SA span weer wenner by Internasionale GS Trophy

Die Internasionale GS Trophy (Foto: BMW)

Een ding is seker, ons Suid-Afrikaners weet hoe om ʼn BMW GS te ry. Die Internasionale GS Trophy word elke tweede jaar aangebied, en Suid-Afrika het die titel in 2016 verower. Vanjaar is die kompetisie in Mongolië gehou en ná agt dae en 2 350 km het Suid-Afrika weer as die wenner uit die stryd getree. Die begin- en eindpunt van die kompetisie was in Ulaanbaatar, Mongolië. Die span was Mark Dickinson, Eugene Fourie en Chris Meyer. Twee Suid-Afrikaanse vroue, Ezelda van Jaarsveld en Linda Steyn, was deel van span Eurafrika.

Teen dag sewe was span SA gemaklik voor met 43 punte, maar dag agt was nogtans ʼn moeilike dag. Die spanne het stiptelik om 07:00 weggespring en ʼn baie tegniese 300 km aangepak. Vrotpad en sand was die ryers se voorland. ʼn Paar ryers het gesukkel met hierdie deel, wat net weer bewys het dat die resies nie gewonne is voor jy die eindbestemming veilig bereik nie.

Die Internasionale GS Trophy (Foto: BMW)

By Chingisiin Khuree het die ryers die laaste hindernis, die “Monster Trial”, gekonfronteer. Hier het al drie spanlede saam die uitdagings aangepak en teen die klok gery oor verskeie banke, slote en langs ʼn gedroogde rivierbedding wat hulle vaardigheid tot die uiterste beproef het.

Daar was nog ʼn teoretiese kans dat die Franse en Amerikaanse span die Suid-Afrikaners kon verbysteek op hierdie laaste trajek, maar Span SA se samewerking en vernuf het geseëvier. Met minimale punteverlies het die span sy voorsprong behou.

Terwyl SA weer die wennerstrofee geneem het, en die VSA en Frankryk as naaswenner aangewys is, het geen GS-ryer met leë hande huis toe gegaan nie. Elke deelnemer kon die verkoelerrooster van hulle fiets huis toe vat. Hulle naam en fietsnommer is op die rooster gegrafeer. Dit sal hulle vir altyd herinner aan die agt dae in Mongolië. ʼn Wonderlike land, op die onstuitbare GS.

Die Internasionale GS Trophy (Foto: BMW)

Mark Dickinson van Span SA het afgesluit: “Dit was ʼn goeie dag vandag. Ons het so hard geoefen as wat ons kon voordat ons by die geleentheid gekom het; dit het oor die agt dae vrugte afgewerp, veral met vandag se finale toets. Ewe belangrik, ons het pret gehad en hoewel die hele BMW GS-gemeenskap soos ʼn familie is, het ons ʼn paar baie goeie vriende gemaak terwyl ons hier was. Dit eindig egter nie hier nie. Ons het die hele week kontakbesonderhede uitgeruil en ek weet ons sal in die komende jare kontak behou. Ons het almal hierdie spesiale ervaring gedeel en dit het ʼn band tussen ons geskep. Dit was ʼn wonderlike gebeurtenis, en om weer te wen maak dit perfek.”

BMW Motorrad Internasionale GS Trophy 2018

Finale puntestand:

1. Suid-Afrika 338
2. VSA 286
3. Frankryk 284
4. Latyns-Amerika 246
5. Mexiko 236
6. Korea 221
7. Engeland  196
8. Duitsland 193
9. Rusland 171
10. Australië 170
11. Argentinië 162
12. Suidoos-Asië 155
13. China 144
14. Kanada 137
15. Ausamerika (vrouespan) 125
16. Japan 122
17. Eurafrika (vrouespan) 116
18. Indië 113

Vir meer inligting gaan gerus na www.gstrophy.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tienie ·

Baie geluk aan die SA span .
wat is n “vrotpad” hoekom nie net “grondpad”

Johan ·

Wil maroelamedia net bewus maak dat hulle een van GS trophy lede se naam nie ingesit het nie en dis Stefan Boshoff, Stefan was ook die lid in die groep wat ons op FB op hoogte gehou het

Brian Cheyne ·

Dankie Johan. Stefan het saamgery as die span se joernalis en fotograaf, maar elke span het net uit drie lede bestaan. Dit was Stefan se werk om julle op hoogte te hou!

Rikus ·

Ek wens Mongolië het ‘n ambassade in SA gehad. Dis nou een land waarheen ek bitter graag wil gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.