Toyota Corolla Quest – oud of nuut?

Quest Plus (2) (Medium)

Foto: Toyota

Die resep hiervoor? Neem die vorige geslag Corolla, dollie hom so ‘n bietjie op, maar, heel belangrikste, moenie terugsny op tradisionele gehalte nie.

Die eindresultaat is verrassend goed. Daar is weggedoen met die 1.3-liter viersilinder, en die betroubare 90 kW 1.6-liter is behou. Dis dieselfde kragbron wat in die nuwe generasie Corolla gebruik word, en is steeds dieselfde gesofistikeerde enjin wat doodstil luier en redelik liggies met petrolvoorraad werk.

Toyota was ook slim deur die Quest-bekendstelling in Durban te hou, waar hierdie kragbron sy ware 90 kW kon benut en duidelik kragtiger gevoel het as op die Hoëveld waar beskikbare krag maar neerkom op ‘n heel beskeie 75 kW.

Soos Glenn Crompton, Toyota se adjunkpresident vir verkope en bemarking, dit stel: “Wanneer ’n nuwe model sy buiging maak, beland die vorige model gewoonlik in die museum. Dit was nié die geval met die vorige Corolla nie. Dié model, wat sy buiging in 2007 gemaak het, was die suksesvolste Corolla nog en het gehelp dat die Corolla-ikoon as topverkoper en die wêreld se mees geliefde motor gekroon is – altesaam 40,72 miljoen saamgestelde verkope is aan die einde van Februarie vir die Corolla aangeteken.

“Nou is dit die Corolla Quest se beurt. Die nuweling word egter onderskei dat dit die enigste sub-C-segment-mededinger is, en met sy prys wat by net R174 900 begin, is hy ’n gewisse wen-kandidaat. Kopers wat daarop uit is om hul voertuie op te gradeer, maar nie in ’n posisie is om die finansiële sprong van die B- na die C-segment te waag nie, het nou uiteindelik ’n nuwe keuse.”

Die reeks is in die belang van eenvoud en bekostigbaarheid tot drie modelle met twee toerustingpakkette beperk: die gewone weergawe, wat met ’n handrat- of outomatiese transmissie beskikbaar is, en die Quest Plus, wat net as handrat aangeskaf kan word. Dit is die voertuig wat tydens die bekendstelling deur Maroela Motors bestuur is.

Al die motors in die reeks het ’n immobiliseerder en alarm, afstandbeheerde sentrale sluit, dubbele lugsakke voor, Isofix-kindersitplekmonterings, lugversorging en reik/hoogteverstelling vir die stuurwiel.

Die grootste verskil tussen die twee pakkette is die wiele – allooisierwiele vir die Plus-weergawe teenoor staalwiele, rompgekleurde deurhandvatsels vir die Plus-model, en ’n klankstelsel vir die Plus, wat ’n radio/CD-speler sowel as ’n USB- en hulp-sok insluit. (Die gewone model het dieselfde bedradingsharnas vir ’n klanktoestel en luidsprekers maar jy sal maar self jou eie draadloos moet gaan soek)

Kosmetiese buite-veranderinge sluit in ’n dowwe, swart afwerking vir die sierrooster en nommerplaathulsels, en die rigtingwysers wat van die deurspieëls na die voorste modderskerms verskuif is.

Groot klem word op plaaslike inhoud geplaas om koste te verlaag. Dit sluit in matte en plafonbedekking en sitplekke (dieselfde as in die nuwe Corolla) behalwe dat die agtersitplekke nie platgeslaan kan word vir groter laairuimte nie. Ander hersienings wat ’n uitwerking op die prys het, is die oorhoofse konsole, kaartleesliggie en sonskermliggie wat wegval. Die doekstofbeslag van die deurpanele voor en agter is deur gevormde viniel vervang.

Die nuwe Corolla Quest het ook nuut ontwerpte kop- en agterligte asook rigtingwysers wat van die kantspieëls na die modderskerms verskuif.

Toyota maak aanspraak op 0-100 versnelsyfers van 10.4 sekondes vir die handratmodel – waarskynlik aan die kus en ‘n maksimum snelheid van 192 km/h.

Ritgehalte was goed en daar is heel duidelik hard gewerk aan die vorige generasie se ‘sweef’-neigings. Die beproefde kombinasie van MacPherson-stuttipe voorvering met kronkelvere en ’n kompakte rolstaaf-uitleg agter sorg vir vasvoetige ritgehalte en lewer ’n groot bydrae tot die Corolla Quest se honger bagasieruim.
Aktiewe veiligheidstoerusting het gewis nie in die slag gebly nie – die nuweling het skyfremme aan elke wiel (lugverkoelde skywe voor en soliedes agter) wat deur ’n sluitwerende remstelsel (ABS) met elektroniese remkragverdeling en noodremhulp aangevul word.

Benewens die intreeprys van R174 900 – wat styg tot R198 900 vir die 4-spoed outokas – kry die koper ook ‘n 3-jaar/100 000 km waarborg en ‘n 3-jaar/45 000 km diensplan. Die Toyota handelaarsnetwerk (192 agentskappe strategies versprei oor Suid-Afrika, Botswana en Namibië) bied ook addisionele gemoedsrus.

Opsommend: Die ‘nuwe’ Quest is ‘n slim bemarkingskuif deur Toyota en slaag daarin om ‘n ruim, veilige en gerieflike middelgrootte (C-segment) motor teen B-segment-pryse aan te bied. Toyota se verkopeverwagting van 1 000 eenhede/maand is dus heel konserwatief.

Terselfdertyd is dit ook slegte nuus vir mededingers soos onder meer Nissa Almera wat ietwat duurder as die Quest geprys is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.