Spaar só brandstof

Argieffoto

Argieffoto

Die onderwerp van besparing word opnuut onder die loep geneem met ekonome wat waarsku wêreldwye ekonomiese probleme en die verswakking van die rand gaan nie binnekort tot ʼn einde kom nie.

Hoewel slegte ekonomiese toestande nie deur Jan Alleman beheer kan word nie, is daar verskeie nuttige wenke wat mens kan toepas om jou beursie ʼn blaaskans te gee. Die AA (Automobile Association) het onlangs ʼn paar nuttige wenke gegee oor hoe om koste op jou brandstof te bespaar en meer kilometers op een tenk brandstof te ry.

  1. Banddruk

Wanneer jou motor se bande nie genoeg gepomp is nie, is die weerstand tussen jou motorbande en die pad baie hoër. Dit beteken jou motor gebruik meer brandstof. Volgens die AA kan jy soveel as 3.3 persent meer brandstof uit jou tenk kry wanneer jou motorbande teen die regte druk gepomp is.

  1. Probeer vermy om te veel te stop en weer te ry

Wanneer jy versnel, moet jou motor se enjin baie harder werk as wanneer dit bloot beweeg. Dié energie gaan verlore wanneer jy rem. ʼn Motor gebruik uiteraard minder brandstof wanneer jy nie te veel hoef te stop en ry nie. ʼn Goeie wenk is om soggens vroeër te ry of jou roetes beter te beplan om spitsverkeer te vermy.

  1. Moenie jou motor laat luier nie

Jou motor laat nie net meer toksiese gasse vry wanneer dit langer luier nie, jou brandstofverbruik is ook hoër. Dit is beter om jou motor af te skakel wanneer jy vir lang tye nie gaan ry nie.

  1. Bykomstighede

Enige bykomstighede aan jou motor, soos byvoorbeeld ʼn rak vir fietse of branderplanke bo-op jou motor se dak of agterop die kattebak, moet verwyder word wanneer jy dit nie gebruik nie. Dié voorwerpe verander die lugvloei van die motor wat veroorsaak dat dit meer brandstof gebruik. Net so veroorsaak oop vensters en dakke ook meer brandstofverbruik omdat die lugvloei wat verander, meer krag van die enjin verg.

  1. Lugreëling

Die lugreëling in jou motor werk met ʼn drukpomp wat krag van die motor se enjin kry. Gebruik die lugverkoeling spaarsamig en slegs wanneer jy lang afstande ry, nie wanneer jy gaan stop en ry nie.

  1. Laat jou motor versien

ʼn Motor wat nie gereeld versien word nie, kan nie optimaal funksioneer nie. As jou motor nie versien word nie, het dit swakker enjinverrigting, wat beteken die motor sal nie funksioneer volgens die vervaardigers se riglyne nie.

Besoek die AA se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris W ·

Meeste mens weet ook nie hoe om ‘n vyfde rat ( of “over drive “rat) reg te gebruik nie.Dis ‘n rat wat net gebruik word op ‘n gelyk pad.Teen enige opdraende al is dit hoe gering,MOET jy vierde rat gebruik om brandstof nie te vermors nie.Om ‘n voertuig verby te steek in vyfde rat mors ook brandstof TENSY dit op ‘n afdraende geskied.Dan om “egalig” te ry maw om nie te jaag tot op ‘n stop en dan hard te rem nie ,maar om verder van die stop af al spoed te begin verminder ,spaar mens beslis ook verder .

Paul ·

Om onnodig met hoofligte te bestuur is ook `n vermorsing van brandstof.

Paul ·

(Ander Paul as die vorige een)
Hoofligte aan sal tegnies ‘n piepklein hoeveelheid brandstof “vermors”, maar die gloeilampe is gewoonlike slegs 65 Watt. Dit beteken dat as jy vir ‘n uur lank ry met die ligte aan, gebruik jy slegs 0.128 kilowatt-uur energie. Dit is sowat 460 000 Joule.
Daar is ongeveer 31 300 000 000 Joule energie in ‘n liter petrol. Gestel die kar se enjin en alternator en elektriese stelsel laat 80% van die energie verlore gaan voordat dit by die gloeilampe kan uitkom, dan is dit steeds 6 350 000 000 Joule. Dus sal ‘n uur se gebruik van die ligte terwyl jy ry, slegs sowat 70 milliliter ekstra petrol gebruik.

Die veiligheidsvoordeel wat jy verkry deur altyd jou ligte aan te hê, veral met ‘n swart, donkerblou, silwer of grys kar, is baie meer werd as 70 milliliter petrol. Karre wat donkerkleurig of silwer of grys is, smelt maklik saam in die agtergrond teen ‘n swart of grys teerpad, veral in skaduwee. Dan sien ander motoriste jou nie raak nie en ry voor jou in. Met die ligte aan, gebeur dit nie sommer nie.

Chris W: Alle karre se vyfde rat is nie ‘n “overdrive” nie. By sommige is die ratverhouding steeds onder 1:1. Dis ook nie nodig om altyd ‘n laer rat as die “overdrive” rat te gebruik teen ‘n opdraend nie. Dit hang af van die enjin se verrigting.

SARIE VAN HEERDEN ·

Kan iemand nie asb vir ons onkundiges meer omvattende raad gee oor brandstofbesparings nie?

Johnny ·

@ Paul (ander Paul as die vorige een.). Jy slaan die spyker op die kop. Ek is ‘n sterk voorstaander van hoofligte aan (nie parkeerligte) wanneer motors op openbare paaie bestuur word. Die ekstra brandstofgebruik is nie noemenswaardig nie. Ek wens so dat daar ‘n verkeerswet geïmplementeer word wat die gebruik van hoofligte verpligtend maak. Ek praat onder korreksie maar is oortuig daarvan dat so ‘n wet reeds op motorfietse van toepassing is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.