Totale motorverkope vir 2018

Die Toyota Hilux. Foto: Verskaf

Noudat 2018 (en 8% van 2019) tot die geskiedenis behoort, is dit insiggewend om te kyk hoe die bedryf gevaar het.

Met ʼn groottotaal van 552 226 eenhede vir 2018 – wat ook groot vragmotors en busse insluit – slaag die bedryf net-net daarin om ʼn gees van negatiwiteit te ontwyk.

Intussen het WesBank se Chris de Kock egter voorspel dat die 2019-totaal met een persentasiepunt gaan krimp – oftewel met amper 6 000 eenhede.

Soos verwag kan word, was markleier Toyota weereens in die eerste plek met totale verkope van 130 403 eenhede wat aan hom die eerste plek in die bakkie-afdeling (60 233) en die tweede plek in die afdeling vir passasiersvoertuie (70 170) besorg het.

Die nuwe Volkswagen Polo Comfortline (Foto: Volkswagen)

Volkswagen beklee die tweede plek met ʼn totaal van 89 370 voertuie, en die eerste plek in die passasiersmotorafdeling. Sy ligte handelsvoertuie sukkel maar met ʼn beskeie 6 082 eenhede.

Soos verwag, lê Ford in die derde plek algeheel met ʼn totaal van 57 775 verkope waarvan sy ligte handelsvoertuie vir 31 102 verkope gesorg het.

Dis darem nog so ʼn paar treetjies voor Nissan se 55 429 eenhede wat hoofsaaklik toegeskryf kan word aan sy 33 077 bakkie- en paneelwaverkope.

Hierna rek die gaping tussen die top‑vier en Hyundai wat verras met ʼn stewige 35 636 danksy sy passasiersvoertuie (32 288) en 3 348 handelsvoertuie.

Die Renault Duster. Foto: Verskaf

Die Franse vervaardiger Renault staan ook sterk in die sesde plek met ʼn indrukwekkende 25 500 totaal waarvan net 67 ligte handelsvoertuie is.

Die sewende plek algeheel behoort aan BMW (18 260) wat net op passasiersvoertuigverkope staatmaak en desondanks daarin slaag om Mercedes-Benz (16 830) te troef.

Ook KIA (17 335 en agtste) het vir ʼn verrassing gesorg danksy sy passasiersmotors (15 941), terwyl Isuzu (16 258 en tiende) ook op Mercedes-Benz se hakke begin trap.

Mercedes-Benz se wa word, by wyse van spreke, deur die drif getrek deur sy 16 164 passasiersmotors wat aan hom die negende plek besorg.

Die Mahindra TUV300.

Wat ook onder hierdie jaareindsyfers opvallend was, is goeie vertonings deur Mahindra (sewende in die afdeling vir ligte handelsvoertuie met 3 342 verkope en ʼn totaal van 5 636), terwyl Mazda (14 091 passasiersmotors en 552 bakkies) amper die Top‑Tien-lys gehaal het. Hou gerus ook ʼn ogie op GWM (agtste onder die bakkie-verkopers met 1 894 eenhede).

Intussen lyk dit nie of die swak ekonomie die superrykes laat sweet nie, want Bentley (88), Ferrari (79), Maserati (86) en Porsche, met ʼn indrukwekkende 1 332 verkope, behaal steeds lag-lag hulle verkopeteikens.

Wat vanjaar se vooruitsigte betref, bly die vraag steeds of Toyota uiteindelik by die 25%‑markaandeel gaan uitkom al sukkel Lexus-verkope, en hoe lank dit gaan neem vir die twee Japanse aanspraakmakers op Top‑Tien-posisies (Mazda en Suzuki) om tot hierdie uitgelese groep toe te tree – en natuurlik ten koste van wie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lientjie ·

So wat Chris de Kock sê dit is wees hulle swak goekeuring dat hulle 6 000 minder voertuie gaan finansier. Ons kan dit sommer al in Januarie sien. Ander ja, maar Wesbank gee bitter min goedkeuring.

Chris Ws ·

Ek sou graag die presiese verkoopsyfers net vir bakkies wou sien soos wat in News 24 gepubliseer is!Dit laat mens se oe rek as jy sien hoe verkoop Toyota Hilux’e teen by voorbeeld die VW Amarok (meer as 40,000 teen net meer as 2700 vir die Amarok!)Dis insiggewend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.