Suzuki SX4 – waarde vir geld?

Foto: Quickpic

Foto: Quickpic

Anders as die vorige geslag Suzuki SX4 met sy 2-liter enjins, het die jongste geslag van hierdie gewilde motor meer lyf bygekry en met 15 cm gegroei, maar terselfdertyd ‘n kleiner 1.6-liter enjin gekry. 

Daar sal altyd mense wees wat glo dat hierdie 86 kW-kragbron aan die vereistes voldoen. Ek is nie een van hulle nie – veral nie teen ‘n prys van R319 900 vir die 5-spoed handrat GLX nie.

Wat hierdie 1.6-liter wel bied is uitstekende brandstofverbruik in die orde van 5.8 liter/100 km, ‘n gebalanseerde enjin wat so stil loop dat ‘n mens tydens luiering kort-kort na die toereteller moet loer of te sien of dit steeds loop, Wanneer in gedagte gehou word dat ons toetsmotor met die sogenaamde AllGrip 4-wielaandrywing toegerus was, is dit miskien te verstane dat versnelling nou nie juis jou asem sal wegslaan nie.

Hy ding wel mee met Nissan se Juke, maar ek het tog die gevoel dat die Juke se ekwivalente model waarskynlik meer krag (en dus pret) sal bied.

Die SX4 se grootste probleem, na my mening, is juis die kleiner enjin, ‘n verdwaalde 3e ratverhouding wat min woema het en ‘n irriterende neiging om, soos Toyota Corollas van ouds, te ‘sweef’ en voortdurende stuurkorrigering vereis.

Die nuwe Suzuki SX4 is onmiskenbaar sportief en aangrypend wat sy voorkoms betref, en het ook aansienlik meer pakplek as vorige modelle.

Die CO2-uitlaatgasvlak van 137 g/km beteken dat die Zuma-regime net R1 453-50 as sogenaamde CO2-belasting kan plunder. Dit beteken dat die SX4 onder die meerdoelsegment se eko-vriendelikste voertuie tel.

Suzuki se dinamiese meerdoeler is met die twee verskillende ratkaste beskikbaar. Buiten die beproefde vyfgang-handratkas kan die SX4 ook met ’n sogenaamde CVT (wat nie getoets is nie) toegerus word – ’n ratkas met voortdurend veranderende verhoudings wat rats versnel en suinig met brandstof te werk gaan.

Die bekendstelling van die jongste SX4 gaan gepaard met die eerste aanwending van Suzuki se spinternuwe AllGrip-vierwieldryfstelsel. Die stelsel bied hoë vlakke van bestuursgenot, betroubare en gerusstellende veldryvermoë, en is boonop ekonomies.

Die bestuurder gebruik ’n draaikontrole in die middelkonsole om die modus te kies wat die beste by pad- en bestuurstoestande pas.

Die ‘Outomatiese’ modus is veral vir gewone, ekonomiese bestuur geskik, en krag word vanself na die agterwiele oorgedra wanneer die voorste wiele begin tol.

In ‘Sport’ word die krag aktief tussen die voor- en agteraste versprei ter wille van beter hantering in draaie. Groter klem word op enjinreaksies en wringkraglewering geplaas om so versnelling te bevorder, en die maksimum-toeretal vir die CVT-ratkas word ook verhoog. Die stabiliteitsbeheer word ook aangepas om ’n meer geesdriftige bestuurstyl toe te laat.

Die ‘Sneeu’-verstelling werk op gladde teer- en grondpaaie, en versprei die krag aktief na gelang van stuur- en versnellerinsette om optimale traksie te bewerkstellig. Die traksiebeheer tree ook vroeër in werking.

Die ‘Sluit’-modus word benut wanneer die SX4 in modder of sand vasval, en dit nodig is om meer krag aanhoudend na die agterwiele te stuur. Stabiliteitsbeheer tree nie onmiddellik in werking om wieltol te beheer nie, en laat dus toe dat meer krag die wiele bereik, terwyl ’n remgerigte traksiebeheerstselel oormatige wieltol beperk.

Die SX4 GLX-weergawes beskik ook oor ’n hellingrolperkstelsel, wat keer dat die motor teen hellings voor of agteruit rol. Die stelsel maak dit maklik om teen steil hellings weg te trek.

’n 5-ster Euro NCAP gradering en die gevorderde stabiliteitsbeheer word ondersteun deur ABS-sluitweerremme met elektroniese rembystand.

Die lys passiewe veiligheidskenmerke is eweneens volledig, met twee lugsakke voor, twee kantlugsakke, twee gordynsakke en selfs ’n knieskermsak. Die ISOFIX-ankers vir kleuterstoeltjies is ook deel van die veiligheidspakket.

Afgesien van my probleem met die SX4 se kraguitsette was ek beïndruk met die puik bougehalte, groter en indrukwekkender voorkoms, ruim bagasiebak, feitlik volmaakte verfgehalte en ‘n gevorderde klankstelsel met kontroles wat eenvoudig was om te gebruik.

Die puik ondersteunende sitplekke en bedagsaamheidjies soos ‘n addisionele 12V-kragsok in die bagasiebak, asook die 3-jaar/90 000 km diensplan, het die ietwat strawwe prys darem meer aanvaarbaar gemaak.

Die Suzuki SX4 is nou nie juis verstommende waarde vir geld nie, maar teen sy prys kry die koper darem ‘n voertuig wat behoorlik aanmekaar gesit is en wat waarskynlik lank sal hou – met ‘n goeie inruilwaarde as bonus.

Dis dus die ideale voertuig vir mense wat na meer as blote prys kyk.

Maar ek verlang nog steeds na die vorige reeks se 2-liter!

En daardie mini-noodwiel bly ‘n pyn.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.