Toyota se nuwe Auris ʼn wenner?

Die nuwe Auris Foto: Toyota SA

Die nuwe Auris Foto: Toyota SA

Daar heers lank reeds kommer onder motorvervaardigers en invoerders dat die tradisionele voorkeur ten opsigte van sedans en luikrûe (hatchbacks) besig is om weg te beweeg in die rigting van sportnutsvoertuie (SUVs).

Veral vir Toyota, die grootste rolspeler in hierdie marksegment, is dit ʼn bron van kommer dat klante nou elders begin loer.

Miskien kan dit verklaar word deur te aanvaar dat Suid-Afrikaners buitelewemense is. Hulle wil hoog sit in die wildtuine, op gelyke (oog-)vlak meeding met taxi’s en sommer ook hul manlikheid vir die wêreld laat blyk.

Hoe dit ook al sy – in die onlangse verlede was die vorige geslag Auris nou nie juis wiele wat die bloed vinniger deur jou are sou laat stroom nie, en selfs ʼn stadig groeiende boom was meer opwindend om te aanskou.

Daarom is die nuutste, behoorlik opgekikkerde Auris, nie net nog ʼn facelift nie. Van binne en buite is moeite gedoen om hierdie lelike eendjie te verfraai – en Toyota se stiliste het dit puik reggekry. Veral die vooraansig is nou meer gekurk met ʼn gespierde voorkoms, terwyl die agterstewe heel pikant daar uitsien sonder om vervelig te wees.

Die voor- sowel as die agterkant is nou volkome mededingend-modern met die gevolg dat kopers wat van visueel mooi voertuie hou, nou sal naderstaan om die gebruiklike maandelikse verkopesyfers van sowat 130 eenhede vir hierdie model aansienlik op te skuif.

Suid-Afrikaanse kopers kan op die oomblik uit 17 luikrugreekse kies – van intreevlak-modelle tot peperduur blitsbukse – en almal probeer om kopers te betower en Auris het ’n 10%-aandeel in die C-segment waar die luikrûe meeding.

Aan die agterkant is die onderste helfte van die motor geheel en al herontwerp om sigbare klem op sy breë houding te plaas. Die breedte van die dieper, meer gespierde buffer word deur ’n dun chroomlyn versterk met die weerkaatsers aan weerskante op die verste hoeke. Die stertlighulsels is ook herontwerp en gee die Auris sy eie, kenmerkende agteraansig.

Die gevoelsgehalte van die kajuit is aansienlik verhoog aan die hand van ’n herontwerpte en meer geronde voorpaneel met sagte gehalte- en oppervlak-afwerking sowel as ’n nuwe video- en klankskerm wat op ’n tabletrekenaar gegrond is en in al die modelle van die Xs af boontoe beskikbaar is. Selfs die ouer geslag – soos ek – kon gemaklik daarmee oor die weg kom.

Die raakskerm, wat elektrostatiese (raaksensitiewe) werking het en die heel eerste keer in ’n Toyota ingespan word, beheer die CD/DVD, die radio (FM/AM) en Bluetooth/AUX/USB-verbindings sowel as ’n magdom ander ingeboude toerusting, waaronder ’n truratkamera met parkering-gidslyne.

Die binneruim het talle detailverbeterings aan byvoorbeeld die luguitlate, deurhandvatsels en rathefboomomgewing om dit ’n beter hoëgehalte-voorkoms te gee. Die vorm en afwerking van die chroombeslag is aangepas en ’n nuwe stel bekleedselontwerpe, wat leer vir die Xr insluit, rond die luukser binneruimomgewing af.

Die nuwe Auris-reeks slaan munt uit verdere verbeterings aan die veer- en stuurstelsels wat ontwerp is om ritgehalte, gemak en hantering te verbeter. In die onlangse verlede was die Corolla en Auris daarvoor bekend/berug dat ʼn irriterende soort ‘swewende’ effek voortdurende stuur-insette genoodsaak het. Die veranderings aan die veerstelsel werk alles doeltreffend saam om rolbeheer te verbeter, wrywing te verminder en beter reguitlyn-bestendigheid te bied.

Daarbenewens is die elektriese kragstuur hersien om beheer te verbeter namate spoed toeneem, wat beter terugvoer teen snelhede tussen 60 en 80 km/h bied.

Klankdigting is ook verbeter deur bykomende klankabsorberende materiaal op strategiese plekke in die voorpaneel en transmissietonnel aan te bring. ’n Klankdemper is aan die buitekant van die transmissietonnel aangebring om die oordrag van geraas verder te beperk.

Bykomende klankdigtingsmateriaal is in die voorste modderskermhulsel, voorpaneel en deuromgewings aangebring om die hoeveelheid enjin-, pad- en windgeraas wat die kajuit binnedring, verder te beperk.

Die Auris-reeks bied, soos voorheen, drie enjinkeuses:

  • 3ℓ-petrolenjin van 73kW teen 6 000 r/min en 128 Nm wringkrag teen 3 800 r/min wat die Auris 1.3 in 12,6 sekondes van 0-100km/h tot ’n topspoed van 175 km/h laat versnel. Sy brandstofverbruik is 5,8ℓ/100km in die gekombineerde siklus. Hierdie model was nie tydens die bekendstelling beskikbaar nie.
  • 6ℓ-petrolenjin van 97kW teen 6400 r/min en 160Nm wringkrag teen 4 400 r/min en ’n 0-100km/h-versneltyd van 10 sekondes met ’n topspoed wat tot 200 km/h beperk is. Die 1.6-handrat se gemiddelde petrolverbruik is 6,2ℓ/100km in die gekombineerde siklus, terwyl die 1.6 CVT (wat ook nie beskikbaar was nie) selfs nog meer ekonomies is – gemiddeld net 6,0ℓ100km.
  • 8-hibried – hierdie model is ook vir 2015 opgekikker. Besonderhede sal nader aan sy       bekendstelling aan die begin van September 2015 aangekondig word.
  • Luukse kenmerke, wat wissel volgens spesifikasievlak (en prys) sluit in Bluetooth, volg-my-beligting, haaivin-lugdraad op die dak, leerbedekking vir die ratkierieknop en stuurwiel, elektriese kragstuur, lugversorging, dubbele voor- en kantlugsakke, afstandbeheerde sentrale sluit, sluitwerende remme (ABS) met noodremhulp en elektroniese remkragverdeling (EBD), waarskuwingsgonsers vir al die insittendes se die sitplekgordels, RDS-klankstelsel met vier luidsprekers, elektries beheerde vensters met enkelaanraking-werking vir die bestuurder, en stuurwielkontroles.
  • Dan is daar ook die nuwe vertoonskerm-klankstelsel met elektrostatiese werking vir die skakelaars, blink klavierswart-afwerking vir die sierrooster en agterste buffer met chroominsetsels, ’n trurat-kamera met parkering-gidslyne, ses luidsprekers, smukspieëlbeligting en sport-doekstofbekleedsel.
  • Maar as jy sou besluit net die beste is goed genoeg kan jy jou nog bederf met outomatiese kopligte, elektrochromatiese binne-truspieël, kleurgepaste TFT-vertoonskerm, spoedbeheer, slim toegang en drukknop-aansitter, elektroniese dubbelsone-klimaatbeheer, gordyn-lugsakke en knielugsak vir die bestuurder, volledige leerbekleedsel met sitplekverwarmers vir die voorsitplekke, sowel as elektriese verstelbare laerugsteun vir die bestuurdersitplek.

Dis duidelik dat Toyota die laaste aantal jare goed kennis geneem het van die Koreaanse aanslag en sy pryse dermate aangepas het om mededingend te bly. Hier’s die pryse vir die onderskeie modelle:

Auris X – R223 700
Auris Xi – R249 100
Auris Xs – R259 800
Auris Xr – R287 700
Auris Xr CVT – R301 700

Die waarborg dek 3 jaar/100 000 km en alle modelle het ook ’n vyf jaar/90 000 km-diensplan.

Opsommend
Die nuwe Auris is so stil soos ʼn veel duurder motor teen hoë snelheid, sy padgedrag is onberispelik, daar’s tonne laaiplek in die bagasiebak, die noodwiel is volgrootte, en die prys is reg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan 2 ·

Ek ry n nutsvoertuig omdat ons paaie so vol gate is niks anders nie ek hou van n gemaklike KAR en daarom is Toyota vêr van bo op my lys …nee dankie probeer maar weer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.