Sleeptoets: Bus bied plek vir die hele gesin én meer

Die Hyundai H1. Foto: Brendon Staniforth

Ek was nou al bevoorreg om met ʼn hele klompie karre my woonwa te kon sleep. Sover sleep busse en bakkies vir my die lekkerste. Bakkies vir hul harde vering en busse vir hul reusagtige pakplek en aptyt vir passasiers. Die H1 kan nege mense insluk.

Ons het al voorheen met die H1 gesleep, toe was hy nog splinternuut. Ons het nou weer met daai einste bus gesleep, maar hy’t nou darem 13 000 km op die “klok”. Die enjin en ratkas het nou al lekker tyd gehad om in te loop – en die resultaat is indrukwekkend. Die H1 het nie die jongste tegnologie kleinkapasiteitenjin met ʼn tienspoedratkas nie, eerder ʼn doodgewone 2.5 viersilinderturbodiesel gepaard aan ʼn 5-spoed outokas.

Die Hyundai H1. Foto: Verskaf

Dit maak nie van die H1 ʼn renmotor nie, maar ʼn lieflike sleepvoertuig. Die enjin bied 125 kW/ 441 Nm wringkrag. Dit is oorgenoeg om enige wa te trek. Hyundai se spesifikasie sê dat die maksimum sleepkapasiteit van die H1 slegs 1.5 ton is.

Die binneruim het regtig baie spasie en voel oop en gemaklik. Die sitplekke kan lekker stel dat almal gemaklik is, al sit hulle in die tweede en derde ry. Een opknapping wat ek graag wil sien in die H1 is driepuntgordels vir die middelste passasiers voor asook in die tweede en derde rye. ʼn Reuse-pluspunt van die H1 is die enorme kattebak.

Die Hyundai H1. Foto: Verskaf

Die Hyundai het nege sitplekke én ʼn kattebak. VW se direkte mededinger, die 2.0 TDI Kombi LWB Comfortline outo het slegs agt sitplekke, minder krag en is voorwielaangedrewe – nie ideaal vir sleep nie.

Die nuwe gesig van die H1 is heelwat ʼn verbetering oor die vorige model. Verder kan ʼn bus nie regtig veel vernuwe word nie – by ʼn bus is dit meer funksie eerste, dán vorm.

Die Hyundai H1. Foto: Verskaf

Hyundai het ʼn nuwer inligtingstelsel tot hul beskikking met CarPlay en Android Auto – daai is ook iets wat ek graag in die H1 sal wil sien, verder kan hy net so bly.

Die H1 se ritgehalte is verwarrend. Die bus ry regtig lekker, én sy padhouvermoë is nie te versmaai nie – ek weet nie hoe Hyundai se ingenieurs dit regkry nie. Vir groter gesinne wat moet sleep – behalwe vir Merc se V-klas is die res van die busse voorwielaangedrewe. Die V-klas kos ook nader aan ʼn R1m. Die Caravelle het vierwielaandrywing – maar dán slegs sewe sitplekke en amper geen kattebak nie. Wat waarde vir geld betref – sien ek nie hoe ʼn mens beter kan koop as die Hyundai H1 nie.

Die reeks lyk só:

Model Krag Brandstof-verbruik Prys
Hyundai H1 2.5CRDi paneelwa 125 kW/ 441 Nm 9.8 ℓ/100 km R469 900
Hyundai H1 2.4 bus Executive 126 kW/ 224 Nm 10.2 ℓ/100 km R519 900
Hyundai H1 2.5CRDi Multicab 125 kW/ 441 Nm 9.8 ℓ/100 km R544 900
Hyundai H1 2.5CRDi bus Elite 125 kW/ 441 Nm 9.8 ℓ/100 km R644 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/ 150 000km voertuigwaarborg en 7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg asook ʼn 5 jaar/ 90 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Model Krag Brandstof-verbruik Sleep-kapasiteit Waarborg Prys
Ford Tourneo Custom 2.2TDCi LWB Trend 92 kW/ 350 Nm 6.5 ℓ/100 km 1 600 kg 4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R567 300
Volkswagen Kombi 2.0BiTDI LWB Comfortline outo 103 kW/ 340 Nm 8.0 ℓ/100 km 2 500 kg 3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 60 000 km omvattende instandhoudingsplan

R702 200
Mercedes-Benz V250d 140 kW/ 440 Nm 6.0 ℓ/100 km 2 000 kg 2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R996 535

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.