Toyota kraai koning in Dullstroom

Die ervare Dakar-kampioen Giniel de Villiers, op pad na sy tweede agtereenvolgende Mpumalanga 400-oorwinning in sy betroubare Toyota Gazoo Racing Hilux FIA. (Foto: Verskaf)

Net 34 sekondes ná bykans 400 km deur plase en plantasies in die Dullstroom-omgewing was die verskil tussen die uiteindelike wenners Giniel de Villiers/Dennis Murphy en Henk Lategan/Brett Cummings in die tweedeplek tydens die onlangse Mpumalanga 400-tydren.

Die 48-jarige De Villiers, wenner van die Dakar (Volkswagen Touareg) in 2009, moes spook om die jeugdige Lategan wat in Mei 25 word, letterlik uit te stof onder dikwels droë en klipperige toestande op enkelspoorpaadjies en plase wat plaaslike boere beskikbaar gestel het.

Albei deelnemers het met die top-model Toyota Gazoo Racing Hilux (5 liter V8) in die FIA-klas deelgeneem. Trouens, Lategan se Hilux was die voertuig waarmee Nasser al-Attiyah die 2019 Dakar vir Toyota gewen het.

Die derde plek op die podium is ingeneem deur Lance Woolridge/Ward Huxtable in hulle Ford Castrol Racing Ranger. Hulle is die huidige Klas T-kampioene en het dan ook weer eens hulle kategorie gewen.

Woolridge/Huxtable se Klas T-spanmaats, Gareth Woolridge/Boyd Dreyer het in ‘n soortgelyke Ford Racing Ranger 67 sekondes agter hulle spanmaats geëindig.

Die Mpumalanga 400 is ʼn wedren wat die bekende Horn-broers van Malalane Toyota gou sal wil vergeet. Na die kwalifiseringsrondte op Vrydag was hulle aan die voorpunt van die Klas T-deelnemers, maar weens probleme met hulle GPS-stelsel het hulle soms van gebaande weë afgewyk – met die gepaardgaande tydsverlies. ʼn Papwiel-situasie het ook nie sake makliker gemaak nie.

Desondanks het hulle vierde in Klas T geëindig vir hulle eerste punte van die seisoen.

Spanne het nou bykans twee maande om voor te berei op die tweede ren van die Veldseisoen wat op 17 en 18 Mei by die Waffle Hut aan die buitewyke van Winterton in KwaZulu-Natal begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Karlahari ·

Beste “bumper sticker” op ‘n LandRover:
My other car is a 4×4……
Snaaks ‘n ou sien hulle nie in veldrenne nie….
Seker te stadig, of. Uhm ugg
Onbe uhm troubaar…

Gerhard ·

Ek is nie ‘n Land Rover ondersteuner nie, maar veldrenne het niks met 4×4 uit te waai nie en hierdie voertuie is nie naby aan standaard nie.

Chris Ws ·

Dit gaan ALLES net oor geld.Hoe beter ‘n bakkie vaar in tawwe tydrenne hoe meer verkoop hy.Ek het baie van Toyota se sege in die Dakar gehou maar ek voel plaaslik moet standaard bakkies teen mekaar gemeet word vir regverdigheid.Waar word ‘n Toyota Hilux of ‘n Ford Ranger met V8 enjins in ons op ‘n handelaar se vloer verkoop?Nerens!So eintlik is dit ‘n alles net pot snert.Dis ‘n jammerte en doen skade aan die plaaslike tydren bedryf na my beskeie mening.

marco polo ·

Jy het seker nog nooit van n Bowler gehoor nie. Hoeveel Land Rovers het jy al gehad, dat jy kan se hulle is onbetroubaar? Ek ry al 20 jaar met hierdie ‘onbetroubare’ voertuie, wat blykbaar nie so goed soos n Duster is nie, was al stoksielalleen halfpad deur Afrika, en het nog geen probleem gehad wat ek nie self kon oplos nie.

Phil ·

Jy is reg Gerhard. Hierdie voertuie het selfs parte van ander fabrikate in en kos miljoene om dit op hierdie vlak te kry. Ek sou eerder wou sien hoe standaard bakkies die ding doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.