Sportnuts: Isuzu vs Mitsubishi

ʼn Uiters bekende segment in die Suid-Afrikaanse motormark is die volgrootte sportnutsvoertuig wat op ʼn leerraam-onderstel gebou word.

Hulle deel DNS met hul bakkie-boeties. Daar is tans vier mededingers in die segment. In orde van hul jongste verkope – Fortuner (1 168), Everest (130), Pajero Sport (42) en MU-X (38).

As ʼn mens die vier voertuie met mekaar vergelyk, is almal rofweg dieselfde – en ek kan die verskil in verkope glad nie verduidelik nie. Ja, die Fortuner het wel ʼn groter verskeidenheid modelle as die Isuzu en Mitsubishi (sy topverkoper is die 2.4-model wat beskikbaar is vir R60 000 minder as die Isuzu en Mitsubishi), en die Ford Everest se 4×4-modelle is baie duur.

Kom ons vergelyk die Isuzu en die Mitsubishi:

Die ontwerp van die Isuzu is vir die meeste mense makliker om te aanvaar as die Mitsubishi. Daai agterligte op die Pajero Sport is ʼn acquired taste soos die Ingelse sê. Verder is albei ʼn volgrootte sportnutsvoertuig met sewe sitplekke.

Die binneruim is ook heelwat dieselfde. Die Mitsubishi blink hier vir my bó die Isuzu uit. Die Isuzu kon nie genoeg van sy bakkie-boetie se duursaamheid verruil vir luuksheid nie. Die Pajero Sport aan die ander kant is gegrond op die Triton. Die Triton het nie ʼn werkesel-weergawe nie en is heel luuks om mee te begin. Die Pajero Sport se spesifikasievlak is skrams beter as dié van die MU-X. Hy’t outomatiese ruitveërs en een ekstra lugsak. Verder het albei ABS met EBD.

Die twee enjins vergelyk ook bitter naby aan mekaar. Die Pajero Sport maak gebruik van Mitsubishi se 2.4-viersilinderturbodiesel wat 133 kW en 430 Nm bied. Die Isuzu maak gebruik van die 3.0-viersilinderturbodieselenjin met 130 kW en 380 Nm. Die Pajero wen beslis dié verfyndheid-oorlog. Die 2.4 is baie stiller en minder “trok” as die Isuzu. Die Mitsubishi het ratwisselingspane agter die stuurwiel vir sy agtspoed-outoratkas.

Op die pad is daar nie veel tussen die twee nie. Albei is lekker gemaklik. Ek sal wel sê die Pajero Sport se bestuursposisie is vir my baie gemakliker as dié van die Isuzu. Ritgehalte word reusagtig verbeter in die sportnutsweergawes van dié bakkies omdat die bladvere agter vervang word met kronkelvere.

Die Isuzu het ʼn effe swaarder sleepkapasiteit met drie ton teenoor die Mitsubishi se 2 790 kg. Heel indrukwekkend. Nog iets wat spesifiek van die Pajero genoem moet word, is sy 4×4-stelsel. Mitsubishi maak gebruik van sy Super Select II-stelsel. Uit my ervaring is dié 4×4-stelsel fantasties. Maar – dan kom die Kinsey-verslag in speling. Die jongste syfers is wel op die bakkies gegrond, nie die sportnutsvoertuie nie, maar die Triton se onderdelemandjie is R202 111. Die D-Max sʼn is R62 578. Dis ʼn reuseverskil in onderhoudskoste. Die Mitsubishi het ook net ʼn waarborg van drie jaar teenoor die Isuzu se vyf.

Met dié in ag geneem, dink ek die Pajero Sport is ʼn lekkerder voertuig. Hy is ook goedkoper as die Isuzu én luukser, maar indien jy ʼn voertuig koop om af te betaal en lank te ry, kan jy nie na die Pajero Sport kyk nie, daai onderhoudskoste sal jou breek. As jy ʼn voertuig slegs drie jaar ry en dán inruil – dan is die Pajero goedkoper en boonop lekkerder.

Die twee vergelyk só:

Isuzu MU-X 3.0 4×4130 kW/380 Nm7.9 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R684 500
Mitsubishi Pajero Sport 2.4 D4 4×4133 kW/430 Nm8.1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R639 995

Die kompetisie lyk só:

Toyota Fortuner 2.4 GD-6 4×4 outo110 kW/400 Nm8.2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

90 000 km-diensplan

R578 900
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 outo130 kW/450 Nm8.5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

90 000 km-diensplan

R713 600
Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD XLT157 kW/500 Nm7.6 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R717 800

Tussen die mededingers het nét Toyota ʼn intree-4×4-model met sy 2.4. Dit bly my keuse vir beste waarde vir geld. Die Pajero is ʼn lekkerder voertuig as die Isuzu – hulle gaan net iets moet doen omtrent daai onderdeelpryse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.