Suzuki DL 1000 XT: Reg om jou avontuur te begin

Die Suzuki DL 1000 XT (Foto: Willem Ebersohn)

Vandat Charley Boorman en Ewan McGregor om die wêreld gery het met die BMW 1150 GS, het almal saam met die stroom gegaan en begin “avontuur”-fietse maak. Maar hoe definieer jy “avontuur”?

ʼn Avontuurlustige paartjie uit Stellenbosch het met twee Chinese 200 cc-motorfietse Kaïro toe gery. Iemand het dit op ʼn Vespa gedoen en ʼn 80-jarige vrou met ʼn Corolla. Jy sien, avontuur kan jy nie voorskryf nie. Avontuur is nie die motorfiets self nie, maar wat jy met die motorfiets dóén. Dáár lê die regte avontuur. Suzuki het ook ʼn avontuurfiets, die DL 1000 V-Strom. Suzuki het egter nog verder gegaan en dit ʼn Sport-Avontuur-Toer-fiets gedoop. Probeer dit ʼn paar keer vinnig sê, sonder om te hakkel!

My eerste kennismaking met hierdie fiets bly my nou nog by. Die afmetings van die fiets het my lengte perfek gepas. Die motorfiets het my onmiddellik bekoor, en ek het met groot lof van hom gepraat.

Die Suzuki DL 1000 XT (Foto: Willem Ebersohn)

Die 2018 DL 1000 XT het nou in Suid-Afrika geland, en dit behoort die ideale platform te wees om jou avontuur te begin beplan. ʼn Paar klein kosmetiese veranderinge is aangebring en jy moet baie mooi kyk om die verskil op te merk. Die voorkant is minimaal verander en die skerm het met 5 cm gegroei. Dit is nog steeds verstelbaar deur drie posisies, vorentoe en terug, maar die hoogteverstelling verg gereedskap. Die voorste flikkerligte is nou hoër gemonteer en die fiets kry ook ʼn plastiekpensplaat. Hierdie plaat is bloot kosmeties. Ek glo nie hy gaan lank bly sit nie. Die allooiwiele is vervang met speekwiele en die goue kleur het gemengde reaksie uitgelok.

Die instrumentasie het onveranderd gebly, bloot omdat daar nie nog iets is wat Suzuki kon bysit by die volledige instrumentasie nie. Twee van Suzuki se onlangse vernuwings het ook nou bygekom, naamlik die “Easy Start System” en “Low RPM assist”. Laasgenoemde help dat die Strom nie stol op lae toere nie. Jy kan wegtrek sonder om aan die versneller te raak. Albei stelsels behoort jou dag-vir-dag-gebruik van die fiets net so bietjie makliker te maak. Daar is uitgebrei op die elektroniese hulpmiddels en die voor- en agterremme is nou gekoppel. Dit beteken wanneer een van die twee wiele begin sluit, word druk verminder op die kant wat in die moeilikheid is, en die druk op die ander kant word verhoog.

Vir die Sport in die benaming het Suzuki sy bewese 1 037 cc-V-twee-enjin net so oorgedra uit die vorige model. Kraglewering is net kort van 100 pk en bied genoegsame krag en wringkrag wat die Strom ʼn uitnemende lekker fiets maak om te ry.

Die Suzuki DL 1000 XT (Foto: Brian Cheyne)

Die sitposisie is regop en die saal is breed en gemaklik. Die wind pla jou nie, so hy Toer ook met gemak. Daar is reeds monteerpunte vir die opsionele Suzuki-bagasie.

Ek het die groot Strom vir ʼn week as pendelfiets aangewend en die naweek ʼn stofpaadjie gaan aandurf. Met sy groot enjin was kraglewering nooit ʼn probleem nie en ek sal sonder om ʼn oomblik te aarsel die lang pad aanpak. Op mý avontuur. En met die geld wat ek spaar om eerder die Strom te kies gaan ek genoeg geld oorhê om luukse verblyf te kan bekostig.

Die V-Strom is ʼn uitnemende fiets wat alles doen net soos dit op die pakkie staan. Dis jammer dat die meeste mense hom egter miskyk, maar dit is hulle verlies. Niks op die spesifikasielys staan uit as ʼn leier in sy klas nie, maar die groot Suzuki doen alles net soos Gouelokkies van haar pap gehou het: nie te warm nie, nie te koud nie, net reg!

Vir meer inligting, besoek die produkblad hier.

In ʼn neutedop:

Enjin1 037 cc-V-Twee
Gewig (nat)233 kg
Maksimum kraglewering74 kw/100 pk
Saalhoogte85 cm
Tenkkapasiteit20 L
PrysR165 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ben Niemand ·

Liewe aarde! Watse kabouters gaan op hom kan ry met ‘n 85mm saalhoogte? :D :D :D

Nel ·

Die artikel baie geniet. Iets wat ek graag sal wil besit. Pragtige foto’s en pragtige fiets!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.