Toyota Land Cruiser Prado – nou nog beter

Die Toyota Land Cruiser Prado Foto: Bernard K Hellberg

Die Toyota Land Cruiser Prado Foto: Bernard K Hellberg

Toyota se legendariese Land Cruiser Prado het ’n gedaanteverwisseling vir die 2014-modeljaar ondergaan, en pronk nou met bondiger buitestilering, ’n meer verfynde binneruim en selfs nóg beter hantering.

Die veranderinge aan die buitekant behels ’n relatief omvattende herontwerp met ’n dieper voorste buffer, ’n erfenis-sierrooster en nuwe allooisierwiele wat die Prado se uithouvermoë, betroubaarheid en legendariese veldrygedrag versterk.

Die binneruim het ook munt geslaan uit ’n omvattende opkikkering, waardeur gehalte, gemak en gerief en meer praktiese gebruik aan die hand van ’n nuwe multimedia-klankstelsel sowel as ’n herontwerpte voorpaneel met beter materiale, fyner detail en nuwe toerusting verhoog is.

Die nuweling se elektroniese kinetiese dinamiese veerstelsel (KDSS) is ook opgekikker en bied nou beter hantering- en geriefseienskappe.

Laastens het Toyota die nuwe Prado se praktiese eienskappe met bykomende bestuurshulpmiddels versterk, soos ’n blindekol-monitor en wieldruk-waarskuwingstelsel vir die VX, en sleepwa-swaaibeheer (deel van die hele reeks se standaard-toerusting) wat help om die moontlike onaangename gevolge van dwarswinde of ongelyke padoppervlakke wanneer iets gesleep word, uit te skakel.

Calvyn Hamman, Toyota SA Motors se Senior Vise-president: Verkope en Bemarking, sê die opgraderings sal die Land Cruiser Prado as een van die mees tegnies gevorderde en maklik bruikbare veldry-voertuie ter wêreld herbevestig.

“Die Land Cruiser Prado het in die 4×4-wêreld beroemd geraak vir sy vermenging van geharde verrigting en uitstaande toerusting.

“Die jongste verbeterings sal die Prado se rotsvaste aansien as een van die wêreld se taaiste en betroubaarste 4×4’s versterk terwyl hy steeds die verpakking, gemak en teerpadverrigting sal bied wat deesdae só belangrik vir klante is,” sê Hamman.

Die nuwe Prado-snoet is die mees uitstaande eienskap van die herontwerp danksy ’n dieper voorbuffer, sy erfenis-sierrooster en nuwe lighulsels.

Toyota gebruik ’n meer uitstaande sierrooster wat ’n voortvloeisel van die tradisionele gebruik van die bekende vyf parallelle, regop stawe is, wat dit sterker laat lyk.

Die nuwe sierrooster en hersiene kopligsamestelle vorm ’n enkele, kragtige eenheid wat hoër geposisioneer is om dit in geharde veldrytoestande minder kwesbaar te maak.

Die oorgrootte buffer se tweeledige ontwerp help om die kopligte te beskerm terwyl die skerp-afgewerkte onderste gedeelte die uitwerking van die voertuig se voorste oorhang in veldrytoestande beperk.

Die deurspieëls, wat elektries beheer word en kan terugvou, het in die geval van die TX-modelle ingeboude verwarmers, en in die geval van die VX-modelle die bykomende blindekol-waarskuwingstelsel.

Laasgenoemde waarsku die bestuurder as ’n ander voertuig in die blindekol aan enige kant is, en gebruik millimeter-golflengte radar om voertuie in aangrensende bane te bespeur. Dit vestig die bestuurder se aandag op die teenwoordigheid van ’n ander voertuig deur aanwysers in die deurspieël aan daardie kant te verlig.

Die draaisirkel (11,6 meter) en die invalshoek (32°), vertrekhoek (25°) en oorbruggingshoek (22°) is nog dieselfde, wat die Prado sy skitterende ratsheid, maneuvreerbaarheid en veldry-gesag laat behou.

Die voertuig se sy-aansig word deur die nuwe 17”-sesspeek-allooisierwiele vir die TX en 18”-twaalfspeek-allooiwiele vir die VX verbeter.

Toyota het benewens die estetiese nuwighede ook die nuwe Prado se lugdinamiese stabiliteit aan die hand van lugvloeivinne aan die onderkant van die deurspieëls en agterligte verbeter.

Daarbenewens het die voorste en agterste wielnisse lugskorte wat die lugvloei soepel om die bande en wiele herlei, sowel as ’n onderkantlugskort agter om lugvloei agter die agterwiele sagkens te herlei. ’n Drukvlerk aan die agterkant versag ook die lugvloei oor die dak.

Die Prado se binneruim-afwerking is op soortgelyke wyse opgekikker. Hersiene binneruimbeslag en versierings skep ’n meer elegante atmosfeer in dié sewesitplek-sportnuts met netjiese hoogtepunte soos dubbele stikwerk vir n beter gevoel en ’n selfs nog hoër gewaarwording van gehalte.

Die insittendes van die derde ry sitplekke kan nou makliker in en uit die voertuig klim deurdat die middelste ry sitplekke se rugleunings ’n verdere 12 grade vorentoe kan kantel. Die vloer by die heel agterste ry sitplekke is 38,1 mm laer om voetruimte te vergroot.

Die hersiene instrumentepaneel voor die bestuurder het ’n nuwe toereteller en spoedmeter – Optitron in die geval van die VX (Optitron is ’n blouerige wit lig wat die meters op só manier verlig dat dit lyk asof hulle snags in die middel van ’n donker agtergrond ronddryf. Dit maak dit ook makliker om in daglig te sien). Die VX-model het ook ’n nuwe kleurskerm vir die inligtingskerm (MID) tussen die Optitron-meters. Dié stelsel, wat met ’n skakelaar aan die stuurwiel beheer kan word, lewer ’n aansienlik verbeterde veldryhulp-bydrae. Inligting oor individuele wiele se kloubeheer, die stuurhoek en werking van die ewenaargrendel kan gesamentlik vertoon word sodat die bestuurder die beste hulp oor uitdagende terrein kan geniet.’

Die topvlak-VX-modelle kry ’n veelterrein-monitor (Multi-Terrain Monitor) wat die bestuurder bykomende leiding oor veldryhindernisse gee deur videobeelde van vier kameras wat voor, agter en aan die kante van die voertuig gemonteer is, te vertoon. Hierdie stelsel het uitstekend gewerk tydens duinebestygings in die Sandwichbaai-omgewing naby Walvisbaai.

Nog ’n VX-eienskap is wat Toyota sy veelterrein-modus noem. Dié stelsel beheer die enjinverrigting en remme om die beste vordering oor ’n verskeidenheid oppervlakke te bewerkstellig. Die grootste verandering is dat dié stelsel nou deur ’n draaiknop beheer word.

Die bestuurder kan die vereiste verstelling ingevolge die soort terrein kies. Die veelterrein-modus beheer wieltol, terwyl veelterrein-sluitwerende remme (ABS) verhinder dat die wiele vasslaan ten einde klouvermoë in enige veldryomstandighede te bevorder. Die veelterrein-modus is ’n ontwikkeling van Toyota se A-TRAC-stelsel (aktiewe kloubeheer) met ingeboude veelterrein-ABS, wat tot beter glybeheer lei.

Die stelsel het ook ’n vyfde verstelling om die bestuurder te help om ’n kombinasie van klippe en grond baas te raak, en is aanvullend tot die vorige modusse vir rotse, los klippe, modder en sand, en middelmannetjies.

Dié nuwe draaikontrole bied eenvoudige, instinktiewe beheer van die veelterrein-beheerstelsel en kruipspoedbeheer-verstellings (laasgenoemde word as standaard-toerusting in VX-modelle aangetref).

Die draaiknop en die aangrensende skakelaars vir vierwielaandrywing en die aanpasbare veranderlike veerstelsel (net in die VX) het ’n gekartelde rand en is verlig sodat dit selfs in uiterste veldry-toestande duidelik sigbaar is en maklik gebruik kan word.

Die Land Cruiser Prado bied ’n keuse tussen twee enjins – ’n V6-petrolenjin van vier liter met dubbele VVT-i, en ’n drieliter-turbodiesel.

Die V6-petrolenjin met viervoudige bonokasse lewer 202 kW teen 5 600 r/min en 381 Nm se wringkrag teen 4 400 r/min. Dié enjin is aan ’n outomatiese vyfgangratkas met tikratwerking gekoppel. Wanneer steil duine teen ‘n redelike snelheid aangedruf moet (ter wille van momentum) is die petrolweergawe my eerste keuse.

Hierdie weergawe se brandstofverbruik in die gekombineerde siklus is 11,5 liter per 100 km, terwyl die CO2-lesing op 266g per kilometer te staan kom. Dit voeg R12 483 by die prys (ingesluit) wat in die hande van die Zuma-regime as CO2-belasting beland.

(Volgens Gerhard Groenwald, 4×4-kenner van Worcester, en wie se span die voertuie na Namibië gebring het vir die bekendstelling, was daar weinig verskil in brandstofverbruik tussen die petrol- en dieselenjins).

Die nuwe Prado se drieliter-turbodiesel met 16 kleppe en dubbele bonokasse lewer 120 kW teen 3 400 r/min en 400 Nm tussen 1 600 en 2 800 r/min, en is ook aan ’n outomatiese vyfgang-tikratkas gekoppel. Dié enjin se brandstofverbruik in die gekombineerde siklus is 8,5 liter/100 km met ’n CO2-lesing van 224 g/km .

Die Prado se outomatiese A750F-Super-ECT-vyfgang-outo-transmissie gebruik ’n tikrat-hekkie met ’n soepel beweging danksy hidroulies beheerde wisselwerking. Die outomatiese Prado kan in gewone outomatiese modus met die ratkierie in die ‘D’-posisie gery word, of met handratwerking deur die tikratwerking te gebruik.

Dié stelsel is aan voltydse vierwielaandrywing met ’n sluitbare Torsen-middelewenaar en ’n tweegang-oordraratkas gekoppel. Die nuwe Prado het ’n draaiknop wat wisseling tussen hoë- en laestrek beheer pleks van die gebruiklike tweede rathefboompie.

Die VX-weergawes het ’n bykomende ewenaargrendel en kruipbeheer – Toyota se laespoed-veldryspoedbeheerstelsel.

Die nuwe Land Cruiser het ’n verbeterde weergawe van Toyota se kinetiese dinamiese veerstelsel (KDSS) wat oorspronklik in Australië ontwikkel is. Die verfynde KDSS verhoog hanteringstabiliteit en ritgemak tot die hoogste vlak, wat gladder gewigsoordrag in draaie insluit.

Die KDSS beheer die Prado se voorste en agterste balanseerstawe, wat volmaakte stabiliteit en ritgemak op die pad bewerkstellig, terwyl dit groter wielbeweging vir die beste moontlike klouvermoë in veldrytoestande in die hand werk. KDSS het sy buiging in 2007 in die Land Cruiser 200 gemaak, en is met elektroniese beheer opgegradeer toe die huidige Land Cruiser Prado in 2009 bekend gestel is.

Die Prado VX het die bykomende gerief van aanpasbare veranderlike vering (AVS) voor en agter, sowel as hoogteverstelbare lugvering agter.

KDSS gee die Prado twee voordele wat voorheen teenstrydig was: lang wielbewegings vir uitdagende veldrytoestande, en beter rolbeheer en hantering op die pad. Dié stelsel verhoog aktiewe veiligheid, veldry-vermoë en padry-gemak en -vertroue. Noemenswaardig is dat die Prados wat tydens die bekendstelling gebruik is standard padbande gebruik het, maar steeds moeitevry met duine en sagte sand-toestande klaargespeel het.

Die toevoeging van nuwe elektronika, wat deur sy eie elektroniese beheereenheid (ECU) aangedryf word, maak die KDSS-stelsel meer sensitief ten opsigte van insette oor voertuigspoed, stuurhoek, giergedrag (stertswaai-beweging), en longitudinale en laterale versnelling of vertraging.

Die ECU verseker byvoorbeeld teen lae snelhede dat die rolstaafweerstand tot die minste beperk word ten einde die beste moontlike wielbeweging (op en af) te bied. Die KDSS se ECU wissel rolstaafweerstand om by die heersende rytoestande te pas deur hidrouliese beheersilinders voor en agter in te span.

Die Toyota Land Cruiser Prado bied nou bykomende vertroue en beheer aan eienaars wat hul voertuie vir sleepwerk gebruik danksy sleepwa-swaaibeheer, wat deel van die hele reeks se standaard-toerusting is.

Die stelsel bespeur swaaibewegings deur middel van die voertuig se giersensor, versnellingsensor en stuursensor. Die stelsel gebruik dan vertragingsbeheer en giertydbeheer om die uitwerking daarvan te beperk. ’n Aanwyser op die instrumentepaneel waarsku die bestuurder terwyl die remligte ander verkeer agter daarvan bewus maak. Die stelsel werk heeltemal naatloos sonder die toevoeging van enige hardeware of enige veranderings aan die sleepwa.

Die Land Cruiser Prado-reeks lyk só:

Land Cruiser Prado TX 4.0 V6 Outo – R632 200
Land Cruiser Prado TX 3.0 DT Outo – R642 000
Land Cruiser Prado VX 4.0 V6 Outo – R728 200
Land Cruiser Prado VX 3.0 DT Outo – R732 400
Land Cruiser Prado VX 4.0 V6 Outo met sondak – R738 200
Land Cruiser Prado VX 3.0 DT Outo met sondak – R742 400

Die fabriekswaarborg dek drie jaar of 100 000 km endien diensplan geld vir vyf jaar of 90 000 km
Toyota se puik nuwe Prado se mededingers is die Range Rover, die lank-in-die-tand Nissan Patrol en dalk Mercedes-Benz se aansienlik duurder Geländewagen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.