Triumph Bobber Black – ʼn Bonneville met houding

Die Triumph Bobber Black. Foto: Brian Cheyne

Die Triumph Bobber is verlede jaar bekend gestel. Hierdie Britse motorfiets het een van Triumph se beste verkopers geword in Brittanje, en ek kon nie wag om self hierdie fiets onder hande te kry nie.

Ná die bekendstelling moes ek egter hoor dat elke liewe Bobber wat ingevoer is, reeds verkoop was, en ek moes ʼn jaar wag voordat ek uiteindelik die Bobber kon ry.

By Triumph se bekendstelling van hul nuwe modelle vroeër vanjaar was daar twee Bobber-modelle beskikbaar: die standaard Bobber en die nuwe opgegradeerde Bobber Black. Die Bobber is laag, en die enkelsitplek is kunstig afgewerk. Daar is nie plek vir ʼn agteroppie op die Bobber nie.

Behalwe vir die chroomelemente op die Bobber wat op die Black afgewerk is in dof-swart, lyk die twee fietse met die eerste oogopslag identies. By nadere ondersoek is daar egter merkbare verskille aan die voorkant van die fiets. Die standaard Bobber het ʼn 19” voorwiel met ʼn enkel skyf, waar die Black ʼn 16” band het met dubbele skywe. Die voorband is ook heelwat dikker. Al hierdie ekstra gewig en opgegradeerde remme het Triumph genoodsaak om die voorvurke dikker te maak. Die Black kry ook ʼn treffende LED dagry-lig en spoedbeheer as standaard.

Die Triumph Bobber Black. Foto: Brian Cheyne

Soos met die Bonneville-reeks is dit die detail wat hierdie fietse so spesiaal maak. Die enjin lyk lugverkoel, maar is nie. Die verkoeler is elegant ingewerk in die ontwerp en is maklik om mis te kyk. Aan die linkerkant is die battery in ʼn doppie wat lyk of dit uit die 30’s dateer.

Die instrumentepaneel is ʼn studie in eenvoud. Daar is net ʼn spoedmeter en ʼn klein vloeikristaleenheid. Daar is baie opsies om van te kies op laasgenoemde en dit sluit goed in soos toere, brandstofverbruik en hoe ver jy nog op ʼn tenk brandstof kan ry. Die brandstoftenk hou net 9 ℓ en die Bobber se dors moet gedurig geles word.

Die ryposisie is glad nie te onaardig nie, al is die saal so laag. Knikke in die pad het jou egter deeglik bewus gemaak van hoe min beweging daar in die vering is. Jou voete is darem nie reguit vorentoe nie, en die kort, reguit handvatsels het die spieëls op die punte gemonteer. Ek hou baie van hierdie stelsel, want ek het nooit gesukkel om agter my te sien met die spieëls so op die uithoeke van die fiets nie.

Die Triumph Bobber Black. Foto: Brian Cheyne

Ratskakeling is glad en met die 1200 cc High Torque-enjin se wringkrag was dit selde nodig om die fiets uit sesde te haal, maar hy grom so lekker as die toere klim dat ek myself gevang het dat ek doelbewus afrat net om die twee verkorte pype te hoor brul.

Ek het midde in die Gautrein-staking noodgedwonge werk toe gery met die Bobber. Ek moet sê ek sou maklik kon saamleef met hierdie fiets. Daardie fris voorwiel kort soms ʼn goeie aanpor om van rigting te verander maar as hy eers gaan lê in ʼn draai ontsenu jy nie maklik hierdie fiets nie. Die Bobber is klein genoeg om tussen die verkeer deur te glip, en ek kan verstaan hoekom hy so gewild is onder die Britte. Dit is ʼn fiets was aandag trek waar ook al jy hom stop, maar is tog ʼn praktiese, alledaagse fiets.

Produkblad : https://www.triumph-motorcycles.co.za/bikes/classic/bonneville-bobber

Die feite:

Enjin1200 cc parallel-twee
Gewig ( Droog )228 kg
Kraglewering57kw @ 6100
Wringkrag106 Nm @ 4000
Tenkkapasiteit9 ℓ
Saalhoogte690mm

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.