Tegnologie ingespan om lisensiehernuwings te vergemaklik

Byna alle motoriste wat al ʼn bestuurslisensie moes hernu ken die frustrasie van lang rye en ure se gewag om dié onvermydelike takie afgehandel te kry.

Nou het die Tshwane-metro tegnologie ingespan om dié proses aansienlik te vergemaklik vir inwoners.

Die stad het ʼn webwerf bekendgestel waar motoriste ʼn afspraak kan maak by enige van die stad se lisensiekantore (Centurion, Akasia, Waltloo en Bronkhorstspruit) om hul bestuurslisensie te hernu.

Dit beteken dat bestuurders met hul aankoms by die lisensiekantoor verby die ry kan stap, reguit na die hoofdeur, en hul afspraakvorm aan die beampte aan diens kan toon van waar hulle na die regte toonbank verwys sal word.

Daar sal die nodige inligting op die stelsel aangebring word en die aansoeker sal die hernuwingsfooi betaal. Indien die bestuurder op die webwerf van die afleweringsopsie gebruik gemaak het, sal die nuwe lisensiekaart by sy gekose adres afgelewer word.

Die beste aspek van dié diens? Dit is heeltemal gratis. Die webwerf is onafhanklik deur Online Company SA ontwikkel. Volgens inligting op die webwerf kom dié aanlyn-aansoekstelsel net betyds vir die sogenaamde “vyf jaar stormloop” by lisensiesentrums.

Bestuurders is van 1998 tot 2003 kans gegee om hul bestuurslisensies te laat oorskakel van die lisensie wat in die groen ID-boekies aangebring is na die lisensiekaarte wat vandag gebruik word. Die meeste bestuurders het egter tot op die nippertjie gewag om die oorskakeling te doen en het dit eers begin 2003 gedoen. Vyf jaar later, in 2008, toe al dié lisensiekaarte verval, was daar ʼn stormloop by lisensiekantore van bestuurders wat hul lisensies wil hernu.

Dieselfde het in 2013 gebeur en word weer vir 2018 verwag.

Die Tshwane-metro het gesê hy is bewus van ander onafhanklike aanlyn toepassings wat ʼn soortgelyke diens teen ʼn fooi bied en dan vir die aansoeker ʼn plek in die ry oophou. “In teenstelling hiermee is die Online Company SA-toepassing deur ʼn toetsperiode gesit om die werkbaarheid en algemene aanlyn integriteit en funksionaliteit van die diens te toets. Daar is gevind dat dit ʼn dawerende sukses is, teen geen koste vir die gebruiker nie.”

“As die stad besef ons dat die tyd wat in rye deurgebring word ʼn negatiewe impak op die ekonomie oor die algemeen het. Dit is eweneens ongewens dat baie bestuurders die volgende dag weer moet terugkeer, aangesien die diens nie op die eerste dag van aanmelding by die lisensiekantoor verseker kan word nie.”

Bestuurders wat graag van die diens gebruik wil maak, kan www.onlinecompanysa.co.za besoek om ʼn afspraak te maak.

Motoriste wat van dié diens gebruik maak, moet ʼn sertifikaat (van nie ouer as drie maande nie) van ʼn oogkundige of oogarts saambring wanneer hulle vir die hernuwing van ʼn bestuurslisensie aansoek doen. “Daar is bewys dat, deur hierdie sertifikaat saam te bring, dit die tyd wat tydens die hernuwingproses deurgebring word met tot 60% verminder.”

Bestuurders wat deur hierdie webwerf aansoek doen, maar nié ʼn so ʼn sertifikaat saambring nie, sal dan saam met ander aansoekers in die ry moet staan om ʼn oogtoets by die lisensiekantoor te laat doen en sal nie voorkeur kry in hierdie opsig nie.

Die stelsel maak tans slegs voorsiening vir bestuurlisensie-hernuwingaansoeke. Aansoeke vir eerste bestuurslisensies, leerlinglisensies of hernuwing van professionele bestuurspermitte kan nie deur die webwerf gedoen word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anita ·

Ek het vanmiddag my lisensie hernu met hierdie metode. Tjoef-tjaf – klaar in 15 minute! Dankie ‘The Online Company’!

Andre ·

Net n vraag, as meeste van die mense nou aanlyn aansoek doen gaan die ry mos weer begin lank raak dit kan seker goed werk as nie baie so aansoek doen nie

M ·

Andre, Jy maak ‘n afspraak vir ‘n sekere tyd en dit verseker dat daar nie lang toue is waarin jy moet wag nie.

Gesiggie ·

Die klink vir my na n goeie plan”’maar hoekom waar daar net sekere stede genoem ?? wat van Mbombela??

Lyfie ·

Want dit moet nog uitbrei. Net soos wat Gauteng n internationale lughawe het, en Mbombela nie.

Anoniem ·

Ek wil die persoon wie se idee dit is asb nomineer vir die Nobelprys vir vrede, want mens voel wraggies onvredig is jy ‘n halwe dag in daai rye spandeer het!

Renier Lubbe ·

Die nuwe foto word geneem deur die beampte wat jou hernuwing hanteer wanneer jy aanmeld. Alles binne 15-20 minute.

Lea ·

My man het sy lisensie al 2maande gelede uitgeneem, ons het al 5 keer Bronkhortspruit toe gery net om te hoor die kaart het nog nie gekom nie…die laaste keer was die “masjien” glo stukkend… useless verby…Wanneer word Rayton weer in werking gestel..sal graag wil weet

Lee ·

Wag volgende keer dat hulle jou laat weet voor jy onnodig ry.

Johan ·

Lee, hulle is veronderstel om jou te laat weet as die lisensie daar is. Gebeur egter nie altyd nie (dalk het jy ‘n SMS gekry – goed vir jou). My dogter het haar lisensie in Februarie die jaar hernu. 7 weke later – geen SMS. Gaan Centurion toe. Toe is die lisensie daar…………..met ‘n fout! Ja, haar foto het sleg uitgekom. Sal haar nie laat weet nie (hulle het haar selnommer). Hulle neem weer foto. 6 weke later (toe haar “ou” lisensie al verval het)……….. hoor steeds niks nie. Gaan Centurion toe. Aaah, lisensie is daar. Vat maar net en loop. Moenie vrae vra nie, want ons weet antwoorde sal daar nie wees nie. So – hulle laat weet nie altyd nie. Seker maar die “error op die system” .

JoeV ·

Bied jou nou aan, gemeenskaps diens met gemeenskaps belasting geld… waar in die wereld man het mens dit al gesien?
Bied jou nou aan, ek gaan hernu sommer die ding!

Ronell ·

Ek het ook die webwerf besoek. Die heel eerste wat ek opgemerk het is dat dit ‘n “unsecure” webwerf is …………. dit alleen moet enige mens honderd keer laat dink of hy/sy wel daardie onveilige webwef wil gebruik; tweedens die feit dat die online maatskappy die diens gratis voorsien is vir my net so twyfelagtig, niemand verskaf iets gratis indien die maatskappy nie “iets” daaruit gaan kry nie. Onthou jy verskaf al jou persoonlike besonderhede, (id, tel, sel, volle naam en van) op hierdie onveilige webwerf. Wat kan gebeur? Wel jy stel jouself bloot aan identiteitsdiefstal; en, ek sal nie verbaas wees as die online maatskappy saam met telefoon “verkoopsagente” werk deurdat jou inligting aan hulle verkoop word, en jy derhalwe dag en nag lastig geval word deur hierdie telefoon verkope nie. Ek het myself maar eerder van die aanlyn bespreking weerhou en in die ry gaan wag vir my eie veiligheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.