Suzuki Hayabusa: Einde van ’n era

Die Suzuki GSX 1300 R, beter bekend as die Hayabusa. Foto: Brian Cheyne

Dis amper tyd. Die papierwerk is gedoen en nou staan die laksman nader om die byl te swaai en ’n einde te bring aan ’n legende. Die Suzuki GSX 1300 R.

Suzuki GSX 1300 R is sy volle doopname, maar die wêreld ken hom as die Hayabusa. In Europa het die Hayabusa vir lank die reëls ontduik en so een stappie voor die gereg gebly, maar die Euro 5-wip was gestel en die Hayabusa is vasgetrek.

Vir ’n fiets wat nou al 20 jaar diens doen, het Suzuki besluit om vervaardiging van die huidige Hayabusa te staak.

Die Hayabusa is in 1999 bekendgestel en selfs vir die 90’s was die fiets maar ’n onooglike skepping. Hy het egter net een doel gehad en dit was om die Honda Blackbird te onttroon as die vinnigste produksiemotorfiets ter wêreld. Met sy aërodinamiese lyne kon die Hayabusa die 300 km/h-merk verbysteek, iets wat die Blackbird nie kon doen nie.

Die Suzuki GSX 1300 R, beter bekend as die Hayabusa. Foto: Brian Cheyne

Hayabusa is juis die Japanse naam vir ’n swerfvalk, die vinnigste voël ter wêreld. In 2008 het Suzuki die enjin met 40 cc vergroot en ’n geringe opdatering aan die stilering gedoen. Met die uitsondering van hierdie kosmetiese veranderinge, was hierdie die enigste opdatering van die Hayabusa in sy leeftyd van 20 jaar.

Baie min fietse het so navolging soos die Hayabusa. Noem jy die naam in motorfietskringe, dan weet almal presies waarvan jy praat. Suid-Afrika se reëls is gelukkig nog nie so streng soos Europa s’n nie en jy kan nog vir ’n rukkie die Hayabusa te koop kry. Vir ’n fiets van sy vermoë en statuur is die prys van R205 900 glad nie sleg nie. Die jongste GSX-R 1000 kos amper R40 000 meer.

Toe ek die fiets gaan haal het by Suzuki, was dit vir my ’n groot oomblik. Ek het nog nooit ’n Hayabusa gery nie. Buite het ’n reënbui uitgesak. Om dinge nog moeiliker te maak, het die fiets ’n uur voor my aankoms ’n splinternuwe agterwiel gekry. My opgewondenheid het stadig begin omsit in angs.

In die middel sit ’n klein vloeikristal eenheid wat aandui in watter rat jy is en nie veel meer nie. Net die nodige is voor jou sonder fieterjasies. Foto: Brian Cheyne

Agter die wit-en-rooi bakwerk skuil daar ’n 1 340 cc enjin. Die systaander is kort en die fiets is redelik ver oorgehel na links. Ek klim maar op en kan elke een van die 266 kilogramme van die gewig voel. Ek weet dit sal weggaan as ek ry, maar dan moet ek eers in een stuk hier wegkom.

Die 21 liter brandstoftenk is groot en die reik na die lae handvatsels is ’n entjie. Voor jou is twee groot sirkels en drie kleintjies. Die grotes bevat die analoog spoedmeter en toere teller. Twee kleiner wysers aan weerskante wys brandstofvlak en enjintemperatuur.

In die middel sit ’n klein vloeikristal eenheid wat aandui in watter rat jy is en nie veel meer nie. Niks kan jou aandag aftrek nie. Net die nodige is voor jou sonder fieterjasies. Ek probeer die reënprogram opspoor, maar tevergeefs. Hayabusa-ryers het nie sulke tierlantyntjies nodig nie.

Met die ligste versneller-insette ry die Suzuki mak soos ’n lammetjie weg. Ek is verbaas oor hoe glad hierdie enjin is. Onder my is ’n legende van spoed en hier ploeter ek in die reën kantoor toe met hom. Die reën het darem bedaar en ek moet sê om hierdie fiets vrye teuels te gee op ’n oop stuk pad is ’n belewenis.

Die Suzuki GSX 1300 R, beter bekend as die Hayabusa. Foto: Brian Cheyne

Jy besef nie hoe vinnig hierdie fiets is tot jy afkyk op die instrumente nie. In enige rat, teen enige revolusie, kan jy maar net oopdraai en hierdie fiets sal net genadeloos versnel. Dit hou ook nie op nie. My moed begewe my lank voor die fiets uitasem raak. Een van my vriende het al hierdie fiets op ’n baan gehad en hy het opgemerk dat 280 en 180 presies dieselfde voel. Die fiets is ongelooflik stabiel teen enige spoed en het Brembo-knypers as jy in die knyp raak.

Dit is ’n groot jammerte dat ’n fiets soos die Hayabusa moet uittree, maar Suzuki het reeds begin terg met sketse wat lyk soos die nuwe Hayabusa. Suzuki sal net eenvoudig moet uithaal en wys. Met hierdie fiets se aanhang wêreldwyd sal dit wys wees om ’n plaasvervanger gou aan te wys.

Maar as jy nog ’n tikkie geskiedenis wil aanskaf, gaan maak maar ’n draai by jou naaste Suzuki handelaar. Hierdie fiets se fut is nog nie uit nie!

Produkblad: http://suzukimotorcycle.co.za/bikes/super-sport-bikes/hayabusa/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Stripes ·

Dit is baie jammer. Ek het my mees opwindenste langpad ritte en bergpasplesiertjies met my Busa gehad. Dit bly ‘n ikoon.

Andre Stander ·

Pragtig…. Ek sal my linker nier verkoop vir so n motorfiets

Pieter ·

Dis snert. Die opskrif…. Einde van ‘n era?? Maar jy skryf dat Suzuki reeds werk aan ‘n Gen 3 Hayabusa??? Dis dan mos nie die einde nie??? Definetief die laaste Gen 2’s maar gladnie die einde nie. Die 2019 model Gen 2 met die nuwe kleure is sopas ge-“launch” in Amerika. Slegs in Europa is dit nie beskikbaar nie agv die Euro-5 wet. Dink mooi voordat jy so ‘n opskrif skryf. Die skrywer probeer slegs reaksie uitlok

Pieterbusa ·

Snert!!! Definetief nie die einde van ‘n era nie. Die 2019 Gen 2 met die nuwe keure is sopas bekend gestel in Amerika. Die Gen 3 is oppad, Soos die skrywer dit self daar noem, Suzuki is hard besig. Die opskrif is erg misleidend en slegs om aandag te trek. Hoekom sal Suzuki poduksie stop op een van hulle beste verkopers die afgelope 20 jaar? Brian Cheyne, jy stel teleur.

Jepetto ·

Baie mense het hulle lewens al veloor op die fiets dit is a verskriklike kragtige masjien moenie een aanskaf as jy nie baie goed kan ry nie

Vraagteken ·

Hi Jepetto, ongelukkig geld dieselfde vir enige motorfiets bo 750cc. Die enigste verskil is dat die Hayabusa ongelooflik stabiel op die pad is. Met ander woorde, hierdie fiets is ‘n klein bietjie veiliger as enige motorfiets.

Gys ·

Dikwels is dit wel ‘n geval van “die einde van ‘n era” wanneer die eerste model met ‘n nuwe een vervang word. Dink maar aan die oorspronklike Volksie Kewer wat deur ‘n nuwe en beter model vervang is. Of indien Landrover die Defender met n nuwe model gaan vervang.

Vraagteken ·

Gys, wees asb bewus dat die huidige Hayabusa, soos verwys in die artiekel, alreeds die tweede generasie is. Die tweede generasie was net ‘n evolusie van die eerste generasie.

Brian Cheyne ·

Pieter, ek is jammer ek het op jou tone getrap, maar laat ek probeer verduidelik. Geen Hayabusa mag na 31 Desember 2018 in Europa verkoop word nie. Hierdie reel het al in 2016 van krag gekom maar Suzuki het ‘n klein skuiwergat gekry waar hulle nog vir twee jaar bestaande voorraad kon verkoop het. Geen nuwe Hayabusa mag egter nou in Europa geregistreer word nie.

Jy is heeltemal reg as jy se dat die 2019 Hayabusa nog in Amerika verkoop word. Selfs hier is dit die 2019 model, maar dit is te danke aan Suzuki wat voorraad opgebou het om aan die aanvraag te voldoen. Vervaardiging van die Hayabusa is in Japan gestaak.

Suzuki het egter nog nie ‘n plaasvervanger nie, en die plaasvervanger sal seker eers teen 2020 bekend gestel word.

So in effek is hierdie die einde van ‘n era. Die nuwe era sal begin met ‘n nuwe Hayabusa wat aan al die nuwe regulasies sal moet voldoen en sal ‘n heel nuwe fiets wees.

Ek het nie bedoel om ‘n wanindruk te skep nie en ek glo die nuwe ‘busa sal net so fenominale fiets wees soos hierdie een.

Pieterbusa ·

Dankie Brian. Ek ry nou my 2de Busa en ja, dit is uniek en steeds asemrowend elke keer as ek die pad aandurf. Gevaarlik? Definetief. Maar na meer as 130 000 Kilos op ‘n Hayabusa in die laatse 12 jaar is ek steeds gespaar en geniet elke oomblik op my fiets. Ek sien uit na die Gen 3.

Vraagteken ·

Hi Brain, jy moet asb ons Hayabusa manne vergewe. Ons is maar sensitief oor sake na aan die hart. :):):)

Brian Cheyne ·

Toemaar Vraagteken. Ek het geweet hierdie is ‘n teer sakie. Ek kon nie glo dat, na 20 jaar, hierdie maar die 2de generasie is nie. Maar net soos die Kawasaki KLR 650 kon hy nie vir ewig bestaan nie. Ek sal in 2020 heel voor in die ry gaan staan om die nuwe een te ry, dan sal ek my woorde meer versigtig kies!

Jack Klok ·

Die Prediker sê in hoofstuk 3 daar is vir elke ding ‘n tyd. ‘n Tyd om te begin en ‘n tyd om op te hou. Dit geld ook vir die vervaardiging van Hayabusas. Pieter, moenie so kleinserig en punteneurig wees nie.

Vraagteken ·

#Jack Klok, jy moet dalk mooi dink wat jy sê. Waar anders gaan jy ‘n fiets soos die’ kry teen daardie prys? Die Hayabusa is een van die maklikste fietse om aan te werk en hulle is amper bulletproof.

Jean van der Riet ·

Manne , luister mooi !!! lol

EK het twee gehad , pragtig op die lang pad en pret op Kayalami tot op n punt . Was altyd n ikoon maar sy tyd is klaar .

Ps , My ZX14R was all round n lekkerder fiets , by ver …… en my huidige Kawasaki H2 sal die Busa en die ZX14 se gat skop , enige tyd , enige plek , enige pad …….. die einde !!!!

Piet Snot ·

Brian, vertel ons net: wat is die Europeërs se pyn met die fiets?
Wat is daar in Euro 5 wat verkoop vd fiets onmoontlik maak?

Skrikwakker ·

300 kmh hahaha. In middel 80 s was daar al 500 two strokes wat die spoed kon doen. Niks spesiaal aan die scooter.

Brian Cheyne ·

En watter fiets was dit? Onthou ons praat van standaard produksie fietse wat jy by jou plaaslike handelaar kon koop.

Brian Cheyne ·

Dit gaan hoofsaaklik oor koolstof- en klank vlakke. Hoekom dink jy het moderne motorfietse sulke yslke knaldempers? Die ou Kawasaki KLR 650 het maar dieselfde pad geloop. Om die ouer enjins aan te pas om aan die nuwe reels te voldoen is net nie koste effektief nie. Die Hayabusa het al van 2016 af nie voldoen nie, maar Europa het ‘n grasie periode toegestaan aan vervaardigers om huidige voorraad te kon skuif. Daardie periode het op 31 Des 2018 verstryk. Suid-Afrika dwing nog nie hierdie reels af nie, so jy kan nog so fiets hier koop, en ook in Amerika in Indie byvoorbeeld. Nou met nuwer Euro reels gaan die Hayabusa beslis nie voldoen nie.

Frikkie Brits ·

Hallo Blackbird my old friend,
lets go eat Hyabusas….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.