Gewilde ‘Spirit of Amarok’-kompetisie in Vrystaat gehou

Die Spirit of Amarok-kompetisie (Foto: Verskaf)

Sarel van der Merwe het tien jaar gelede ʼn amateurveldrykompetisie op die been gebring. Vir die eerste nege jaar het spanne in 2.0‑viersilinder Amaroks deelgeneem. Vanjaar is die eerste jaar waar almal in die fantastiese 3.0 V6 deelgeneem het.

Sarel se Spirit of Africa‑kompetisie werk deur 420 deelnemers van Suider-Afrika om die ses finale spanne te kry wat aan die Spirit of Amarok International deelneem –  twee van Suid-Afrika, twee van Namibië en twee van Botswana.

Die Spirit of Amarok International het vanjaar in die Vrystaat plaasgevind. Dit is die vyfde keer wat die Spirit of Amarok International gehou word. Nege lande neem deel, Australië, Botswana, Denemarke, Duitsland, Namibië, Rusland, Suid-Afrika, Taiwan en die Tsjeggiese Republiek. Twee spanne van elke land kom verteenwoordig hul land in Suid-Afrika om as die algehele wenners gekroon te word.

Die Spirit of Amarok-kompetisie (Foto: Verskaf)

Daar is ongeveer twintig rondtes waaraan elke span deelneem om punte bymekaar te maak. Vorige jare het deelnemers van linkerhandstuurmarkte gekla dat hulle in ons regterhandstuurvoertuie benadeel word; daarom het Volkswagen vanjaar nege linkerhandstuur‑ en nege regterhandstuur‑Amaroks gehad. Alle spanne moes in albei voertuie deelneem. Van die rondtes bied baie tegniese 4×4‑uitdagings, ander is spoedrondtes en daar is selfs ʼn slalom waardeur deelnemers agteruit moet ry tot in ʼn afgesperde ‘boks’.

Vanjaar het elke deelnemende land ʼn paar joernaliste van hul eie media saamgebring om die kompetisie te dek. Wat vir my opvallend van die hele kompetisie was, is die gees. Al nege lande kom bymekaar, braai en drink saam, probeer in almal se gebroke Engels kommunikeer en beste van als is die respek wat getoon word. Sodra een span voorwaar in ʼn rondte presteer, klap almal hande en is bly vir hulle. Ek dink nie daai gees kan enige plek nagemaak word nie.

Spirit of Amarok (Foto: Verskaf)

Maroela Media het in Aprilmaand aan die Spirit of Amarok-mediauitdaging deelgeneem. Ons het in tweede plek klaargemaak saam met Gugu Masuku – ʼn vryskutmotorjoernalis. Christiaan en Pikke Otto, een van Suid-Afrika se twee spanne, het vanjaar met die Wolf-trofee weggestap en is as algehele wenners gekroon met 2 024 punte. Denemarke se Jesper en Sören Markussen is tweede met 1 929 punte en Suid-Afrika se Ferdie Pretorius en Johan du Toit derde met 1 800 punte.

Met twee spanne in die topdrie het Suid-Afrika met 3 824 punte weggestap as die beste land, Denemarke tweede met 3 298 en Duitsland derde met 3 100.

Om in volgende jaar se Spirit of Africa deel te neem – kliek hier: https://rrlrob.wixsite.com/spirit-of-africa

Al het Volkswagen se Amarok nie ʼn reusemarkaandeel nie, is die Amarok ʼn fantastiese bakkie, en die V6 beslis die beste enjin in ʼn dubbelkajuit in Suid-Afrika… hy verdien beter verkoopsyfers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Pretorius ·

Die Amarok is te duur om te koop. Vir waarde vir geld is daar baie ander beter voertuie om te koop en dit is die rede hoekom die Amarok so swak verkoop. Die Mercedes X se verkope is ook baie swak a.g.v sy prys.

Vraagteken ·

Hi Johan, ek stem 100% saam met jou. Ek het gelees dat Mercedes is besig om die X-reeks al klaar gelyktydig af te skaal. Toyota het klaarblyklik meer Hilux’e verkoop in Suid Afrika hierdie jaar as was Mercedes kon reg kry in 2018 in al 3 hulle markte (Europa, Australie en Suid Afrika).

chrisjan ·

Prys is steeds en sal ‘n nog groter faktor word vorentoe met ons uiters swak ekonomie in die’ land .Dit beteken net minder verkope ongeag hoe goed die Amarok is.Ek is self teleurgestel dat hy so uiters swak verkoop in vergelyking met Toyota,Ford ,Nissan en Isuzu.Maar nou ja ,dis duidelik 95% van kopers kyk eerstens na die prys en dan na die beskikbare voertuie in die mark. So is dit maar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.