Toyota brei RAV4-reeks uit

Foto: MotorPress

Foto: MotorPress

Toyota se gewilde RAV4 sal sy posisie in die hartjie van die middelgrootte-sportnutsmark met die bekendstelling van ’n splinternuwe model en opgekikkerde toerusting versterk.

Veral gesien teen die agtergrond van Februarie se verkope toe Ford se Kuga 330 eenhede verkoop het, teenoor Toyota se 270, maak dit sin dat Toyota alles in die stryd sal werp om sy vernaamste mededinger in te haal en selfs verby te steek.

Kopers wat Toyota se doeltreffende 2,2ℓ-D-4D-diesel vir hul RAV4 kies, het tot nou net die keuse van ’n handratkas en die GX-pakket gehad. Hierdie model is nou vir die 2014-modeljaar ook met die nuwe outomatiese sesgang-ratkas en die weelderiger VX-pakket beskikbaar.

Ander veranderinge wat regdeur die reeks aangetref word, sluit in ’n nuwe raakskerm-multimediastelsel (standaard-toerusting) sowel as nuwe 18”-allooispeekwiele wat net vir die 2.5 VX-weergawe bestel kan word.

Die opgekikkerde multimedia-stelsel het nuwe kontroles wat op ergonomiese gebied verbeter is, sowel as ’n nuwe hoëresolusie-skerm wat ter wille van helderder en skerper beelde vier keer meer beeldelemente (pixels) as die oorspronklike stelsel het. Die pakket bied ook Bluetooth vir handvrye telefoonoproepe; ’n trurat-kamera (VX-modelle); voertuig-inligting, wat ritdata en die klimaatbeheer-profiel insluit; en beheer van die verstellings vir die deurslotte en beligting. Dit sorg ook vir die eenvoudige koppeling van iPods en MP3-spelers deur middel van ’n USB-sok of Bluetooth. Die klankstelsel soos die radio en CD-speler kan ook deur die raakskerm beheer word.

Die RAV4 is met enige van drie verskillende viersilinder-enjins beskikbaar, wat met die tweeliter-petrolenjin van 107 kW vir die tweewielaangedrewe weergawes (2WD) afskop.

Die ander modelle met aandrywing deur al vier wiele (AWD) kan gekies word met ’n 2,2ℓ-turbodiesel van 110 kW wat ’n stewige 340 Nm se wringkrag ontwikkel, of ’n 2,5ℓ-petrolweergawe van 132 kW.

Die 2WD-RAV4 het ’n sesgang-handratkas of Toyota se outomatiese Multidrive S-transmissie, wat bestuurders ook die keuse van ’n sportiewe sewe-gang-model met sekwensiële ratwisseling bied.

Die petrol-aangedrewe weergawes met aandrywing deur al vier wiele het ’n outomatiese sekwensiële multimodus-sesgangtransmissie, terwyl die AWD RAV4-diesel die keuse van die sesgang-handratkas of outomatiese multi-modus-transmissie (CVT) bied.

Die vierwielaangedrewe RAV4 maak gebruik van Toyota se gevorderde tegnologie vir aandrywing deur al vier wiele, wat dinamiese wringkragbeheer genoem word.

Dié wringkragverdeling kan van 100:0 tot 50:50 wissel, terwyl suiwer voorwielaandrywing (100:0) outomaties in gewone rytoestande ingespan word om brandstofverbruik te verbeter.

Die RAV4 gebruik ’n ingewikkelde, interaktiewe hoëspoed-beheerstelsel om die dinamiese wringkragbeheer-aandrywing deur al vier wiele, voertuigstabiliteitsbeheer- en elektriese kragstuurstelsels te koördineer ten einde verrigting, hantering en veiligheid in alle rytoestande te verbeter.

Die RAV4 se verskillende toerusting-pakette (GX en VX) bied ’n groot aantal standaard-toerustingselemente.

Alle GX-modelle is omvattend toegerus met onder meer dakspore, 17”-allooiwiele, en dagligryligte (DRL) as deel van sy standaard-toerusting. Die enigste buite-kenmerk wat tussen die 2,0ℓ-modelle en die 2.2 D-4D verskil, is die gebruik van ingeboude misligte in laasgenoemde weergawe.

Hierbenewens bied die vlagskip-weergawe VX- chroom-insetsels in die voorste buffer, modderklappe voor en agter, elektries wegvoubare deurspieëls, ’n glasdak wat kan kantel en oopskuif, en hoësterkte kopligte (HID) met ’n ingeboude skoonmaakstelsel. Die 2.5 VX spog ook met nuwe 18”-allooiwiele pleks van die vorige weergawe se 17”-wiele.

In die kajuit self word selfs nog meer luukse elemente aangetref. Daar’s elektries beheerde vensters, afstand beheerde sentrale sluiting, handverstelbare klimaatbeheer, die raakskerm-vertoonskerm, wegvoubare bagasieruimseiltjie met ’n net-afskorting, en parkeerhulpsensors agter.

Die VX-gradering voeg leerbekleedsel regdeur by, asook ‘n elektries verstelbare bestuurdersitplek met laerugsteun, sitplekverwarmers voor, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, truratkamera, elektriese werking vir die agterste laaideur (met geheuewerking), spoedbeheer en sleutelvrye toegangstelsel (Smart Entry).

Sewe lugsakke – alles deel van sy standaard-toerusting – sluit ook ’n knielugsak vir die bestuurder en tweekamer-kantlugsakke voor in.

Aktiewe veiligheidstelsels sluit in ABS met EBD, BA, VSC (voertuig-stabiliteitsbeheer) en TRC (kloubeheer), terwyl die AWD-modelle verder ook VSC+ het, wat die voertuig se elektriese kragstuurstelsel (EPS) by die stabiliteitsbeheer inskakel.

Pryse

RAV4 2.0P 2WD GX – R290 300
RAV4 2.0P 2WD GX Multidrive S – R300 300
RAV4 2.2D AWD GX – R 365 300
RAV4 2.5P AWD VX 6 outo – R412 400
RAV4 2.2D AWD VX 6 outo – R438 900 (nuwe model)

Die nuwe RAV4 word gedek deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km en ’n standaard-diensplan vir vyf jaar/90 000 km. Die nuwe modelle word nou ook deur die ToyotaCare-padhulpdiens-program gedek, wat eienaars 24 uur per dag se padbystand vir algehele gemoedsrus bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.