SA behaal driekuns by BMW International GS Trophy

SA het die BMW GS 2020 internasionale beker gewen. (Foto: Verskaf)

Ditsem! Drie in ’n ry! Die 2020 International GS Trophy is hierdie jaar in Nieu-Seeland aangebied en Suid-Afrika se span het weer met die louere weggestap. Suid-Afrika het dié kompetisie ook in 2016 in Thailand en in 2018 in Mongolië gewen.

Die kompetisie het begin in Rotorua op die Noordeiland. Na agt dae, en omtrent 2 500 km, het die 2020 BMW GS Trophy afgesluit by Coronet Park, Queenstown, op die Suideiland. Slegs 40% van die roete was op teerpaaie. Die res was oor berge, dale en deur woude. Nieu-Seeland is ’n skouspelagtige land en ek kan net dink watter ongelooflike ervaring dit moes gewees het.

Daar was 22 spanne wat 25 lande verteenwoordig het. ’n Paar van die vroulike spanne was saamgestel uit ryers van verskillende lande. Suid-Afrika is verteenwoordig deur Cobus Theron, BJ Vosloo en Brandon Grimsted. Die 2016 GS Trophy-wenner, Byron Coetsee, het die span as mediaskakel vergesel.

SA het die BMW GS 2020 internasionale beker gewen. (Foto: Verskaf)

BMW het besluit om hulle F 850 GS in te span vir hierdie jaar se kompetisie. Tradisioneel sou ʼn mens verwag om die 1250 te sien, maar ek glo dat BMW aan die wêreld wou wys dat die 850 net so taai is soos sy groter stalmaat.

Elke dag het verskeie trajekte en uitdagings ingesluit waarop deelnemers beoordeel is. Daarvolgens is punte toegeken. Sommer op dag een moes die ryers al die eerste rivier oorsteek. Daarna het die eerste toets gewag. Hulle moes ’n tegniese roete binne ’n sekere tyd ry, en elke keer wat die ryer sy voet neersit of omval, is punte afgetrek. Later is een ryer geblinddoek en sy spanmaats moes hom deur ’n paar hindernisse lei. Na dag een was Suid-Afrika in die sesde plek, en Suid-Korea was heel bo op die punteleer.

SA het die BMW GS 2020 internasionale beker gewen. (Foto: Verskaf)

So was elke dag se patroon: natuurskoon en tegniese uitdagings. Op die veerboot van die noordelike na die suidelike eiland was daar selfs ’n vasvrawedstryd om te bepaal hoe goed die deelnemers met die ikoniese GS bekend is. Teen dag vier het Suid-Afrika opgeskuif na die tweede plek naas Frankryk. Teen dag ses het hulle voorgeloop.

Teen die laaste dag was Suid-Afrika ’n skrale 5 punte voor die span van Italië en het hulle seker die moeilikste trajek van die kompetisie gehad wat voorlê. Die laaste uitdaging was ’n aflos waar die drie ryers na mekaar deur ’n uiters tegniese baan moes ry. Dit was uiters belangrik om nie die fiets te laat val of te stol nie, want die kleinste foutjie hier sou in trane geëindig het. Brandon Grimsted het gesê hierdie toets was die moeilikste van die hele kompetisie omdat die punteverskil so klein was. Hy besef ook wat hierdie sege vir die GS‑gemeenskap in Suid-Afrika beteken.

SA het die BMW GS 2020 internasionale beker gewen. (Foto: Verskaf)

Nadat die dag se punte bymekaar getel is, het die span van Nederland die dag oorheers en die algehele vierde plek verseker. Suid-Afrika het uiteindelik twaalf punte voor hul naaste teenstander, Frankryk, geëindig en sodoende die 2020 International GS Trophy ingepalm.

Die ongelooflike natuurskoon van Nieu-Seeland het 22 spanne bymekaar gebring onder die GS‑vaandel. Ek glo nuwe vriendskappe is gesmee en ervarings gedeel wat die ryers lank sal bybly. Tot 2022; dan doen ons dit weer.

Die finale puntestand was:

1 Suid-Afrika 394

2 Frankryk 382

3 Italië 380

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Scalla ·

Trotse Bmw GS 1200 eienaar, geluk met prestasie, nog n bewys van die beste in die mark.

Chris ·

Geluk. Dit vat amper meer as ‘n man op ‘n perd om die uitdagings en roetes te bemeester. Die fiets is ook ‘n yster. Baie goeie fiets. Een dag as ek groot is gaan ek ook vir my een koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.