Sleeptoets: Die meester…

Die Hyundai H1. Foto: Verskaf

Die perfekte motor is amper ʼn mite. Daar bestaan nie so iets nie – of tog wel?

Ek beskou die beoordeling van sleepmotors as bloot relatief. Die meeste manne sal vir jou sê hulle ryding sleep die lekkerste om watter rede ook al. Ek’t nou al met verskeie voertuigsoorte gesleep. Klein sportnutse, groot sportnutse, klein bussies, groot bussies en bakkies. Handrat en outomaties, de lot. Amper elkeen kort iets en daar is altyd iets wat verbeter kan word.

Ons is ʼn gesin van vyf: ek en my vrou – en drie kleintjies. Hulle is onderskeidelik vyf, sewe en nege jaar oud. My vrou hou van gerieflik kampeer. Ek sou nog nie heeltemal sê sy wil glamp nie, maar amper. Dit beteken dat daar goetertjies gepak moet word. Swaar goed. Kan jy lees hoe rol my oë? Gelukkig vir my begin my vrou nou oor die pakkerasies kom, sy wil net die rally inpak, en dis dít. Ek raak skoon opgewonde.

Met die wintervakansie het ons vir sewe nagte by ATKV Eiland Spa gaan kampeer. Dit is 413 km van my huis af deur Polokwane, Morea, af met Magoebaskloof tot in Tzaneen – dan rigting Phalaborwa voor jy uiteindelik wegdraai Letsitele toe. Die Hans Merensky-reservaat is lieflik warm en dis hoekom ons elke jaar daar gaan wegkruip vir die koue.

Die Hyundai H1. Foto: Verskaf

ʼn Pel het saamgesleep dié jaar met ʼn Lexus RX350 en ʼn Gypsey Romany met ʼn Nomad-ombouing. Dié pel het swaar voete, so ek was aanvanklik bietjie benoud oor hoe vinnig hy by Eiland sou wou uitkom, maar gelukkig het hy meestal agter my gery, en ʼn konstante 120 km/h is in die spoedbeheer geprogrammeer.

Die H1 se aanboordrekenaar dui nie jou brandstofverbruik aan nie, net ʼn reikafstand. As my sommetjies reg is, dan het ek met die soontoe en terug Pretoria toe so 13,8 ℓ/100 km of 7,2 km/ℓ gehandhaaf. Dit is presies wat ek met die V6 Amarok verlede jaar gekry het – met dieselfde woonwa en dieselfde spoed op dié einste roete.

Daar is wel een groot verskil tussen die H1 en al die ander voertuie waarmee ek al gesleep het. Die woonwa kruip mooi agter die H1 weg, so die windweerstand voel nie so erg soos met kleiner voertuie nie. Die H1 trek soos ʼn trein met 125 kW en 441 Nm van sy 2.5-viersilinderturbodieselenjin. Die H1 het ʼn 5-spoed- outomatiese ratkas wat lieflik werk met sleep. Die enjin luier teen 2 500 r/min by 120 km/h. Toe ek Magoebaskloof uitklim, het ek die ratkas in tweede gesit en lieflik die pas teen so 60 km/h uitgeklim, sonder probleme.

Die Hyundai H1. Foto: Verskaf

Die H1 se remstelsel voel veral sterk as ʼn mens sleep en Hyundai het die vering puik gekalibreer. Daar is bitter min bakrol en die woonwa stoot en trek amper glad nie aan die bus nie. Die agterste vering is nie uitermatig hard nie, maar die woonwa druk hom ook nie plat nie – ʼn goeie kompromis. Die H1 het ʼn reusekattebak. So, vir die dinge waarvoor ʼn mens nie in die woonwa plek het, óf wil laai nie, is daar darem genoeg plek in die kattebak. Albei deure het lang gleuwe waar die kinders al hul fone, tablette, oorfone en so meer kan bêre sonder om ma en pa te pla.

As sleepmotor is dit bitter moeilik om beter te kry as die H1 as ʼn mens met ʼn bus wil sleep. Ek hou van hoe die sitplekmeganismes werk en die ruimte. Die ander busse soos VW se Kombi is slegs voorwielaangedrewe, nes Ford se Tourneo Custom. Die Ford se krag is ook maar min met 92 kW en 350 Nm.

Die Kombi wat naby kom in terme van krag is die BiTDI, maar dit is slegs beskikbaar in ʼn kort asafstand, dán is die kattebak bitter klein. Mercedes-Benz se V250d het dieselfde soort krag met 140 kW en 440 Nm, én is agterwielaangedrewe, lekker vir sleep – maar hy kos R950 000. VW se Caravelle het weer vierwielaandrywing, maar slegs in kortasafstand, so ʼn klein kattebak – en die vierwielaandrywing is nie permanent nie – dit trek meestal net op die voorwiele.

My ondervinding met my eie voertuig en voorwielaandrywing wat sleep betref, is dat die lewensduur van die bande drasties verminder word. As jy klein bultjies op grond of gras moet klim met die wa kan dit nogal glibberig raak.

Is daar enige foute met die H1? Hm … dalk net een. Ek sou graag ʼn beter klankstelsel wou hê, maar dit sou ʼn mens self kon installeer. Andersins? Nee, niks. Vir die prys van die H1, as jy ʼn 4×4 wil saamvat, kan jy die H1 én ʼn Suzuki Jimny koop vir die geld van ʼn Caravelle 4Motion. Dan spaar ʼn mens die groot voertuig, en gaan foeter die kleintjie op in die bosse en duine.

Die H1 is ʼn lieflike voertuig, en sleep soos ʼn meester. Al probleem is, nou wil my vrou éérs een van haar eie hê.

Die reeks lyk só:

Hyundai H1 2.5CRDi paneelwa125 kW/441 Nm9.8 ℓ/100 kmR459 900
Hyundai H1 2.4 bus Executive126 kW/224 Nm10.2 ℓ/100 kmR499 900
Hyundai H1 2.5CRDi bus Elite125 kW/441 Nm9.8 ℓ/100 kmR629 900

Die reeks word gedek deur Hyundai se 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg asook ʼn 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.2TDCi LWB Trend92 kW/

350 Nm

6.5 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R547 300
Volkswagen Kombi 2.0BiTDI SWB Comfortline outo132 kW/ 400 Nm8.1 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/60 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R703 400
Mercedes-Benz V250d140 kW/ 440 Nm6.0 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km- waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R953 827

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vraagteken ·

Waar is die dae wat mense met ‘n groot sedan gesleep het? ‘N sedan sal, op papier, een van die beste voertuie wees om ‘n karavaan mee te sleep. Sy ‘centre of gravity is laag, en die sleeptang (hak) is dieselfde hoogte as die karavaan (geen drop plate is nodig nie).

Het julle al ooit met ‘n Lumina gesleep. Kom ek sê vir, geen bakkie of sportnutsvoertuig is so goed of lekker om mee te sleep nie. In vergelyking met die H1 is die brandstofverbruik glad nie sleg nie (ongeveer 15L/100km) – dit is omdat die engine glad nie hard werk nie.

Iets om oor te dink.

Mrs H ·

Hyundai Santa Fé CRDi, bly my groot gunstelling. Noem haar my “momny-van”. Gaan beslis die H1 toets bestuur, dis pragtig! Maar ek glo dat ek tien teen een die Santa Fé gaan hou, en die H1 ook gaan wil he! Lol

Robert ·

Alles goed en wel maar nêrens in die berig word genoem watter tipe karavaan jy gesleep het jy praat net van jou pêl s’n?

Brendon ·

Dagsê Robert,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek vra om verskoning. Ek sleep ‘n 1992 Sprite SuperSport.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Bernard Hellberg ·

Stem saam, Brendon. Ons het verlede jaar ‘n naweek-gesinsuitstappie (ses volwassenes en ‘n vyfjarige) aangepak (sonder sleep). Almal en alles (self spyseniering) het goed ingepas en die Pta-Nelspruit-Pta rit het op 8.7 liter/100 km uitgewerk. BAIE beter as die opposisie met beste waarborg en prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.