Toyota Etios vervang met beter Starlet

Die Toyota Starlet. (Foto: Verskaf)

Die Toyota Etios is nie meer nie. Toyota se begrotingsbuksie uit Indië word vervang deur ʼn ander motortjie. Die Starlet het ook sy oorsprong in Indië as die Suzuki Baleno. Hy word daar deur die Maruti Suzuki-fabriek vervaardig.

Dit is beslis ʼn reuseverbetering in terme van veiligheid, toerusting, bougehalte, verrigting… eintlik in elke denkbare aspek, selfs die toevoeging van ʼn outomatiese ratkas wat die Etios nooit gehad het nie.

Die Starlet maak gebruik van Suzuki se TECT-platvorm wat heel goed vaar in veiligheidstoetse. Daar is ABS met EBD, remhulp en stabiliteitsbeheer. Die outomatiese modelle het wegtrekhulp. Die twee intreemodelle het twee lugsakke terwyl die XR-model ses het. Alle weergawes het ISOFIX-monteringspunte.

Die Toyota Starlet. (Foto: Verskaf)

Die Starlet maak gebruik van ʼn puik atmosferiese 1,4 dubbel-bonokas viersilinderpetrolenjin. Hy het aanpasbare kleptydreëling (VVT) en is baie lief vir omwentelinge. 68 kW is beskikbaar by 6 000 r/min en 130 Nm teen 4 200 r/min. Al klink die syfers nie enorm nie, die tjorrie self trek hy soos ʼn klein windhond. Dit is wel nie die volledige prentjie nie. Die enjin is ook fantasties lig op brandstof. Toyota beweer 5,1 ℓ/ 100 km op die handrat en dit bied ʼn reikafstand van oor die 700 km op ʼn 37 liter tenk.

Ek het tans die XR-weergawe onder hande, en die spesifikasievlak beïndruk. Daar is klimaat- en spoedbeheer, parkeerhulp met truratkamera en ʼn inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto. Die Starlet is met Toyota Connect toegerus wat WiFi en 15Gb gratis data bied. Dié toestel werk saam met die MyToyota-app en as mens eers geregistreer is bied dit oulike funksies soos om jou voertuig se diens te bespreek.

Ons het al tyd met die Suzuki Baleno deurgebring – en ek het ʼn kort entjie met die Starlet gery. Dit is voorwaar ʼn lekker buksie, en ʼn ware winskoop teen die prys.

Die reeks lyk só:

Toyota Starlet 1.4 Xi handratR204 900
Toyota Starlet 1.4 Xs handratR215 200
Toyota Starlet 1.4 Xs outoR235 700
Toyota Starlet 1.4 Xr handratR258 500
Toyota Starlet 1.4 Xr outoR272 500

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en 3 dienste diensplan met ʼn 15 000 km diensinterval.

Ons sal weer behoorlik tyd saam met die Starlet deurbring – maar doen jouself ʼn guns en gaan toetsbestuur een by een van Toyota se meer as 220 handelaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wielspore ·

Toyota het nog altyd goeie produkte verkoop en met sy groot handelaarsnetwerk in SA is onderhoud en herstelwerk gerieflik. Die Starlet is ‘n kruis model uit Suzuki se stal en dit raak deesdae alombekend dat goedkoop modelle in ontwikkelende lande gebou word en dan kry hulle net verskillende vervaardigers se name.
Dit is sekerlik goed vir iemand wat ‘n voertuig sien as ‘n meduim om vervoer te word van punt A tot by punt B en veiligheid nie ‘n deurslagewende besluit is. Die Starlet of te wel die Suzuki Baleno het 3 sterre gekry met die botsing toetse wat nie baie goed is in veiligheids terme.
Na my mening sou ek eerder R10 000 by die koop prys byvoeg en vir my ‘n Polo Vivo koop.
Lekker ry!

Johann ·

My eerste kennis met ‘n Toyota Starlet was in Nacala in Mosambiek. ‘n Piep klein karretjie met 1.3, 12 klep turbo enjin…. nogal oulike karretjie.

andre ·

Toyota en baie ander vervaardigers het alliansies,Die Supra met BMW,die 86 met Subaru en nou die Starlet met Suzuki.Met Toyota se groot handelaarsnetwerk gaan Suzuki dalk sukkel om Baleno”s te verkoop.
Die Baleno is n baie ruim en ekonomiese motor is sy prysklas

koos10 ·

Kyk hoe gaan die Suzuki’s, skuus Toyota’s nou verkoop. Die regte “badge” is nou op. Ek wonder net hoekom die Suzuki met ‘n 5 jaar 200 000km waarborg uitkom, en die Toyota met ‘n 3 jaar 100 000km? Vertrou Toyota nie die produk nie of wat?

Die Goodwoodianer ·

Die dae van kanniedood Conquest, 323 en Champ lank, lank vergete…

Pieter ·

Etios is ‘n baie onaansienlike motortjie wat maklik gesteel kan word. Toyota moet nie toelaat dat Indiese fabrikate sy mark betree nie. Kom ons kyk hoe vaar die nuwe nommertjie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.