Toyota SA se aanslag op Dakar

Die Hilux waarmee Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz gaan deelneem

Die Hilux waarmee Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz gaan deelneem

Die 2014-Dakar-veldtydren in Suid-Amerika begin oor vier weke, en die inskrywingslys en wegspringnommers wat pas aangekondig is, bevestig dat die Suid-Afrikaanse jaers van Toyota Imperial, Giniel de Villiers/Dirk von Zitzewitz en Leeroy Poulter/Rob Howie hulle in die geselskap van die wêreld se voorste veldtydrenjaers sal bevind wanneer hulle die wêreld se langste en moeilikste motorsportbyeenkoms aandurf.

Altesaam vyf gewese kampioene is aan die bopunt van die wegspringlys, onder wie De Villiers en Von Zitzewitz, wat in 2009 die eerste Suid-Amerikaanse weergawe van die Dakar daar gewen het. Die rennommer 302 sal op hul Toyota-Imperial-Hilux pronk. Hulle het in vanjaar se Dakar-veldtydren op merkwaardige wyse as naaswenners uit die stryd getree nadat hulle in Toyota Motorsport Suid-Afrika se eerste probeerslag in 2012 derde was.

Die voorjaers in die renveld wat op 5 Januarie in Rosario, Argentinië, sal wegspring, is die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk in ’n MINI (#300). Peterhansel het die Dakar al elf keer gewen – ses keer op ’n motorfiets en vyf keer in ’n motor. Hy word gevolg deur Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz, wat die byeenkoms in 2011 gewen het. Hulle jaag in MINI #301.

De Villiers, wat in sy elfde Dakar-ren jaag, en Von Zitzewitz spring in die derde plek voor die 2010-wenner Carlos Sainz van Spanje en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk, in ’n Amerikaans geboude duinebesie (#303) weg. Die Spanjaard Nani Roma, wat die motorfietsafdeling in 2004 gewen het voordat hy agter die stuur van ’n motor ingeskuif het, en sy Franse navigator, Michel Perrin, spring in die vyfde plek in nog ’n MINI (#304) weg.

Poulter, wat in sy eerste Dakar-ren jaag, en Howie, wat die derde keer deelneem nadat hy en Duncan Vos in Vos se nuwelingjaar in 2011 in die 10e plek geëindig het, spring in die 23e plek in Toyota Motorsport Suid-Afrika se tweede Toyota-Imperial-Hilux (#323) weg.

Die private Suid-Afrikaanse jaers, Pretorianer Thomas Rundle en Juan Mohr, wat ’n gratis inskrywing vir die byeenkoms losgejaag het toe hulle die Dakar-Uitdaging in vanjaar se Toyota-1000-Woestynren in Botswana gewen het, sal in die 103e plek in hul heel eerste Dakar-ren wegspring in die gewese Toyota Motorsport-Hilux waarin De Villiers en Von Zitzewitz vanjaar tweede was.. Hulle sal nommer 404 op hul voertuig hê.

Die uitdagende roete wat op die 450 deelnemers uit 50 lande in motors en vragmotors en op motorfietse en vierwielers wag, behels nagenoeg 9 500 kilometer deur Argentinië, Bolivië (net twee- en vierwiel-motorfietse) en Chile. Dit is die langste, hoogste en moeilikste Dakar-roete die afgelope tien jaar en behels ’n stuk of 5 000 kilometer se sneltrajekte – 13 altesaam – waarin die geestelike en fisiese uithouvermoë van die jaers beproef sal word.

Die openingsneltrajek in Rosario, die geboortedorp van Che Guevara en Lionel Messi, strek oor net 180 kilometer tot in San Luis ná ’n lang ooppadgedeelte van 629 kilometer. Die sneltrajekte word elke dag langer – tot 8 Januarie wanneer die motor- en vragmotordeelnemers die langste Dakar-sneltrajek sedert die 2005-Dakar (toe nog in Afrika) aandurf. Dié sneltrajek behels 657 kilometer wat hoofsaaklik oor sand van San Juan tot in Chilecito in Argentinië strek.

Die rusdag is vanjaar op 11 Januarie in Salta in Argentinië, waar tienduisende toeskouers in die Dakar-gehuggie verwag word.

Die byeenkoms hervat op 13 Januarie oor die Andes-bergreeks deur die hoogste bergpas in Argentinië – ’n hoogte van meer as 4 900 meter – tot in Chile vir sneltrajek 8 tussen Salta en Calama.

Daarna volg twee agtereenvolgende marathon-sneltrajekte van 600 kilometer – sneltrajekte 10 en 11 in Chile op 15 en 16 Januarie – waarvan laasgenoemde die deelnemers van Antofagusta deur die Atacama-woestyn, die droogste woestyn ter wêreld, na El Salvador en die sandduine by Copiapo neem. Die organiseerders beskou dit as die deurslaggewende sneltrajek van die 2014-Dakar-byeenkoms.

Die ren eindig met die kortste sneltrajek – 157 kilometer – van La Serena na die hawestad Valparaiso, die sogenaamde Pêrel van die Stille Oseaan, met sy 44 heuwels vol kleurvolle huisies met ’n uitsig oor die see.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.