Sleeptoets: Wildtrak die meester

Foto: Brendon Staniforth

Ek is bevoorreg om my woonwa nou al met ʼn hele verskeidenheid voertuie te gesleep het. My gunsteling is bakkies en bussies. Hulle bied vir my die beste balans tussen spasie en vermoë. Ek hou daarvan om met toetsmotors die karavaan eers sonder ʼn stabiliseerder te sleep om te voel hoe hy hom gedra.

Ek het die Sprite onlangs Dube toe gesleep met ʼn Ford Ranger 3.2 Wildtrak 4×4 outo. Dit was vir my ʼn goeie toets, want ek is nie die Ranger se grootste liefhebber nie. Die ratverhoudings pla my. Daar is ʼn baie kort eerste en tweede rat, dan ʼn reuse‑gaping vir derde. Daai gaping as mens sleep met die 2.2 word éérs beklemtoon. Ek sal sê dat die 3.2 dit baie beter baasraak, maar daai gaping is steeds daar.

Die Wildtrak is tóg ʼn bitter mooi bakkie. Ek sou nie dié kleur koop nie – maar dis net persoonlike smaak. Ander is gek oor die oranje. Die Wildtrak se binneruim is vir my tans die beste binneruim onder die leefstylbakkies. Ek praat nou van luukse dubbelkajuitbakkies, nie werkesels nie. Die Wildtrak het elektries verstelbare sitplekke voor, ʼn leerbedekte paneelbord met mooi aluminium insetsels en ʼn lekker klankstelsel met Android Auto en Apple CarPlay.

Foto: Verskaf

Aan die veiligheidskant is daar radarbeheerde spoedbeheer wat puik werk as mens lang afstande sleep. Stel die spoedbeheer om 110 km/h en hy sal self die spoed verminder as daar ʼn voertuig voor ʼn mens te stadig ry, dan sal hy ʼn veilige drie sekonde gaping los. Die truratkamera werk ook puik as mens die wa wil hak. ʼn Mens kan presies sien waar die stang is as jy terugstoot.

Die reling en bakseiltjie op die Wildtrak is nóg ʼn goeie funksie. Dit seël mooi en kan nie oopgemaak word sonder dat die agterste flap oop is nie. Die flap sluit oop en toe saam met die sentrale sluitstelsel van die bakkie – ʼn groot pluspunt vir my. Die bak bly droog al reën dit taamlik hard.

Foto: Verskaf

Dan kom ons by die Ranger se beste eienskap. Sy sleepvermoë. Die Ranger mag 3.5 ton sleep. Nie net is sy masjien lekker sterk met 147 kW en 470 Nm nie, maar die samestelling van sy agterste ewenaar, vering, die tipe sleepstang en waar hy monteer, asook die voertuig se elektroniese sleepwahulp en teenswaaibeheer werk fantasties. My Sprite het sonder ʼn stabiliseerder nie een keer enigsins geswaai agter die voertuig nie, al gaan groot lorries van voor af by my verby.

Dit is ook nie te danke aan hoe die wa gepak is nie, ek’t hom gepak soos ek hom altyd pak, en met die meeste ander sleepmotors sal hy een wiggie gee, dan raak hy weer rustig. Hoe presies Ford dit reggekry het, sal net hulle weet, maar Ford sê dis ʼn kombinasie van die verskillende elemente soos bo genoem wat die resultaat moontlik maak.

Foto: Verskaf

Daar kom binnekort ʼn nuwe Ranger met ʼn 10-spoed outomatiese ratkas. Al wat ek hoop is dat hulle nie aan die agterste vering karring nie. Tot dusver is die Ranger Wildtrak die mees bekwame sleepmotor waarmee ek al die plesier gehad het om my woonwa te sleep. Daar is ander waarvan die  enjins sterker is – maar nie een sleep so rustig nie. Ons sleep Junie met die nuwe Ranger. Ek kan nie wag nie.

Die reeks lyk só:

Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider88 kW/285 Nm6.9 ℓ/100 kmR341 900
Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XL118 kW/385 Nm6.9 ℓ/100 kmR372 900
Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XL outo118 kW/385 Nm7.5 ℓ/100 kmR418 300
Ranger 2.2 dubbelkajuit 4×4 XL118 kW/385 Nm6.9 ℓ/100 kmR445 500
Ranger 2.2 dubbelkajuit 4×4 XL Plus118 kW/385 Nm6.9 ℓ/100 kmR460 600
Ranger 2.2 dubbelkajuit 4×4 XL outo118 kW/385 Nm8.1 ℓ/100 kmR460 800
Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT118 kW/385 Nm6.9 ℓ/100 kmR491 990
Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT outo118 kW/ 385 Nm7.5 ℓ/ 100 kmR507 100
Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT FX4118 kW/385 Nm6.9 ℓ/100 kmR508 270
Ranger 2.2 dubbelkajuit HiRider XLT FX4 outo118 kW/ 385 Nm7.5 ℓ/ 100 kmR523 380
Ranger 2.2 dubbelkajuit 4×4 XLS outo118 kW/385 Nm8.1 ℓ/100 kmR544 700
Ranger 3.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT147 kW/470 Nm8.2 ℓ/100 kmR549 900
Ranger 3.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT outo147 kW/470 Nm8.5 ℓ/100 kmR565 500
Ranger 3.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT FX4147 kW/470 Nm8.2 ℓ/100 kmR566 180
Ranger 3.2 dubbelkajuit Hi-Rider XLT FX4 outo147 kW/470 Nm8.5 ℓ/100 kmR581 780
Ranger 3.2 dubbelkajuit Hi-Rider Wildtrak outo147 kW/470 Nm8.5 ℓ/100 kmR596 500
Ranger 3.2 dubbelkajuit 4×4 XLT outo147 kW/470 Nm9 ℓ/100 kmR625 500
Ranger 3.2 dubbelkajuit 4×4 XLT FX4 outo147 kW/470 Nm9 ℓ/100 kmR641 780
Ranger 3.2 dubbelkajuit 4×4 Wildtrak outo147 kW/470 Nm9 ℓ/100 kmR655 900

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km‑waarborg en 6 jaar/90 000 km‑diensplan. Die 4×2‑modelle mag 2.5 ton sleep en 4×4‑modelle 3.5 ton.

Die kompetisie lyk só:

Isuzu D-Max 3.0 TD dubbelkajuit 4×4 LX outo130 kw/380 Nm7.8 ℓ/100 km2.9 ton5 jaar/120 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R615 500
Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 LE outo140 kW/450 Nm7 ℓ/100 km3.5 ton6 jaar/150 000 km‑waarborg

3 jaar/90 000 km‑diensplan

R647 500
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider outo130 kW/450 Nm8.5 ℓ/100 km3.5 ton3 jaar/100 000 km‑waarborg

9 dienste ingesluit

R637 500
VW Amarok 2.0BiTDI dubbelkajuit Highline 4Motion outo132 kW/420 Nm8.5 ℓ/100 km3.2 ton3 jaar/100 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R646 000
Mercedes-Benz X250d dubbelkajuit 4Matic Progressive outo140 kW/450 Nm7.9 ℓ/100 km3.5 ton2 jaar/onbeperkte km‑waarborg

6 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R723 811
VW Amarok 3.0 V6 TDI dubbelkajuit Extreme 4Motion outo165 kW/550 Nm9 ℓ/100 km3.3 ton3 jaar/100 000 km‑waarborg

5 jaar/90 000 km‑diensplan

R818 200
Mercedes-Benz X350d dubbelkajuit 4Matic Power outo190 kW/550 Nm9 ℓ/100 km3.5 ton2 jaar/onbeperkte km‑waarborg

6 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R973 188

Die Ranger‑reeks word binnekort opgeknap met nuwe ratkaste. Die mededingers is almal sterk en almal het ʼn voorkeur, maar as dit kom by sleep, moet jy na die Wildtrak kyk, dit sleep soos ʼn droom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet Pompies ·

‘n Klompie jare gelede het ons ‘n byna perfekte sleep kombinasie gehad, dit was ‘n VW 2.1 Caravelle bus met ‘n Sprite Sport karavaan. Die bus het ‘n Steves Auto Clinic enjin ombouing gehad wat hom meer KW en wringkrag gegee het.
Die bus en karavaan was omtrent ewe hoog en breed, die bus was swaar en sterk genoeg vir perfekte stabiliteit.
Ons het meestal tussen Vanderbijlpark en Warmbad gesleep wat omtrent 90% deurpaaie was.
Lekker sleep!

Marcel ·

Tot hy aan die brand slaan, dan sleep hy nie meer so lekker nie…….Totyota sal maar altyd die bakkie baas wees.

Willem ·

Jy praat van Ranger wat aan die brand slaan maar die Ford model wat aan die brand geslaan het was die Kuga. Daar is ‘n groot verskil. Dis die selfde om te se Toyota ry lekker todat sy petrol vas haak. Onthou die accelerator recall op die Toyota’s. Of tot jou airbag moet deploy want hulle het daar ook ‘n recall gehad.

Totsiens Toyota ·

Marcel—As Toyota Hilux eienaar is ek moeg vir olie lekke en breuke. Ek is in die mark vir ‘n mooi 3.2 Ranger . Ek was een van die manne wat altyd Ford sleggese het tot ek agter gekom het my Totota breek meer as die Rangers.

Gerhard ·

Die manne wat dink Toyotas kan nie breek nie kyk teveel Top Gear.

Dirk ·

Sleep vir baie jare groot karavane sleep nou met V6 amarok ek moet eerlik se met daai krag en ratkas is dit by verre my beste sleep voertuig nog

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.