Toyota se wenner – nou ook mooier

Toyota Corolla

Toyota Corolla

Het jy geweet dat twee splinternuwe Corolla’s elke minuut van elke liewe dag iewers in die wêreld uit een van Toyota se fabrieke ry?

Die oorspronklike opdrag aan die heel eerste Corolla-hoofingenieur was om ’n motor te ontwerp wat soos die betekenis van sy naam – ‘kring van blomme’ – daartoe sou lei dat volskaalse wêreldwye motorry sou bloei en gedy. Dit blyk dat die Toyota Corolla gewis aan dié verwagtinge voldoen het.

Dit gaan natuurlik nie net oor die syfers nie, maar wanneer ’n mens oor die Corolla praat, vertel die syfers ’n fantastiese staaltjie:

  • ’n Onindrukwekkende begin in 1966 het in November daardie jaar afgeskop en nagenoeg 240 000 voertuie is in die Takaoka Japan-aanleg vervaardig. Uitvoer het onmiddellik begin;
  • Oor die 40 miljoen eenhede van die Corolla is elf generasies later en met 16 aanlegte in Amerika, Brasilië, Kanada, China, Indië, Japan, Pakistan, Suid-Afrika, Taiwan, Thailand, Turkye, Viëtnam en Venezuela, regoor die wêreld verkoop, wat dit die topverkoper-voertuig in die geskiedenis maak;
  • Oor die 1,1 miljoen Corolla’s word jaarliks aan klante in meer as 150 lande verkoop;
  • Meer as 1 miljoen Corolla’s is tot November 2013 in Suid-Afrika vervaardig en nagenoeg 980 000 is al hier verkoop.

Die nuwe motor, wat talle ontwerp-eienskappe van die Furia-konsepmodel weerspieël, is in die kol met die jongste neigings en straal baie meer selfvertroue uit – veral aan die hand van sy voorkant-ontwerp. Die gevolg is ’n Corolla wat indrukwekkend is sonder dat hy oor-aggressief is.

Buiten die estetiese oorwegings het die ontwerpspan ook die uitdaging aanvaar om ’n selfs nog groter binneruim te ontwerp. Hiervoor moes die asafstand met 100 mm teenoor die uitgaande model verleng word, en die bykomende lengte is doeltreffend aangewend om die ontwerp te verbeter en die binneruimafmetings te vergroot.

Die twee heel boonste lyne van die boonste sierrooster en kopligsamestelle strek al met die lae lip van die enjinkap langs tot diep in die voorste modderskerms, wat die elegansie van die unieke, geronde enjinkap sonder enige skerp hoeke beklemtoon.
Van die kant gesien anker die voorste en agterste ligsamestelle die skoon kurwes van die lugdinamiese hoeke wat die Corolla se kort oorhange voor en agter beklemtoon. Dít, tesame met ’n lang asafstand en gespierde voorste en agterste wielnisse, skep ’n silhoeët wat die nuwe Corolla se dinamiese houding en klassieke afmetings beklemtoon.

Die voertuig se kantaansig word verder versterk deur ’n kenmerkende lyn wat die bokant van die voorste wielboog met die stertlighulsel aan die agterkant verbind, sowel as ’n keuse van 15”-staalwiele en wieldoppe (net in die Esteem-modelle) of 16”-sierwiele.

Die Sprinter-modelle word kosmeties deur 16”-rookkleurige allooisierwiele, ’n agterste drukvlerk en unieke Sprinter-kentekens onderskei.

Die nuwe Corolla is ten gunste van die beste moontlike sleureienskappe ontwerp, wat nie net ’n bydrae tot ’n stiller kajuit lewer nie, maar ook brandstofverbruik en CO2-uitlaatgasse verminder.

Die sogenaamde sakana-lugfinne in die deurspieëls en stertligte, wat op gevorderde Formule 1-tegnologie gegrond is, versnel die lugvloei aan weerskante van die romp, wat voertuigstabiliteit en beheer verbeter.

Die voertuig se lugdinamiese eienskappe word aansienlik verhoog deur die gebruik van ’n voorste lugskort en talle panele wat ontwerp is om ’n gladde oppervlak onder die motor te bewerkstellig en die lugvloei onder die nuwe Corolla te vervolmaak. Dit sluit in ’n onderkantpaneel onder die enjin, die voorste veringkomponente en die voorste en agterste wielskorte, sowel as ’n paneel onder die vloer.

Die nuwe Corolla het benewens sy vergrote kajuit en bagasieruim ook ’n heeltemal hersiene binneruim met ’n stylvol herontwerpte stuurkajuit, uitstaande beslagmateriale en verbeterde ergonomika gekry.

Wat laasgenoemde betref, is die bestuursposisie omvattend hersien. Die hoogteverstellings vir die bestuurdersitplek is met 15 mm tot 60 mm vergroot, terwyl die skuifafstand vorentoe en agtertoe met 20 mm tot 260 mm verleng is. Die voorste sitplek se heuppunt is met 5 mm vorentoe geskuif. Die krag wat nodig is om die sitplek vorentoe of agtertoe te skuif en die rugleuning en sitplekhoogte te verstel, is ten gunste van makliker werking verminder. Daarbenewens het die nuwe Corolla meer passasiersruimte agter, wat ook groter gemak bied, deels deur die agterste heuppunt 70 mm agtertoe te skuif. Dít en die nuwe, dunner rugleuning van die voorsitplek, het die agterste beenruimte met 92 mm tot 706 mm, die beste in die klas, verleng.

Die sitplekke self is ook geheel en al herontwerp, en het nou ’n langer kussing met ’n ergonomies gevormde voorkant wat groter gemak aan mense van alle liggaamsvorms bied. Nuwe, dunner rugleunings bied die beste laerug- en dwarssteun, terwyl die kopstutte ten gunste van skitterende sweepslagbeskerming gevorm is.

Die bagasieruim is ten spyte van die nuwe Corolla se agterste oorhang wat 25 mm korter is, tot ’n gesonde 452 liter vergroot.

Die nuwe Corolla is nie net ruimer en gemakliker nie, maar is ook heelwat stiller as sy voorganger. Die binneruim is spesifiek ontwerp om klante die stilste kajuit in sy klas te bied.

Die Corolla se binneruim-omgewing, wat sy stileringskenmerke van die kragtige nuwe buite-ontwerp oordra, strek oor die hele breedte van die kajuit met ’n sterk horisontale voorpaneelontwerp. Die voorpaneel met sy sagte oppervlak wat nie weerkaats nie en naatloos oor die instrumentepaneel vloei, kombineer geronde, sagte bekleedsel met ’n holvormige middelkonsole wat in klavierswart afgewerk is.

Die sagte beslag van die instrumentepaneel en hoëglansklavierswart afwerking word deur verchroomde detailbeslag en helder blou beligting vir die instrumentepaneel, paneelkissie en kajuitomgewing afgerond om ’n gehaltegevoel in die binneruim te bied.

Die nuwe Corolla is in ’n keuse van vier modelweergawes beskikbaar: Esteem (intreevlak), Prestige (middelvlak), Sprinter (sport) en die vlagskip-weergawe, wat die Exclusive genoem word. ’n Keuse van doekstofbekleedsel (Esteem), doekstof en leer (Sprinter) of leer (Prestige en Exclusive) is beskikbaar. Die Corolla is uniek in sy klas deur leerbekleedsel as deel van die hele reeks buiten die intreevlak-Esteem-weergawe se standaard-toerusing te bied.

Al die modelle behalwe die Esteem het ’n nuwe leerbedekte stuurwiel met verskillende kontroles wat ’n magdom skakelaars vir die werking van die klankstelsel, ingeboude telefoon en vertoonskerm insluit. (Die Exclusive-modelle het ook spoedbeheer.)

Die praktiese bruikbaarheid van die bagasieruim is aansienlik verbeter deur die toevoeging van ’n eksterne skakelaar onder die lip (net vir die Exclusive) waarmee die bagasiebakdeksel oopgemaak kan word, sowel as ’n handvatsel aan die onderkant om dit makliker toe te maak.

Die toerusting aan boord is omvattend en sluit die volgende in:

  • Afstand beheerde sentrale sluiting vir die hele reeks met sleutellose slim toegang vir die Exclusive-modelle
  • Elektries beheerde deurspieëls en vensters (voor en agter)
  • Volg-my-ligte
  • Termometer
  • Ritrekenaar (TFT-skerm in die Exclusive)
  • 60/40-verdeelde agtersitplekke
  • Lugversorging (Esteem en Prestige)
  • Outomatiese klimaatbeheer (Sprinter en Exclusive)
  • Raakskerm-klankstelsel met AM/FM-radio, CD/DVD/MP3-speler, Bluetooth-selfoonstelsel en musiekstroom-werking, en ’n USB-sok vir draagbare musiekspelers wat ook ’n iPod se speellys kan vertoon. ’n Truratmonitor is deel van die standaard-toerusting van die Prestige en Exclusive – Nog iets wat die beste in hierdie klas is!
  • Die Esteem- en Sprinter-modelle het ’n gewone klankstelsel met ’n hulp- en ’n USB-sok
  • Bluetooth-selfoonstelsel in al die modelle behalwe die Esteem
  • Elektro-chromatiese binnespieël (Exclusive)
  • Reënsensor-ruitveërs (Exclusive)
  • Spoedbeheer (Exclusive)

Die 2014-Corolla, wat baat vind deur minder kragbrongewig danksy die gebruik van ligter en uiters kompakte enjinkomponente en ratkaste regdeur die nuwe enjinreeks, bied steeds lewendige verrigting en bestendige goeie brandstofverbruik, wat alles ’n groot bydrae tot doeltreffende eienaarskapsvoordele lewer.

Die hersiene modelreeks behels ’n splinternuwe D-4D-turbodiesel van 1,4 liter en drie petrol-enjins – ’n dubbel-VVT-i-enjin van 1,33 liter, een van 1,6 liter, en nog ’n nuwe dubbel-VVT-i-weergawe van 1,8 liter.

Al die enjins is aan ’n sesgang-ratkas gekoppel, maar die 1,6- en 1,8-petrolweergawes kan ook met Toyota se nuwe hoëdoeltreffende outomatiese Multidrive S-transmissie bestel word.

Die 1,33ℓ-petrolenjin, wat van Toyota se Optimal Drive-tegnologie gebruik maak om verrigting en rybaarheid te verhoog terwyl brandstofverbruik en uitlaatgasse tot die minimum beperk word, is voorsien van intelligente dubbele veranderlike kleptydreëling (Dubbel-VVT-i) en pronk met ’n hoë drukverhouding van 11,5:1 wat die werktemperatuur-doeltreffendheid van die enjin verhoog. Dié enjin lewer 73 kW teen 6 000 r/min en 128 Nm se wringkrag teen 3 800 r/min.

Die naelloop van 0 tot 100 km/h word in 12,6 sekondes kafgedraf, met ’n topspoed van 180 km/h.

Die enjin het ’n prysenswaardige brandstofverbruik van net 6ℓ/100 km in die gekombineerde siklus terwyl sy CO2-uitlaatgasse op 139 g/km te staan kom.

Die 1,6ℓ-VVT-i-enjin wat met ’n sesgang-handrat- of die nuwe outomatiese Multidrive S-transmissie beskikbaar is, en ook deur dieselfde dubbele veranderlike kleptydreëling (dubbele VVT-i) soos hierbo beskryf bevoordeel word, lewer 90 kW teen 6 000 r/min met 154 Nm se maksimum-wringkrag teen net 5 200 r/min.

Sy versnellingstye is 10,5 en 11,1 sekondes vir die handrat- en Multidrive-weergawes. Topspoed is 195 km/h (handrat) en 185 km/h (Multidrive).

Dié enjin met die handratkas bied ’n brandstofverbruik van net 6,6 ℓ/100 km en 157 g/km se CO2-uitlaatgasse. Brandstofverbruik en uitlaatgasse word met die outomatiese Multidrive S-transmissie verder tot 6,3 ℓ/100 km en 150 g/km onderskeidelik verminder.

Dubbel-VVT-i-petrolenjin van 1,8ℓ

’n Nuwe 1,8ℓ-enjin, wat die vorige reeks se tweeliter-weergawe vervang, word nou in die vlagskip-weergawes van die nuwe Corolla-reeks aangetref.

Dié 16-klepper slaan groot munt uit die intelligente dubbele veranderlike kleptydreëling wat hierbo beskryf word, sowel as Toyota se akoestiese induksiebeheerstelsel en elektroniese versnellerbeheerstelsel, en lewer 103 kW teen 6 400r/min met 173 Nm se maksimum-wringkrag teen 4 000 r/min.

Die Multidrive S-weergawe se naellopie van 0 tot 100 km/h word in 10,2 sekondes kafgedraf. Sy topspoed is 195 km/h (syfers vir die 1.8-handrat is nog nie beskikbaar nie).

Die handrat-weergawe van die 1,8ℓ-model verbruik gemiddeld net 7 ℓ/100 km en 165 g/km se CO2-uitlaatgasse. Die nuwe Multidrive S-weergawe het ’n brandstofverbruik van 6,4 ℓ/100 km met net 152 g/km se CO2-uitlaatgasse.

Toyota se Optimal Drive-1,4ℓ-D-4D-dieselenjin slaan munt uit volmaakte ontbrandingskamerafmetings en verbeterde uitlaatgashersirkulasie (EGR) vir koeler doeltreffendheid ingespan. Die enjin lewer 66 kW met 205 Nm se wringkrag in die toerestrek van net 1 800 tot 2 800 r/min.

Die 1.4 D versnel in 12,5 sekondes van 0 tot 100 km/h en kan ’n topspoed van 180 km/h haal.

Die 1,4ℓ-D-4D met die sesgang-handratkas bied die beste gemiddelde verbruik in sy klas – net 4,5 ℓ/100 km – en ’n skrale 119 g/km se CO2-uitgasse in die gekombineerde siklus.

’n Nuwe en uiters doeltreffende outomatiese hoërat-Multidrive S-transmissie is vir die 1,6- en 1,8-petrolweergawes in die nuwe Corolla-reeks beskikbaar.

Die nuwe metaalgordel-Multidrive S (CVT), wat ten gunste van kompakte afmetings, ligte gewig en brandstofdoeltreffendheid ontwikkel is, het ’n wringkragoordraer en suiwer elektroniese ‘multidrive’-oliedrukbeheer.

Multidrive S, wat bestuurders ’n groter reeks ratverhoudings, lewendiger ratwisseling en beter brandstofekonomie as die vorige gewone outomatiese 4-gang-transmissie bied, kan in drie verskillende modusse gebruik word: ’n suiwer outomatiese en naatlose palwisselpatroon, sportiewe wisseling of ’n sekwensiële 7-gang-sportwisselingsmodus, wat Shiftmatic genoem word.

Die trapsgewyse wisselpatroon van die sekwensiële 7-gang-sportwisselingsmodus kan met die ratkierie beheer word. Die stelsel is in sportwerking ten gunste van reaksietyd en regstreekse enjinbeheer ingestel. Dit skakel outomaties terug wanneer die voertuig stadiger ry en gebruik die enjin se remvermoë om remverrigting te verhoog.

Die groter gebruik van hoësterkte staal regdeur die rompstruktuur het die gebruik van ligter metaal op verskeie plekke moontlik gemaak. Die sterker romp het tot ’n gewigsbesparing van sowat 5,7 kg per voertuig gelei sonder om algehele rompstewigheid in te boet.

Rompstewigheid in die algemeen is verbeter deur die aantal sweispunte te vermeerder, ’n reguit balk wat die voorveringstutte koppel, die versterking van laterale stewigheid in die omgewing van die rompvloer, en groter struktuurstewigheid in die agterpaneel.

Die nuwe Corolla deel die beproefde MacPherson-stuttipe voorvering en agterste draaibalkvering van sy voorganger. Die voorste en agterste stelsels is egter omvattend hersien om ritgehalte en ratse gedrag te verbeter.

Die nuwe Corolla se EPS-stelsel (elektriese kragstuur) is hersien om bestuurders tesame met die kleiner stuurkolomhoek van ’n meer innemende bestuurservaring te voorsien. Die kragstuur-ratverhouding is vervolmaak en verstewig om ’n skerper stuurreaksie en gladde lynregte werking te bied.

Die nuwe Corolla is verfyn ten einde die beste aktiewe en passiewe veiligheidstandaarde sowel as beter voetgangerbeskerming te bied met ‘n 5-ster Euro NCAP-toekenning.

Aktiewe veiligheid is verbeter deur die gebruik van ’n nuwe ABS-remstelsel en ’n korter rempedaalslag vir beter gevoel en vinniger reaksie. Kloubeheer (TRC) en voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) is nou in vier van die verskillende modelweergawes beskikbaar, en wegtrekhulp (HAC2) is in al die voertuie met VSC beskikbaar.

Die gebruik van talle energie-absorberende komponente sorg vir aansienlik beter voetgangerbeskerming in die geval van ’n voorkant-botsing.

Die voorkant van die enjinkap het byvoorbeeld ’n energie-absorberende binnestruktuur terwyl die modderskerm ’n energie-absorberende montering het en die enjinafskorting en -lip ontwerp is om energie op te slurp en sodoende help om kopbeserings in die geval van ’n voetgangerbotsing te beperk.

’n Voetganger se bene word ook beter beskerm danksy die gebruik van ’n energie-absorberende samestelling van die bufferbedekking, sierrooster en voorkant van die njinkap.
Die nuwe Corolla het tot sewe lugsakke: vir die bestuurder en voorste passasier, ’n knielugsak vir die bestuurder, tweekamer-kantlugsakke voor en vollengte-luggordyne aan die kante. Die Esteem en Prestige het lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier sowel as kantlugsakke. Die Sprinter sowel as die Exclusive het die volle reeks lugsakke.

’n Gevorderde kinderveiligheidstelsel maak die gebruik van ’n wye reeks kindersitplekke vir kinders van alle ouderdomme deur middel van die sitplekgordels of ISO-monterings moontlik.

Die nuwe Corolla se nuwegeslag-ABS-kragremstelsel maak gebruik van nuwe lugverkoelde skywe van 277 mm voor en soliede skywe van 270 mm agter.

Die voertuig se standaard-toerusting sluit ’n sluitwerende remstelsel (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD) en remhulp (BA) in. Kloubeheer (TRC) en voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) is deel van die Sprinter en Exclusive se standaard-toerusting, terwyl ’n verbeterde wegtrekhulpstelsel in die modelle met VSC ingespan word.

EBD verseker dat die mees doeltreffende hoeveelheid remkrag op elke wiel in wisselende padtoestande uitgeoefen word. ABS verseker dat die wiele nie vasslaan wanneer die bestuurder rem nie, en help om vasvoetige stabiliteit in draaie te verseker.

BA bespeur wanneer die bestuurder vinnig of paniekbevange rem en pas bykomende remkrag toe indien hy nie genoeg remkrag in ’n noodgeval deurvoer nie.

TRC monitor en beheer die hoeveelheid krag wat deur die motor se wiele op die padoppervlak losgelaat word. As die stelsel bespeur dat een of meer van die wiele begin tol, word die beste manier om klouvermoë na daardie wiel te herstel, oombliklik bereken deur die krag wat na die rollende wiel gestuur word, te verminder of die wiel in uiterste gevalle te rem totdat klouvermoë herstel is.

VSC (wat deel van die Sprinter en Exclusive se standaard-toerusting is) is ontwerp om te keer dat die bestuurder beheer oor die motor verloor wanneer hy te vinnig deur ’n draai of op gladde oppervlakke ry en die motor kan gly. Sensors wat die stertswaaibewegings, longitudinale en laterale versnelling, stuurhoek, wielspoed en druk op die rempedaal monitor, bepaal stabiliteit en die teenwoordigheid van stuurtraagheid of stuuroorywerigheid.

Die stelsel herstel stabiliteit deur die enjinverrigting aan te pas en soepel remverrigting na die individuele wiele toe te pas ten einde die bestuurder te help om beheer te herwin.

1. Prys, waarborg en diensplan

1.3 Esteem – R214 900
1.3 Prestige – R232 900

1.4 D Esteem – R237 900
1.4 D Prestige – R249 900

1.6 Esteem – R225 900
1.6 Prestige – R241 900
1.6 Prestige Multidrive S – R252 900
1.6 Sprinter – R248 900

1.8 Prestige – R251 900
1.8 Exclusive – R272 900
1.8 Exclusive Multidrive S – R283 900

Die nuwe Corolla het ’n fabriekswaarborg van drie jaar of 100 000 km en word deur ’n diensplan van vyf jaar of 90 000 km gedek. Versieningstussenposes is op 15 000 km vasgestel (wat ook die 1.4 D insluit). Die nuwe modelle word ook gedek deur die ToyotaCare-noodpadhulpprogram wat klante van noodpadhulp oor 24 uur voorsien ten einde algehele gemoedsrus te verseker.

(Maroela Motors hoop om binnekort die nuwe Corolla behoorlik te toets en aan ons lesers verslag te doen – BKH)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.