Suzuki kry turbo-hupstoot

Die Suzuki Swift Sport 1.4 Turbo. (Foto: Verskaf)

Suzuki het vandeesweek sy splinternuwe Boosterjet 1.4 viersilinder-turbopetrolenjin met direkte brandstofinspuiting in Suid-Afrika bekendgestel. Die twee modelle met dié enjin is die nuwe Suzuki Swift Sport en die Vitara.

Suzuki Auto Suid-Afrika het in 2008 sy deure oopgemaak. Dié vervaardiger het die mark met sy Swift en Grand Vitara betree. Sedertdien het Suzuki letterlik van krag tot krag gegaan. Net meer as ʼn jaar gelede het hulle vir die eerste keer meer as ʼn duisend voertuie per maand verkoop. In die groter motorbedryf is dit regtig ʼn indrukwekkende prestasie.

In Suzuki se geval is dit des te meer indrukwekkend as ʼn mens daaraan dink dat dié vervaardiger jaar op jaar ʼn 37%-verbetering oor die vorige jaar gehad het – in ʼn mark waarin nuwe voertuie swaar trek. Dán sien ʼn mens dat hulle in Junie 2019 meer voertuie as BMW en Kia verkoop het. Dít wil gedoen wees.

Die Suzuki Vitara 1.4 Turbo. (Foto: Verskaf)

Baie mense sal sê dat een van hul struikelblokke die gebrek aan turbo-enjins is. Met die koms van die Boosterjet-enjin duidelik nie meer nie.

Ek moet erken, ek is ietwat bekommerd oor die nuwe Boosterjet 1.4 viersilinder-turbopetrolenjin. Ek is gek oor Suzuki se atmosferiese enjins. Hulle is lief vir toere en kán loop as jy die naald in die rooi druk, sonder om swaar te wees op brandstof as jy net werk toe ry.

Die Boosterjet bring wel goeie nuus. Die Japannese sou nie tevrede gewees het indien hulle nie ʼn lekker karakter in die enjin kon inbou nie. Nee, hy is nie meer só lief vir toere soos in die vorige Swift Sport nie, maar ʼn mens kry ʼn magdom meer wringkrag. Die nuwe Boosterjet het ook direkte brandstofinspuiting, so versnellerreaksie is vlymskerp én die enjin is lig op brandstof.

Die Suzuki Swift Sport 1.4 Turbo. (Foto: Verskaf)

Om die baan is die Swift Sport ʼn fantastiese speelding. Die kwaliteit van die Swift Sport is ʼn merkbare verbetering op die gewone Swift. Die Swift Sport word in Japan gebou, en die gewone Swift in Indië. ʼn Mens kan dit voel, maar ook sien in die groot verskil in prys. Waar die Swift Sport nóg ʼn veer in die hoed kry is in sy gewigsverlies. Meeste voertuie word net groter en groter, maar Suzuki het die nuwe Swift Sport dieselfde grootte gehou as voorheen, maar tóg 90 kg verloor.

Die nuwe Swift Sport is beskikbaar in een spesifikasievlak, een enjin en twee ratkaste – ʼn 6-spoed handrat óf ʼn 6-spoed outo. Ons het min tyd met die outo deurgebring – letterlik die arme ding soos malgoed om ʼn gimkana gejaag. My eerste indrukke is goed. Die handrat is lekker glad en die koppelaar sag.

Die Suzuki Vitara 1.4 Turbo. (Foto: Verskaf)

Die Swift Sport kom met unieke sportsitplekke en Suzuki se 7”-raakskerm inligtingstelsel met Android Auto en Apple Carplay. Verder is daar klimaat- en spoedbeheer en truratkamera. Die Swift Sport spog met ses lugsakke, ABS, EBD, stabiliteitbeheer en Isofix-monteringspunte vir karstoeltjies. Ons het nog nie tyd met die Swift Sport op die pad deurgebring nie, maar wat op die baan gevoel kon word, is regtig goed. Die hantering is puik en die karretjie verskriklik rats.

Die Vitara is ʼn lekker kruismodel en ʼn mededinger vir Nissan se Qashqai. Al probleem voorheen was die gebrek aan turbo’s in daai segment. Die Vitara is netjies gebou met goeie gehalte en nou met die Boosterjet-enjin en ook óf ʼn 6-spoed handrat óf 6-spoed outo het Suzuki die Vitara nóú ʼn ware mededinger gemaak. Die Vitara reis regtig lekker gemaklik op die snelweg en die enjin is verbasend sterk. Die Vitara kry dieselfde ses lugsakke, ABS, EBD en stabiliteitsbeheer, klimaat- en spoedbeheer én die truratkamera. Die kattebak is heel billik en beenruimte agter heel goed vir volwassenes.

Die bekendstelling was ʼn warrelwind uitdagings op die baan, gimkana en pylvakrenne. Ons sal weer tyd met dié twee deurbring en beter verslag gee oor elkeen en hoe hy hom van dag tot dag gedra.

Die Swift Sport reeks lyk só:

Suzuki Swift Sport 1.4 Turbo handratR315 900
Suzuki Swift Sport 1.4 Turbo outoR335 900

Die reeks word gedek deur Suzuki se 5 jaar/ 200 000 km waarborg en ʼn 4 jaar/ 60 000 km diensplan.

Die Vitara Turbo reeks lyk só:

Vitara 1.4 Turbo GLX handratR378 900
Vitara 1.4 Turbo GLX outoR397 900

Die reeks word gedek deur Suzuki se 5 jaar/ 200 000 km waarborg en 4 jaar/ 60 000 km diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Umo ·

Moeilik om te raai wat die nuwe enjin se krag lewering is, of is dit nog n geheim?

Morrie ·

Dit is presies wat ek nou sit en dink. Hoe moet mens nou die enjin se krag lewering vergelyk as jy nie eens weet wat dit is nie. Nie te min, ek is n grooot Suzuki ‘fan’ en mal oor hulle voertuie, al wat my geswaai het na die polo toe wat ek tans ry was die feit dat ek NIKS van die nuwe swift se semi-auto ratkas hou nie. Verder is dit n BAIE lekker karretjie.

Perspektief ·

Ag ek het o lekker gelees aan die stuk, en watertand gewag vir die deel wat die kraglewering dui. Verstout jul self asb en gee dalk kraglewerings-kurwe ook…sal graag wil sien op watter toere die kw en Nm hardloop. Wat is die 0 -100 sekonde lesing?

Vraagteken ·

Die gebrek aan ‘n turbo aanjaer is glad nie ‘n struikelblok nie. Inteendeel, dis iets minder wat verkeerd kan gaan. Ek is ‘n groot fan ‘n Suzuki omdat hulle nie probleme gee nie.

Bleek Willem ·

As ek ‘n oorsig van ‘n kar lees soek ek allereers kragsyfers in al die getjommel ook verligte smukspieëltjies en raakskerms.
Bonus as die skrywer weet teen watter toere die enjin piek.
As die kar dan “pap” is lees ek nie eens verder nie al het hy 7 lugsakke en ‘n koelkassie vir jou energiedrankie.

Andre ·

Ek het heelwat internasionale toetse oor die karretjie gelees. Dit gaan hier nie net oor brute krag nie,die karretjie se lae gewig en ratsheid maak van hom groot pret.Selfs die gewone 1.2 verbaas my elke dag .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.