Só vergelyk bekostigbare gesinsbuksies

Die mediumgrootte gesinsmotor was altyd ʼn sedan gewees. Sitplek vir vyf met ʼn lekker groot kattebak. Dink aan motors soos die Corolla en Jetta. Dit was in talle Suid-Afrikaanse huishoudings stapelvervoer.

Met die geleidelike afsterwe van die sedanmotor is daar twee buksies wat wil kom stoei vir sy markaandeel, die klein tot mediumgrootte sportnutsvoertuig en die kruismodel. Ek persoonlik hou niks van ʼn kruismodel nie – dit is eintlik net ʼn opgepompte mediumgrootte luikrug en bied niks unieks teenoor die gewoonlik goedkoper luikrug nie. Waar dinge wel aanloklik raak, is met klein of mediumgrootte sportnutsvoertuie wat behoorlike grondvryhoogte en vierwielaandrywing bied.

Hier gaan ek een van elk met mekaar vergelyk en sien wat gaan vir wat. Mahindra se nuwe XUV 300 is ʼn reusetree in die regte rigting vir die handelsmerk, en Renault se Duster is uiters gewild in Suid-Afrika. Die Mahindra is ʼn kruismodel, en die Duster ʼn sportnuts. Kom ons kyk:

Ontwerp:

Mahindra XUV 300 1.5TD W8

Punt: 4/5

Renault Duster 1.5dCi Techroad EDC

Punt: 4/5

Albei tjorre is netjies en nie een is lelik nie. Die XUV 300 het netjiese hoekige lyne en sy ontwerp is goed afgerond. Persoonlik hou ek baie van die nuwe Duster se meer afgeronde ontwerp. Die Duster lyk taai dog netjies.

Binneruim:

Mahindra XUV 300 1.5TD W8

Punt: 3/5

Renault Duster 1.5dCi Techroad EDC

Punt: 5/5

Soos ek in die inleiding gesê het, gee die nuwe XUV 300 vir Mahindra ʼn reusetree in die regte rigting. Die Mahindra kan nou as luuks beskou word, met elke funksie wat mens sou wou hê. Hy verloor wel ʼn punt in die afwerking van die nuwe truuks. Die knoppies kan effe goedkoop voel hier en daar … en dis waar die Duster hom klop. Die Duster se nuwe binneruim is baie netjies uitgelê, en die verbetering in gehalte van die knoppies en skakelaars is indrukwekkend. Tot hul sitplekke het nou die behoorlike steun waarvoor ek al ʼn ruk lank vra. Die Duster voel ruimer as die XUV 300 ook, en daar kry hy nog ʼn punt.

Enjin, ratkas en dryfstelsel:

Mahindra XUV 300 1.5TD W8

Punt: 4/5

Renault Duster 1.5dCi Techroad EDC

Punt: 5/5

Mahindra se nuwe 1.5-diesel is ʼn ware juweel. Lekker sterk én lig op brandstof. Die 6-spoedhandrat is waar die XUV sy punt verloor. Die koppelaar se kalibrasie moet nagegaan word. Dit raak effe moeilik om perfek weg te trek sonder ʼn geruk en pluk. Renault se 1.5-viersilinderturbodieselenjin is fantasties. Dit is die Renault/Nissan/Mitsubishi-alliansie se mees gebruikte enjin ter wêreld. Hy bied billike krag en asemrowende brandstofverbruik. Waar die Duster nóg ʼn punt verdien: Hy is in handrat en outo beskikbaar, óf as ʼn vierwielaangedrewe handrat. Indien jy nie die 4WD nodig het nie, is die outo beslis die beste keuse.

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid:

Mahindra XUV 300 1.5TD W8

Punt: 4/5

Renault Duster 1.5dCi Techroad EDC

Punt: 4/5

Die Renault het fantastiese ritgehalte. Lekker soepel vering en behoorlike bande met ʼn groot profiel laat die Duster soos ʼn droom toer. Padhouvermoë is in die kol vir só ʼn tipe voertuig. Die 4WD-model bied heeltemal ʼn ander dimensie aan die motor teen dié prys. Die Mahindra is effe harder geveer as die Duster, maar verder toer hy lekker. Waar hy wel groot punte opmaak, is die feit dat hy sewe lugsakke het teenoor die Duster se vier – ʼn groot veer in sy hoed.

Opsomming:

Mahindra XUV 300 1.5TD W8

Puntetotaal: 15/20

Renault Duster 1.5dCi Techroad EDC

Puntetotaal: 18/20

Dit is maklik om dié twee buksies op te som. Albei is lekker rygoed en sterk mededingers vir hul handelsmerke. Die Mahindra wys waarheen die handelsmerk op pad is, en dis indrukwekkend. Waar die Duster uitblink, is dat dit uiters gewild is in Suid-Afrika, en ʼn bekwame gesinsbuks. Ek’t my woonwa al ʼn kort afstand met een gesleep, en ʼn bietjie ligte veldry en 4×4-hindernisse gaan aandurf met een. Dis ʼn puik motor, en bly my keuse.

Die twee vergelyk só:

Mahindra XUV 300 1.5TD W8Renault Duster 1.5dCi Techroad EDC
Enjin1.5-viersilinderturbodiesel1.5-viersilinderturbodiesel
Krag86 kW/300 Nm80 kW/250 Nm
Ratkas6-spoedhandrat6-spoeddubbelkoppelaar outo
Topspoed175 km/h169 km/h
Brandstofverbruik4.8 ℓ/100 km4.8 ℓ/100 km
Diensplan & waarborg5 jaar/150 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

PrysR324 999R340 900

Die kompetisie lyk só:

Ford EcoSport 1.0T Titanium outoKia Seltos 1.4T-GDi GT-LineSuzuki Vitara 1.4T GLX outo
Enjin1.0-driesilinderturbo-petrol1.4-viersilinderturbo-petrol1.4-viersilinderturbo-petrol
Krag92 kW/170 Nm103 kW/240 Nm103 kW/220 Nm
Ratkas6-spoed- wringkragomsitter outo7-spoed- dubbelkoppelaar

outo

6-spoed- wringkragomsitter outo
Topspoed181 km/h189 km/h200 km/h
Brandstofverbruik6.3 ℓ/100 km6.3 ℓ/100 km5.9 ℓ/100 km
Diensplan & waarborg4 jaar/120 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

PrysR370 400R460 995R405 900

 Die mededingers is wel die reeksleiers vir hul onderskeie handelsmerke, dus is die pryse kwaai. Ek staan by die Duster as my keuse, sou dit my geld wees. Ek moet egter nog die Kia Seltos onder hande kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Ons het so ‘n tyd gelede ‘n VW TCross gekoop teen R333K en as ek hom in dieselde bondel voertuie soos hier bo sou sit, sou ek nog steeds die TCross gekoop het.
Lekker ry!

Karlahari ·

Ek het selwers vir 4 jaar n 4×4 Duster besit.
Kalahari sand. Vrystaatse potholes. Nasionale snelweë. Lesotho se bergpasse en ook van die redelike grond paaie in Lesotho en sneeu.
Geen probleem nie.
Het n 105.000km diensplan uitgeneem en die persoon wat die voertuig op 108.000km gekoop het kani uitgepraat raak oor ekonomie en ritgehalte nie.
Dit is nie n LandCruiser of Pajero nie.
Maar in sy klas het hy nie sy gelyke nie.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Karlahari

Baie dankie vir jou kommentaar. Die nuwe 4WD duster se ratkas is effe aangepas oor die vorige model. Sy 6de rat is baie langer en dit maak ‘n reuse verbetering op brandstofverbruik. Waar die vorige model naby 3 500 r/min geluier het op 120 km/h, toer die nuwe een nader aan 2 600 r/min teen 120 km/h.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

VannieBaai ·

Ek ry maar steeds my VW Jetta 1800 ’89. Brandstofverbruik is steeds dieselfde sedert ons die moter aangekoop het en het tans 358952 kilos op die klok………my tjorrie van 23 jaar sal ek baie moeilik laat gaan………..tereg gesê – die kattebak se grootte is nog die beste………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.