Takumi-vakmanne kan vir die Duitsers ʼn ding of twee leer

Foto: Verskaf

As ʼn mens aan Japanse motors dink is dit dadelik eenvoudige, bekostigbare dog rateltaai rygoed soos Toyota se Corolla wat by jou opkom. Ek was nou al bevoorreg om met amper elke fabrikaat te ry behalwe ʼn klein handjievol van die supermotor-vervaardigers. Ek kan met alle sekerheid sê – Lexus se Takumi-vakmanne weet wat luuks is.

Die 2020 Lexus RX is ʼn lieflike sportnutsvoertuig. Lexus bly in sy eie baan en steur hom glad nie aan dít waarmee die Duitsers besig is nie. Die Lexus RX se enjin staan vir my uit as ʼn filosofie waarin die Japanners glo, en hulle gaan nie afwyk nie – maak nie saak wat die mededingers doen nie. In hedendaagse tye is dit verfrissend.

Foto: Verskaf

Die opgeknapte RX word deur Lexus se romerige 3,5 V6 aangedryf. Die enjin bied 221 kW en 370 Nm. Krag word na al vier wiele gestoot deur ʼn 8-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas. Die resultaat is ʼn lieflike, gladde versnelling sonder enige stampe of rukke. ʼn Mens kan voel dat die ervaring en luuksheid van die RX is meer belangrik as verrigting. Die RX kan sy naelloopskoene aantrek en van stilstand 100 km/h bereik in omtrent 8 sekondes en is beperk tot ʼn topspoed van 200 km/h terwyl hy 9,6 ℓ/ 100 km kan bied op die gekombineerde siklus.

Foto: Verskaf

Die binneruim is waar ʼn mens éérs die luukse gevoel begin waardeer. Dit sitplekke is ruim en kan op elke denkbare manier stel om te verseker dat jy 100% gemaklik is. Die res van die kajuit is ergonomies uitgelê en die materiaal van die boonste rakke. Die reuse nuwe 12,3”-raakskerm inligtingstelsel bied CarPlay en Android Auto so wel as MyLexus wat 15Gb data insluit en WiFi bied in die kajuit.

Die ritgehalte is asemrowend sag en soepel en padhouvermoë voorwaar goed vir dié klas voertuig. Ek het die RX450h deur sy passe geneem op ʼn nat Outeniquapas en die RX het hom puik gedra. Die nuwe F-Sport- spesifikasie kry verskeie visuele opknappings wat vir die RX ʼn effe meer sportiewe voorkoms gee. Ek hou veral van sy unieke instrumente.

Foto: Verskaf

Die RX450h hibridiese model kry ʼn splinternuwe tegnologie wat Lexus noem: AHS with Bladescan Technology. Dit is ʼn aanpasbare hoëstraalstelsel. Ander LED-ligstelsels skyn die ligte direk op die pad. Bladescan rig die lig terug na ʼn lemspieël wat teen 12 000 r/min draai. Die stelsel stel die ligte in staat om die strale te skyn waar dit nodig is en nie in die ander motoriste se oë nie.

Ons sal weer tyd met die Lexus RX deurbring en hom dán in diepte teen sy mededingers vergelyk, maar eerste indrukke is puik. Die Lexus RX staan heeltemal een kan sy eie skoene vol sonder om die Duitsers te volg, en dit is beslis geensins ʼn slegte ding nie.

Die reeks lyk só:

Lexus RX350 EX221 kW/ 370 Nm9.6 ℓ/ 100 kmR1 012 000
Lexus RX350 RX221 kW/ 370 Nm9.6 ℓ/ 100 kmR1 087 000
Lexus RX350 EX L216 kW/ 358 Nm10.2 ℓ/ 100 kmR1 087 000
Lexus RX350 F-Sport221 kW/ 370 Nm9.6 ℓ/ 100 kmR1 132 200
Lexus RX450h SE230e kW/ 335 + e Nm5.7 ℓ/ 100 kmR1 315 800

Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/ 105 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplan. Die waarborg op die hibried-battery is 8 jaar/ 195 000 km. Diensintervalle is elke 15 000 km.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.