra petrol vergelyking met die F-pace. Daar is nie ‘n manier dat so ‘n voertuig 150 000 km gaan doen nie, punt! Verder, kragstasies is baie meer ‘inefficient’ as standaard petrol engines. Dit beteken, hulle is indirek vuiler sowel as duurder.

Johanna Botha ·

Met die eskom krag sal mens dalk jou eie petrol kragopwekker moet saamry ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.