Toyota se goedkoopste buksie nou in SA

(Foto: Verskaf)

Toyota het onlangs sy Aygo vervang met ʼn nuweling wat meer strook met Suid-Afrikaanse behoeftes. Dié nuweling is die Toyota Agya. Die Agya is Toyota se A-segment mededinger heel onder aan die motorbedryf-piramide.

Ek moet bieg dat ek van ʼn drie dag toer in ʼn reuse Land Rover Defender in die piepklein Agya geklim het. Ek dink die Agya se enjin is moontlik kleiner as die P400 Land Rover se brandstofinspuitingstelsel.

Eerste indrukke was nietemin aangenaam. Dis ʼn aggressiewe ontwerp met hoekige lyne. Die Agya wil eerder sportief wees as oulik, en ek het waardering daarvoor. Die binneruim is eintlik ruim vir die Agya se piepklein proporsies. Die binneruim het ʼn doodgewone paneelbord met aangename klimaatbeheer, maar ongelukkig bied die draadloos nie CarPlay of Android Auto nie.

Ons is ʼn gesin van vyf wat verlede Saterdag ʼn kinderpartytjie moes bywoon. Al vyf in die Agya vasgegespe, vat ons die pad. Die kinders was werklik beïndruk dat die Agya se 1 000 cc driesilinder heel dollies op die snelweg teen 130 km/h kan toer met ons almal aan boord. Die enjin bied 49 kW en 89 Nm… en al klink dit min, is dit eerder die kraglewering en kalibrasie van die enjin, versneller, koppelaar en ratkas wat so te sê perfek is wat hom ʼn puik stadsbuksie maak. Daar is verskeie mededingers in dié segment waarvan die kalibrasie grootliks misluk, en daai mededingers onaangenaam maak om mee te ry.

(Foto: Verskaf)

Die veiligheidsvlak van die Agya is heel goed met twee lugsakke, ABS en EBD. Op die pad toer die Agya verbasend goed. Já, hy word wel deur die wind gesteur as ʼn mens vinnig ry – maar ál die mededingers in die segment doen dit. Twee punte van kritiek wat ek het, is die aan en af knoppie – sou ʼn sleutel nie goedkoper wees nie? – en kon ʼn mens nie daai besparing bestee op ʼn knoppie agter op die kattebakdeur wat hom oopmaak sonder dat jy die voordeur moet oopmaak en die hefboompie trek óf die sleutel uit sy omhulsel uithaal om te gebruik.

Die feit dat daar ʼn klomp mededingers in dié segment is, bly ʼn goeie ding vir die eindverbruiker. Kompetisie is ʼn goeie ding. Dit dryf vervaardigers om hul beste voet voor te sit. Ek weet dat die Agya op Daihatsu se Charade geskoei is – ʼn voertuig waarmee Suid-Afrikaners ʼn lang geskiedenis het. ʼn Mens kan die ouer Charades in die Agya voel – en dis beslis nie ʼn slegte ding nie – dit was eerlike, bekostigbare rygoed.

Ek dink die wisselkoers en invoerbelasting doen ons geen gunste nie, en ook nie vir Toyota nie. Teen R30 000 goedkoper, wat amper 20% is – kan ʼn mens nie Suzuki se S-Presso ignoreer nie. Hyundai se Atos, Renault se Kwid en Datsun se Go speel almal in dié segment. Tussen hulle is die Suzuki en Toyota my keuses. Gaan toetsbestuur hulle almal en sien watter een jou pas.

Die reeks lyk só:

 Toyota Agya handratR178 600
Toyota Agya handrat (met oudio)R182 400
Toyota Agya outoR192 500
Toyota Agya outo (met oudio)R196 300

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000 km waarborg en diensplan met twee dienste.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki S-Presso 1.0 GL+50 kW/ 90 Nm4,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R150 900
Hyundai Atos 1.1 Motion50 kW/ 99 Nm5,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

1 jaar/ 15 000 km diensplan

R169 500
Renault Kwid 1.0 Dynamique50 kW/ 91 Nm4,7 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

Geen diensplan

R172 900
Kia Picanto 1.0 Start49 kW/ 95 Nm5 ℓ/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R183 995
Datsun Go 1.2 Lux50 kW/ 104 Nm5,5 ℓ/ 100 km6 jaar/ 150 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R189 100
Peugeot 108 1.0 Active53 kW/ 93 Nm4,3 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km dinesplan

R194 900
Fiat 500 TwinAir Pop63 kW/ 145 Nm3,8 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 100 000 km diensplan

R205 900

Peugeot en Fiat staan ongeëwenaard kop en skouers uit bo die ander mededingers met ses lugsakke op die Peugeot en sewe op die Fiat. Die Peugeot se 5 jaar/ 100 000 km diensplan kan nie geïgnoreer word nie. In terme van ontwerp is die Fiat 500 waarskynlik die wenner hier. Sodra ʼn mens die R200 000 kerf slaan dan maak dit ʼn hele ander segment oop. Indien dit eenvoudig oor begroting gaan, bly my raad om na die S-Presso te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boerkind ·

Dankie! Nogal gesmile vir die woord “draadloos” – nog altyd gedink dis ‘n whaailess?? Trek maar jou been!! Groete!

JohanR ·

Die Toyota Aygo was die lelikste kar wat ek nog ooit gesien het, of in gery het. Miskien was daai SsangYong lykswa van soe paar jaar gelede net soe bietjie leliker as die Aygo.

Boerkind ·

Is so… so pas verby die nuwe Suzuki dingetjie gery… maar dis darem self nagmerrielelik!

andre ·

vir R6000 meer kan jy die Suzuki Swift 1.2GL koop,met draadloos en n billike kattebak.Sekere handelaars sal die Ayga se prys ewenaar.Die S-Presso lyk darem te koddig

Patch ·

Het verlede jaar na ‘n Aygo vir my seun gaan kyk. As hy gemaklik agter die stuur sit met sy 1.86m lange lyf is daar GEEN spasie vir ‘n passasier agter hom nie, behalwe as jy vuurhoutjies vir bene het sal jy miskien kan agter hom in pas.

Wielspore ·

Toyota het nog altyd goeie voertuie gebou en ek glo in hierdie geval is dit ook van toepassing, terselfde tyd is die prys van die Agya ook die grootste vyand. Hoekom die rand wisselkoers ‘n negatiewe invloed slegs op Toyota voertuie het is nie verstaanbaar. Ek is seker die ander goekoper modelle soos bo genoem word ook ingevoer. Na my menng is die Suzuki se S-Presso die een wat uitstaan en die beste waarde bied.
Lekker ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.