Sleeptoets: ʼn Vergete juweel?

Die Subaru Forester. Foto: Verskaf

Die mediumgrootte sportnutsmark is besig om uit sy nate te bars. Daar word baie minder sedanmotors verkoop as die meer gewilde sportnutse. Mens se aandag word weekliks heen en weer getrek na die volgende nuutste, groter, luukser of mooier model. Ek self is skuldig hieraan. Ek het wel onlangs ʼn beurt gehad om weer een van die eerste kompakte sportnutse te ry … die Subaru Forester.

Ek praat hier spesifiek van allewielaangedrewe sportnutsvoertuie, nie voorwielaangedrewe kruismodelle nie. Subaru het vanjaar vir Audi verbygesteek as die grootste allewielaandrywing-vervaardiger. Dit sal te danke wees aan die reuse- Amerikaanse mark. Vir ʼn handelsmerk wat in Suid-Afrika nie ʼn groot markaandeel het nie is dit vreemd om te dink hoe groot hulle elders in die wêreld is. Allewielaandrywing is nie in Suid-Afrika ʼn groot vereiste nie, weens ons heerlike sonnige weer en die tekort aan sneeu en ys.

Hoekom allewielaandrywing? Twee redes. Hulle het gewoonlik ʼn beter grondvryhoogte – 220 mm op die Forester om presies te wees. Dit is meer as sy direkte mededingers. So indien mens versigtig is sal daar min plekke behalwe ʼn hindernisbaan wees waar jy nie sal kan ry nie. Die ander rede is traksie.

Die Subaru Forester. Foto: Verskaf

My persoonlike sleepmotor is voorwielaangedrewe en as mens ʼn slegte bultjie vang op modder of nat gras het jy geen hoop nie. Die ander probleem wat ek gevind om met ʼn voorwielaangedrewe voertuig te sleep is dat die voorste bande verskriklik hard moet werk en dus kry mens skrikwekkend min kilometer op ʼn stel bande.

Die Forester is heel netjies en sy bougehalte indrukwekkend. Die binneruim is baie meer luuks as wat ek kan onthou van ouer Subaru’s. Die spesifikasievlak is heel indrukwekkend. Daar is ʼn groot sondak, elektriesverstelbare sitplekke, outomatiese ligte en ruitveërs, Bluetooth, klimaat- en spoedbeheer en ʼn lekker Harman Kardon-klankstelsel. Die nuwe sitplekke is uiters gemaklik en mens raak vinnig gemaklik.

Ek het so agt jaar terug ʼn Forester gery, en een ding wat ek kan onthou is dat hy swaar was op brandstof. Gelukkig is die 2.5-bokserenjin opgeknap en geniet nou direkte brandstofinspuiting. Dit bied baie beter wringkragsyfers en heel belangrikste, baie beter brandstofverbruik. Die enjin bied 126 kW teen 5 800 r/min en 235 Nm teen 4 100 r/min. Ons het 10,2 ℓ/100 km behaal met die woonwa gehaak vanaf Weesgerus terug Pretoria toe. Ek het die 124 km teen 100 km/h aangedurf en die weer het mooi saamgewerk, daar was ook geen wind om van te praat nie – maar die brandstofverbruiksyfer in ʼn outomatiese, allewielaangedrewe sportnuts is indrukwekkend.

Die Subaru Forester. Foto: Verskaf

Ek moet weer my hoed eet. Ek het nog altyd gesê ek kan nie sien hoe ʼn palwisseltransmissie (CVT) lekker sal kan sleep nie, maar die realiteit daarvan is dat dit heerlik sleep. Daar is geen ratte nie, so ʼn mens kry die gelykmatigste versnelling denkbaar, en indien jy krag nodig het sit jy net voet in die hoek en die ratkas laat die toere klim tot by die wringkragpiek en hou dit daar. Subaru is ook tans die enigste vervaardiger wat die palwisseltransmissie bemeester het in my opinie. As jy rustig ry versnel hy seepglad teen lae toere. As jy haastig raak is die ratkas geprogrammeer om gewone ratwisselings na te aap.

Die Subaru is baie goed geveer. Die ritgehalte is soepel sonder enige wilde bakrol. Die “symmetrical all wheel drive” verseker dat jy altyd goeie traksie het. Ek moet sê, die Forester het my verskriklik beïndruk. Dit is mooi, luuks binne, uiters gemaklik, sterk genoeg, het lekker grondvryhoogte en ʼn wêreldberoemde allewielaandrywingstelsel. As mens kyk na die 2.0-intreemodel is dit die tweede-goedkoopste allewielaangedrewe sportnuts tans beskikbaar in Suid-Afrika. Sjoe…

Die reeks lyk só:

Forester 2.0 X110kW/ 198Nm7.2ℓ/100kmR395 000
Forester 2.5 X126kW/ 235Nm8.1ℓ/100kmR435 000
Forester 2.5 XS126kW/ 235Nm8.1ℓ/100kmR479 000
Forester 2.5 XS Premium126kW/ 235Nm8.1ℓ/100kmR539 000
Forester 2.0 XT177kW/ 350Nm8.5ℓ/100kmR605 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 150 000 km waarborg en 3 jaar/ 75 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Grand Vitara 2.4 Summit outo122kW/ 225Nm9.9ℓ/100km5 jaar/ 200 000km waarborg

6 jaar/ 90 000km diensplan

R466 900
Nissan X-trail 2.5 4×4 tekna126kW/ 233Nm8.3ℓ/100km6 jaar/ 150 000km waarborg

3 jaar/ 90 000km diensplan

R469 900
Toyota Rav4 2.5 AWD VX132kW/ 233Nm8.5ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R518 200

ʼn Mens moet wel in ag neem dat die Suzuki Grand Vitara laestrek het, so dit is ʼn meer bekwame voertuig as die ander in dié klas. Hy is wel nou die oudste tussen die mededingers. Ek het ook net die atmosferiese enjins teen mekaar vergelyk en nie die turbo-petrol- of dieselmodelle ingesluit in die vergelyking nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Harambe ·

Die XT is natuurlik ‘n juweel van ‘n motor. Wat bitter min mense weet is dat hy dieselfde enjin en ratkas as die Impreza WRX het. So as jy verrigting soek, maar nie soos ‘n tang wil lyk nie, kry vir jou ‘n XT.

TANG ·

Ek kan nie verstaan hoekom jy sê dat ‘n Impreza WRX jou soos ‘n tang sal laat lyk nie. Dalk is jy net te oud en suur om te kwalifiseer vir hul teikenmark. Ek is die trotse eienaar van ‘n WRX STI, die een met die groot “bootspoiler”, hy het ook “Stickers” op en maak so BWAAAAAA, SHHH.

Subaru BESOTE ·

Uiteindelik sien ek ‘n artikel oor Subaru op Maroela. Ons besit self twee Subaru’s, ‘n 2006 Forester X en 2016 Outback. Ons sal nie weer ander make van karre ry nie. Ons ry al 8 jaar Subaru’s. Ons gaan gereeld met Subaru Johannesburg na Bass Lake vir 4 x 4 pret. Soveel mense staan verbaas om te kan sien hoe gemaklik die Forester, XV en Outback oor, deur en om die hindernisse gaan. Die karre is ongelooflik veilig ook. Dankie vir die berig Maroela.

Paul ·

Subaru het inderdaad die beste AWD-stelsel van enige van die “soft roaders” – so goed dat die karre dikwels beter doen as sommige hardebaard 4×4 voertuie.
Subaru se AWD stelsel is een van die enigstes wat basies 100% van die enjin se krag op enige tydstip na slegs een wiel kan stuur. So selfs al spin drie van die wiele in die sand of modder of in die lug of op die ys, kan die kar steeds beweeg. Meeste van die ander “soft roaders” soos die Audi Q-reeks of die VW, Toyota of Honda karre met vierwielaandrywing kan slegs 50% of minder van die krag na een wiel stuur, wat dikwels nie genoeg is om die kar uit die moeilikheid uit te kan beweeg nie.

Subaru BESOTE ·

Paul, dis waar wat jy se. Het dit al paar keer self ervaar. Ongelooflike karre die.

Paul ·

Ja nee, hoekom die Forester, veral teen slegs R400 000, nie beter verkoop nie, weet nugter alleen!
En ja, soos Harambe sê, die XT het dieselfde enjin as die WRX. Hy gaan natuurlik nie so vinnig soos die WRX om draaie gaan nie, maar by ‘n verkeerslig kan jy jong laaities in GTIs en dergelike karretjies lekker laat skrik!

Nell ·

Ek stel belang in Subaru, huidige eienaars hoe vergelyk hul dienste met ander frabikate se dienste. Ek ry tans ‘n Volkswagen Jetta.

Paul ·

Bedoel jy die diensintervalle?

Soos jy kan sien in die berig, kom alle nuwe Subarus met ‘n 3 jaar of 75 000 kilometer diensplan wat alle dienste asook enige normale “wear and tear” insluit.

Sover ek weet, beveel Subaru steeds aan dat hul karre elke ongeveer 10 000 kilometer gediens word.
Dis in elk geval ‘n goeie idee om dit te doen – die vervaardigers wat belaglike lang intervalle soos elke 25 000 kilometer aanbeveel, soek moeilikheid.

Jaco Weber ·

Dienste en veral onderdele is beslis goedkoper as VW s’n, dit kan ek jou verseker. Ek het nou my vyfde Subaru
in ‘n ry (twee Forresters en drie Outbacks) en my totale “cost of ownership” is heeltemal laer as my buurman se Tiguan OF my skoonseun se RAV. Ek praat nie eers vd Koreane nie.

Subaru BESOTE ·

Hi Nell. Subaru JHB het tanse hulle jaar eind demo uitverkope. Johannesburg is by ver die beste tak. Pedro as ek reg verstaan is die Dealer Principle, van die verkoops mense is William en Pieter, het twee karre self deur Pieter verkoop.

Rupert Ashford ·

Slegs vergete vir ouens wat net goeie goed oor Toyota kan skryf en alle voertuig evaluasies afsluit deur te wys hoe dit afsteek teen ‘n Toyota. Hoe mis ek vir Egmont Sippel.

Basson ·

Het jou ‘Totale Koste van Eienskap’ toekomstige inruil ingesluit?

Bv, ek sien mens kan 2017 XV’s met <3k km optel vir < R320k?

Marcel ·

Ek is redelik seker die Rav het ‘n 2.2 diesel engine in, ek dink nie Toyota het daai pap 2.5 diesel wat in die Hilux was ooit weer iewers gebruik nie.

Rupert Ashford ·

Geen lees weer. Hy se hy vergelyk atmosferiese enjinmodelle en het nie turbo petrol of diesel enjins in aggeneem nie. So daai is volgens die skrywer die Toyota met die 2.5 petrol.

Anton ·

Ek hou baie van die Forester, al wat my stop om een te koop is die klein hoeveelheid Subaru agentskappe in Suid-Afrika. Laat mens wonder of hulle nie ook skielik uit die land kan ontrek nie aangesien hulle so klein is?

Duys Man ·

Subaru is uitstekende karre en verdien om baie meer te verkoop.
Het ‘n 2016 Outback 3.6 en dis ‘n juweel. Ry ook basies enige plek waar ek wil so hoef glad nie terug te staan vir enige sportnuts voertuie nie.
O ja – diens intervalle is elke 15,000km vir alle petrol enjins.

Barries ·

Ek het self 3 Subaru’s besit. Forester XS. 4-spoed outomaties. Hopelose ratkas. Toe ‘n Forester XT. Fantasties, maar brandstof verbruik baie hoog. Toe 3.6 Outback. Een van die beste motors wat ek ooit besit het. Spasie, krag, alles was daar. Toe dit kom by vervang en ek sien daar is net CVT ratkaste + die bitter min handelaars, toe beweeg ek maar weer Duits!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.