Ses sitplekke die oplossing

Foto: Verskaf

Ek het ʼn ruk gelede ʼn week met ʼn fantastiese voertuig deurgebring. Ek dink ek is verlief op die enjin meer as enigiets anders. Maar eers – ek dink BMW het die perfekte oplossing vir dié korona-storie. ʼn Groot sportnutsvoertuig met ses sitplekke. Twee voor, twee in die middel en twee heel agter. Almal ʼn entjie uit mekaar gespasieer. Lekker.

Ek praat hier van BMW se X7. Die ontwerp ontlok uiteenlopende menings. Ek persoonlik dink dis fantasties. Ja, die nier-sierrooster is te groot – maar dit pas by die imposante ontwerp. Dis nie veronderstel om teruggetrokke te wees nie; dít is BMW se vlagskip-sportnuts – en dit moet só lyk. Al lyk die X7 reusagtig, voel hy wel geensins groter as ʼn X5 op die pad nie.

Die binneruim is waar dinge ultraluuks raak. Die X7 op toets is die M50d met die opsionele ses sitplekke. Die gewone model kom met sewe sitplekke in ʼn konfigurasie van twee, drie, twee – maar in die sessitplekmodel is dit twee, twee, twee. Die tweede ry kry dan elektries verstelbare luukse rusbanke in plaas van gewone sitplekke – skerms, oorfone en al. Dié opsie is beslis meer vir die kliënt wat gechauffeur word as een wat self ry.

Die binneruim is gepeper met elke denkbare luuksheid, verhitte en verkoelde sitplekke, klimaatbeheer, aanpasbare spoedkontrole met botsingwaarskuwing en baanbeheer, kop op vertoon (HUD) … de lot. Die Bowers & Wilkins-klankstelsel gepaard met Apple CarPlay maak die X7 ʼn fantastiese plek om te ontspan, die rit te geniet en na jou gunstelingmusiek kliphard te luister.

Foto: Verskaf

Dit bring my by een van BMW se huidige juwele. Die enjin. Dit is BMW se 3.0-inlynsessilinderturbodiesel. Maar met vier turbo’s. VIER! Dit is eerder ʼn kragstasie as ʼn kragbron. Die enjin bied 294 kW en 760 Nm. O ja, 0-100 km/h duur ʼn skamele 5,4 sekondes en die X7 is beperk tot ʼn fantastiese 250 km/h. Nou kyk, die X7 weeg 2 535 kg sonder brandstof óf passasiers. Kom ons noem dit ʼn ronde 2 750 kg. ʼn Sportnuts van twee en ʼn driekwart ton wat vinniger 100 km/h haal as Magnum se Ferrari.

Die krag en spoed is wel nie die M50d se enigste troefkaart nie. Daarvan kan ek getuig in my week wat ek met die X7 deurgebring het. As ʼn mens rustig ry op die snelweg, 120 km/h op die spoedkontrole, gee hy 6.3 ℓ/100 km. Dis puik. Dan, as ʼn mens soos ʼn barbaar ry en die X7 misbruik as sportmotor, styg die brandstofverbruik na 11.7 ℓ/100 km. Daar is bitter min voertuie wat daai veelsydigheid kan bied.

Op die pad verbaas die X7 verder. Daar is so te sê geen geraas, vibrasie en hardheid (NVH: noise, vibration and harshness) nie. Die kajuit is puik geïsoleer. Die X7 maak gebruik van lugvering en loop op fantastiese 22”-wiele. Dit sou gewoonlik ʼn resep vir ʼn ramp wees. Lugvering en groot wiele kan gereeld baie lomp voel – nie op die X7 nie. Bitter min van die stamp weens die laeprofielbande dring deur tot in die kajuit. Nog ʼn aspek waar BMW die haas uit die hoed getrek het, is in die padhouvermoë-afdeling. ʼn Sportnuts van amper drie ton het geen rede om só goed te hanteer nie.

Foto: Verskaf

Ek het nou al twee keer tyd met ʼn M50d deurgebring. Verlede jaar het ek Paasnaweek my woonwa met ʼn X5 M50d gesleep en my vrou is nou nog verlief. Die M50d-enjin vat ʼn puik produk, en maak dit asemrowend. ʼn Mens hoef nie die krag te gebruik nie – maar dis daar. Dit is ook een van die enigste dieselenjins wat ʼn puik klankbaan kan bied. Kyk, die X7 is oortolligheid op sy beste, maar as ek in dié prysklas gespeel het, sou hy beslis op my kortlys gewees het … spesifiek ʼn wit X7 M50d, met 22”-wiele, dankie.

Die reeks lyk só:

BMW X7 xDrive30d195 kW/620 Nm7 ℓ/100 kmR1 607 558
BMW X7 xDrive30d Design Pure Excellence195 kW/620 Nm7 ℓ/100 kmR1 650 658
BMW X7 xDrive30d M Sport195 kW/620 Nm7 ℓ/100 kmR1 676 558
BMW X7 M50d294 kW/760 Nm7.3 ℓ/100 kmR1 908 386
BMW X7 M50i390 kW/750 Nm11.6 ℓ/100 kmR1 918 460

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Volvo XC90 T8 Twin Engine AWD Inscription300 kW/640 Nm + elektries2.1 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 276 200
Toyota Land Cruiser 200 4.5D-4D V8 VX-R195 kW/650 Nm10.2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

90 000 km-diensplan

R1 510 100
Mercedes-Benz GLS400d 4Matic243 kW/700 Nm7.9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 621 840
Range Rover Vogue SDV8250 kW/740 Nm8.7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R2 212 392

Tussen dié mededingers is dit slegs die Volvo XC60 wat ʼn sessitplekopsie bied. Dit is ook die Volvo wat geensins naby sy beweerde brandstofverbruiksyfer kan kom wat in ʼn laboratorium bereik is met sy hibridiese dryfstelsel nie. Die Range Rover bied slegs vyf sitplekke, en vier in hul luuksste modelle. In dié prysklas is die meeste motors fantasties – maar as dit my geld was, sou ek nie sonder daai M50d kon leef nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos10 ·

Brendon, jy moet maar nou koop, want na die lockdown gaan hy nog duurder word!

Dis werklik ‘n masjien duisend, MAAR na net 1 jaar sal die wa se waarde (met 20% waarde vermindering) net R1286046.00 wees en siende dat dit ‘n BMW is kan dit nog meer wees, en dis baie geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.