Stryd van die avontuurfietse

Foto: Brian Cheyne

Zontes se reeks motorfietse brei mooi uit. Daarmee saam groei hulle handelaarsnetwerk ook geleidelik.

By die onlangse opening van hulle nuutste handelaar in Hatfield het hulle nog ’n model by die reeks gevoeg: die Zontes ZT 310-T. Hierdie fietsie is Zontes se eerste tentatiewe tree in die avontuurmark vir kleinkapasiteitfietse.

Die Zontes 310-reeks het baie mense onkant betrap. Nie net is die fietse aantreklik nie, hulle ry ook lekkerder as wat ’n mens sou verwag. Die enjintjie is gewillig en vir so ’n klein fiets het hy verbasend baie woema. Die 310-T het egter stewige kompetisie. Die meeste hoofstroomvervaardigers het ’n mededinger in die sub-500 cc-segment en hulle is almal baie goed.

Zontes het onlangs hul nuutste handelaar in Hatfield geopen.

Soos met ons ydele mensdom maar die geval is, tel voorkoms baie en hier skitter die T. Die Zontes-modelreeks bied glad nie onooglike fietse nie, en die 310-T sit daardie tradisie voort. Die klein avontuurfietsie lyk reg vir ’n groot avontuur.

Voorlangs het hy die verpligte snawel van hierdie klas fietse. Die fiets het dagryliggies en vier LED-ligte wat die hooflig opmaak. Daar is stewige pype om die fiets en ’n metaal-pensplaat om die onderkant te beskerm. Die handvatsels is lekker breed en hoog en beskik oor handbeskermers.

Die fietsie is ook effe hoër as sy stalmaats in saal- én grondvryhoogte. Net soos met die ander fietse in hierdie klas is hulle egter net bedoel vir baie ligte stofpadgebruik. Allooivellings op enige fiets is nie geskik vir rowwe terrein nie, en hierdie fiets se voorwiel is gans te klein vir tegniese roetes.

Foto: Brian Cheyne

Ek moet erken, ek het die fiets op ’n lang stuk grondpad gaan ry en die vering het hom goed van sy taak gekwyt. Dit is wesenlik dieselfde onderstel as die 310-R én 310-X s’n, so ek het nie verwag dat die vering die rowwe pad so goed sou hanteer nie. Jy kan selfs die sluitwering afsit op die agterwiel, net soos dit ’n avontuurfiets betaam.

Die toetseenheid was toegerus met opsionele bagasietasse. Ek was baie beïndruk met die gehalte van hierdie tasse. Hulle is binne mooi gevoer en baie goed afgewerk in dofswart. Hulle is ruim binne, en het hegstukke buite vir ekstra bagasie. Daar is lywige rubberseëls onder die deksels om die elemente uit te hou. Die hele raamwerk waaraan die tasse hang, voel ook stewig en behoort matige misbruik te kan weerstaan.

Die instrumentepaneel is dieselfde groot vloeikristaleenheid van die 310-X en kan brandstofverbruik en reikafstand aandui. Net onder die instrumentasie is ’n handige paneelkissie en ’n USB-sok. Die kontroles op die handvatsels is verlig, maar die knoppies self is nie deursigtig nie. Dit beteken dat jy weet waar die knoppies is, maar nie noodwendig watter knoppie jy moet druk nie!

Foto: Brian Cheyne

Op die pad hoef die Zontes nie ’n duit terug te staan vir enige van sy mededingers nie. Selfs in draaie kan jy die 310-T maar druk, want die agterband is breed. Die remme is toegerus met sluitwering, maar voel sponserig. Die agterrem se pedaal moet jy ook ver trap voor iets noemenswaardigs gebeur. Dit is dieselfde by al die ander Zontes-modelle, so as jy eers gewoond is daaraan is die remme heel aanvaarbaar.

Ek dink nie die vervaardiger het enige ambisie om die Dakar te gaan aandurf nie, maar as ’n pendelfiets met ligte stofpadvermoë is die ZT 310-T in die kol. En dan lyk hy nog so goed ook!

Die ZT 310-T verkoop vir R74 900.

Kyk hier na die produkblad. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marco polo ·

Hier by my in China het ek nog gladnie n Zontes gesien nie, maar hy lyk oulik. Ek wens die Chinese wil Benelli en CFmoto na SA neem. My Benelli TRK502X is n briljante avontuur/toer fiets en ek sal enige tyd een in SA koop.

marco polo ·

Terloops Brian, wat van die syfers? Kw, Nm en saalhoogte.

Brian Cheyne ·

Marco polo, gaan loer op die produklblad skakel onder aan die artikel. Toe ek die artikel geskryf het was die syfers nog nie beskikbaar nie, maar hulle het intussen die blad opgedateer.

marco polo ·

Dankie Brian, maar ek kan nie die skakel oopmaak nie. Jy weet mos in watter land ek is?

marco polo ·

Toemaar, ek het reggekom. Dit lyk voorwaar na ‘n opsie. Ek dink in SA is ons te gewoond aan groot, kragtige fietse, maar as jy nie haastig is nie, is dit geen probleem om die langpad te vat met so ‘n outjie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.