SYM NH-T 125: Avontuurfietsie vir beginners

Foto: Verskaf.

Ek onthou hoe ek as 15-jarige deur die venster gekyk het na my toekomstige motorfiets. Ek is al op vyf skool toe gestuur, want my ma kon nie met my huis hou nie. Die gevolg was dat my klasmaats almal ’n jaar ouer as ek was. Toe hulle 16 geword het en kon motorfietse kry, was ek nog 15 en sonder ’n motorfiets. Boonop is my verjaardag in Junie, wat die wag net soveel langer gemaak het.

Ons keuses was beperk tot 50 cc-motorfietse van Suzuki, Yamaha en Kawasaki. Deesdae ry almal groot avontuurfietse en ek wonder altyd of hierdie mense se kinders se hunkering na ’n motorfiets ook so groot is soos myne was. Gelukkig vir die nuwe geslag is die opsies nie meer so beperk nie en die kapasiteit vir ’n beginnerfiets is darem nou opgestoot na 125 cc.

Die Taiwannese vervaardiger SYM het onlangs sy nuwe NH-T 125 in Suid-Afrika bekend gestel en ek moet sê hierdie fiets lyk nie te onooglik nie. Ek wil sommer uit die staanspoor ruiterlik erken dat ek maar gesukkel het op die kleinkapasiteitfietsie, maar hierdie fiets is nie op my gemik nie. Hierdie fiets is vir die jongmens wat droom om op avonture te gaan soos sy ouers.

Die stilering van die SYM het heelwat elemente van groter avontuurfietse. Die groot 19″-voorwiel met speekwiele laat die SYM groot vertoon. Die voorkant sluit die verpligte “snawel” in en daar is selfs ’n pensplaat om die prentjie af te rond. Dit is egter van plastiek en dalk nie so duursaam soos dit moet wees nie.

Die SYM beskik oor skyfremme voor en agter en hulle gebruik SYM se Combined Braking System (CBS). Net soos die naam aandui, is die voor- en agterremme gekoppel om die remkrag eweredig tussen die twee skywe te versprei. Voor het die NH ’n lywige 288 mm-skyf en ek het geen probleem gehad om hierdie fietsie doeltreffend tot stilstand te bring nie. Die fiets beskik nie oor sluitwering nie.

Die fiets is redelik hoog, maar die handvatsels is, vir my, te naby aan my. Ek voel beknop op die fiets, en die saal is so gevorm dat ek nie verder kon terugskuif vir meer gemak nie. My vrou, daarenteen, het weer die fiets uiters gemaklik ervaar. Die saal is goed gevorm en bied genoeg ondersteuning.

Die instrumentepaneel is ’n vloeikristaleenheid en lyk heel elegant. Daar is selfs ’n USB-sok op die fiets wat jy kan gebruik om jou foon te laai.

Die 124 cc-enkelsilinderenjin in die SYM lewer net 10 pk. Dit het nie goeie dinge voorspel vir die verrigting nie. Ek kon met gemak by 80 km/h uitkom, maar hoër spoed het ’n baie gelyk pad gesoek. Verkieslik een met ’n effens afwaartse helling. Die aandrywing geskied deur ’n 5-spoed-ratkas en ek kon 116 km/h behaal voordat die fiets sy maksimum toere bereik het. ’n Sesde rat sou welkom gewees het, maar ek twyfel of die enjin nog een rat sou kon hanteer.

Ek en ’n vriend, op ’n soortgelyke fiets, het in ons omgewing ’n stofpad gaan opsoek en die NH het hom glad nie sleg van sy taak gekwyt nie. Al is dit so ’n klein fietsie, kon ek gemaklik opstaan en die fiets die knikke laat absorbeer. Die 19″-voorwiel is ideaal vir hierdie soort paaie en met die laer spoed het die NH baie meer gemaklik gevoel.

Die SYM NH-T 125 is vir iemand wat pas sy leerlinglisensie gekry het, en iets soek waarmee hy elke dag kan ry en naweke lekker kan speel. Dalk is daar ’n 16-jarige êrens wat op sy selfoonskermpie loer na die NH en droom oor avonture. Gaan loer gerus. Dit is ’n baie bekwame klein fietsie, en teen R25 995 is hy ook nie sleg geprys nie.

Produkblad: http://sym.co.za/product-details/nh-t125/

Die feite:

Enjin124 cc-enkelsilinder
Gewig ( Nat )150 kg
Kraglewering7,5 kW @ 8 500 rpm
Wringkrag9,5 Nm @ 6 500 rpm
Tenkkapasiteit11 l
PrysR 25 995

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KrokodilBotha ·

Interesant Yamaha het weer n DT 125 2 stroke te koop by ons. Mal prys, vir so ou fiets. Dromme voor en agter nog. Baie jammer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.