Só werk verkeersboetes

Argieffoto

Argieffoto

Jaagduiwels met uitstaande boetes gaan binnekort aan die pen ry. Die stad Kaapstad het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dat ʼn toename in lasbriewe beplan word vir diegene wat nie in die hof verskyn oor boetes nie, selfs al is geen kennisgewing ontvang nie.

Dié verklaring het ook presies verduidelik hoe verkeersboetes werk en gewaarsku dat geen verskoning geldig gaan wees om oortreders voortaan uit die moeilikheid te hou nie.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het verduidelik dat verkeer–wetstoepassingsagentskappe oor die algemeen twee soorte boetes uitreik. Dié twee boetes staan bekend as Artikel 341 en Artikel 56-boetes.

“Niksvermoedende motoriste kan weens ʼn gebrek aan kennis in hegtenis geneem word omdat hulle nie die verskil tussen die boetes verstaan nie,” het Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, in die verklaring gesê.

ʼn Artikel 341-boete word uitgereik wanneer dit nie duidelik is wie die bestuurder is nie, soos wanneer die motoris deur middel van ʼn kamera vasgetrek word, of ʼn parkeerkaartjie kry. In hierdie geval ontvang die motoris ʼn boete in die pos of onder die ruitveër. As die boete nie betaal word nie, volg ʼn dagvaarding met ʼn hofdatum.

Artikel 56-boetes word uitgereik wanneer ʼn motoris self deur ʼn verkeersbeampte gestop word wanneer die verkeersbeampte sien dat ʼn oortreding begaan word. Wanneer hierdie boete uitgereik word en die motoris betaal nie teen die sperdatum wat op die boete verskyn nie, moet die motoris outomaties in die hof verskyn. ʼn Tweede kennisgewing word nie vir die boete uitgereik nie.

“Party motoriste is onder die indruk ʼn opvolgkennisgewing word ook vir hierdie soort boete gestuur. Wanneer hulle nie die kennisgewing ontvang nie, ignoreer hulle die boete. Wanneer die motoriste dan by ʼn padblokkade gestop word, besef hulle eers hulle is gedagvaar.

Die motoris kan dan werklik die risiko loop om inhegtenis geneem te word en selfs tyd in ʼn aanhoudingsel deur te bring. Dit beteken die verkeersdepartement sit met ʼn hoop lasbriewe wat vermy kon word as die motoris sy boetes betaal het,” het Smith gesê.

Hy sê baie mense versuim ook opsetlik om boetes te betaal. “Ek het baie min simpatie met sulke motoriste, want hulle het geen respek vir die wet nie. Hulle moet weet hulle sal aan die pen ry.”

ʼn Reeks stappe is reeds gedoen om te verseker meer lasbriewe word uitgestuur. “Ons het onder meer ʼn ooreenkoms met die balju om die lasbriewe vinniger uit te stuur. Motoriste sal dan verhoed word om motorlisensies te hernu, hulle sal ʼn SMS-boodskap kry om hulle te herinner en tegnologie sal gebruik word wat ʼn motoris se nommerplaat “herken” met bewys van adres.”

Smith sê hy wil motoriste vriendelik herinner die uitreiking van verkeersboetes gaan nie daaroor om ʼn inkomste te maak nie, maar oor die handhawing van nasionale wetgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

KLEIN ·

EINA!!! As die foto van `n voertuig met `n vervalste nommerplaat is. hoe bewys jy dit is nie jy nie.

Grap ·

Ek stem saam hoeveel karre in die piesang republiek se nommer plate is gekloon nou gaan hulle arresteer,mens sal die verwag van die ANC maat Kaapstad is DA ??

Carina ·

Ek wil net graag weet, as ons nooit enige “341” boetes deur die pos ontvang nie, geen sms of e-pos nie, hoe moet ons weet daar was enige oortredings? Dit moet ek nou uitvind wanneer ek dalk afgetrek word by ‘n padblokkade of so iets. En hoe bewys ek dat ek nooit enige kennisgewing ontvang het nie? Is dit nie so dat hulle moet kan bewyse lewer dat ‘n boete by my afgelewer is en jy daarvoor geteken het nie? ‘n Lasbrief moet ook persoonlik by jou afgelewer word deur die balju.

danie ·

Daar het julle dit nou, gaan betaal die kaartjies. As jy nie weet of jy een het nie vra die naaste verkeers konstabel waar jy navraag kan gaan doen. Partymaal vergeet ons ons het die wet oortree.

KLEIN ·

Hoe kan mens hulle vra hulle weet partykeer self nie eens waar hulle geparkeer het nie.

Johann Marx ·

Ek is gister afgetrek en het ‘n verkeersboete gekry omdat ek “oor ‘n geverfde eiland gery het”. Die dilemma is…ek het nie…maar die verkeerskonstabel het aangedring en my beboet. Hy het GEEN bewyse dat ek dit wel gedoen het nie, en ek het geen bewyse dat ek dit NIE gedoen het nie. Die dokument wat hy aan my uitgereik het, het GEEN datum, tyd of plek waar ek in ‘n hof kan verskyn om myself te verweer nie……dit is dus net “Betaal….of” en as jy nie betaal nie kry jy nie jou voertuig lisensie nie…..Gaan lees weer die laaste paragraaf van die artikel….dis die grootste leuen!!!

Benpot ·

Ek weet nie hoekom daar so op jaagduiwels gefokus moet word nie.
Hier waar ek woon is dronk bestuurders, ongelisensieerde voertuie, tieners wat bestuur, onpadwaardige voertuie. Noem dit en jy sal dit hier sien, maar dis ook net die jaagduiwels wat dopgehou word?
My opinie, as die verkeersdepartement een reël wil toepas moet hulle almal toepas. Daar is mos nie net een wet vir motoriste nie.

Johan 2 ·

…Verkeersbeamptes wat op die sypaadjies ry…maar moet net nie n skamele 10km oor die spoedgrens ry nie, dan is jy n skurk…noem dit maar n sagte teiken vir n vinnege paar rand.

JJ ·

As dit nie gaan oor inkomste maak nie, hoekom het hulle Dan targets om te maak elke maand?

Andries Vermeulen ·

Poot jy het dit presies raakgevat, wou dit ook sê, maar met die artikel het ek hieroor begin wonder. Wil my voorkom hierdie is weer ‘n heksejag op motoriste deur hul onkunde te gebruik om hul maandelikse “targets” te behaal.

Stephanie ·

Aan “Eina”. Ek het n jaar of so gelede n boete vir spoed deur die pos ontvang. Een van die met n foto by. My motor is n wit Uno paneel wa. Die foto was van n wit Toyota dubbel kajuit met die selfde nommer plaat as my Uno. Dit was in Zambesi rylaan geneem. Ek het dadelik n nommer wat op die dokument verskyn het gebel en glo dit of jy kan of nie… hulle het die telefoon geantwoord. My saak is aan hulle gestel waarop ek gevra is om n foto van my Uno (nommer plaat moet duidelik wys) en afskrifte van my registrasie papiere aan hulle te stuur. Ek het dit gedoen en myself ook bereid verklaar om persoonlik in te gaan met die Uno en al die nodige dokumente.
Na minder as n week is ek gekontak en gevra en om die boete te ignoreer.
Ek weet dit klink soos n sprokie, want deesdae kry mens nie sommer hulp by die instansies nie. Hulle antwoord nie eens telefone nie, maar ek kan getuig dat daar tog n handjie vol werkers is wat hulle kant bring.

Anton Swanepoel ·

Indien ek nie geteken het vir n boete nie, betaal ek hom nie. Hulle moet bewys ek het die boete/kennisgewing ontvang en nie ek nie. As hulle my stop en ek teken die boete/kennisgewing dan betaal ek dit andersins nie.

oni ·

Daars n spreukword word se: Hardegat word sagtegat Anton. “Talk is cheap

Chris Ws ·

Oni talk is nie cheap nie.Anton Swanepoel IS reg.Ek het ‘n spoed boete in die pos ontvang en hom opgefrommel en weggesmyt.6 maande later lewer twee verkeers konstabels die boete by huis af en ek moes teken vir ontvangs.Ek het daarna die boete betaal maar hul onkoste om dit by my huis af te lewer was meer as die boete!Anderdag kry ek weer een.Al die besonderhede was myne maar die foto was van ‘n ander voertuig en die nommer plaat onleesbaar.Na ek advies van ‘n plaaslike landros gekry het,het ek die mense gefaks en beduie wat aangaan en die boete weg gegooi.Dis nou al 5 maande later en ek het niks van hulle gehoor nie.Sou hulle dit by my kom aflewer sal ek dit in die hof beveg.Betaal gaan ek nie sommer nie!

Johan 2 ·

En daarom sal ek nooit inie kaap bly nie….as ek so verpes wou word trek ek Australië toe dankie, dan kan ek ten minste n mate van wetsgehoorsaamheid van die owerhede ook verwag.

JOHAN ·

Benpot ,Ek stem met jou saam. Jy hoor net altyd van dronk- of roekelose bestuurders wat vasgevat gaan word, maar wat van al die dronk VOETGANGERS wat hoevele ongelukke veroorsaak.Wat gaan hulle daaromtrent doen.Dalk hulle tekkies of voete wegvat?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.