Triumph Scrambler XE: Tuis op enige pad

Die Triumph Scrambler XE. (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Scrambler XE is, wat my betref, seker die naaste wat jy gaan kom aan ’n ware dubbeldoelfiets. Nie net lyk hy soos hy moet nie, maar beskik ook oor die vermoë om te kan ry net waar jy wil. Sy enigste beperking is dalk die vlesige stuk wat die saal en die handvatsels verbind.

Die Scrambler is gebaseer op die bewese Bonneville-platform. Dit beteken dus ’n parallel-twee-enjin van 1 200 cc wat 90 perdekrag lewer. Die raam maak nie voorsiening vir ’n moderne enkelskokbreker nie, maar dis juis die dubbele agterskokbrekers wat aan Triumph sy outydse karakter gee. Daar is egter niks outyds aan die agterste twee Öhlins-skokbrekers nie. Die voorste Showa-skokbrekers is onderstebo gemonteer en ten volle verstelbaar. Tesame met die nuwe verlengde swaai-arm het die Scrambler genoeg grondvryhoogte om ’n Hilux jaloers te maak.

Die Triumph Scrambler XE. (Foto: Brian Cheyne)

Met ’n vrotpad-vriendelike 21″-voorwiel en die hoërgraad-pensplaat, is die fiets se planne duidelik. Die verkoeler is egter heeltemal ontbloot en daardie voorste modderskerm sit teenaan die wiel. As jy ’n modderige deel aanpak, kan dit ’n probleem skep, maar ek is seker dat Triumph vir jou bykomende beskerming kan aanbied.

Soos met alle Triumphs is daar oral aandag gegee aan elke tikkie detail. Die brandstoftenk is klassiek Bonneville en het twee inhamme voor om die voorvurke meer spasie te gee om skerp te kan draai. Die tenk self het ’n aluminiumband oor net soos van ouds. Die brandstofdoppie is ’n stukkie nostalgiese kuns.

Die saal volg ook die klassieke Bonneville-resep en verskaf genoeg ondersteuning. Maak maar net seker jy het lang bene as jy op hierdie saal wil gaan sit. Die rede is tweeledig. Eerstens, die fiets is baie hoog, en tweedens, daai pyp! Ai, daai pyp. Die uitlaatpyp is wel meesterlik gebuig om onder die tenk en saal deur te loop, maar die hitte wat dit opwek, kan jou lelik laat les opsê as jy stadig ry of stilstaan.

Die Triumph Scrambler XE. (Foto: Brian Cheyne)

Danksy jare lange verkeerde gewoontes sit ek my regtervoet neer as ek stop. Dan sit my binnebeen mooi op die stoofplaat wat die uitlaatpyp is. Gou het ek geleer om my linkervoet neer te sit en my regterbeen op die voetrus te hou, soos dit beskryf word in “Motorfietsry vir beginners”.

Die Triumph se instrumentasie is seker van die beste in die bedryf. Dit is ’n kleinerige eenheid, maar uiters volledig en boonop aanpasbaar. Jy kan na hartelus verstel en ’n uitleg opstel wat vir jou aanvaarbaar is. Die fiets groet jou selfs op jou naam – as jy uitgewerk het waar jy jou naam kan intik.

Daar is twee Scrambler-modelle beskikbaar, maar Suid-Afrika kry net die top-XE-model. Hierdie model bevat luukshede soos spoedbeheer en verhitte grepe. Selfs met al die luukshede kan jy nog meer items op jou Scrambler sit om hom te verpersoonlik.

Die Triumph Scrambler XE. (Foto: Brian Cheyne)

Op die pad is die saal van die Triumph glad nie ’n slegte plek om te wees nie. Die Triumph is nie ’n spoedvraat nie. Die 1 200 cc-motor lewer 90 perdekrag, maar dit is die wringkragsyfer van 110 Nm wat die Scrambler so lekker maak om te ry. Ander fietse lewer dalk meer, maar min van hulle lewer dit teen slegs 3 950 rpm. Versnelling is ’n belewenis.

Die fiets beskik oor verskeie ryprogramme en dit maak die fiets uiters bekwaam as die teerpad eindig. Ek het ’n paar stofpaadjies gaan beproef  en het seker nie naastenby by die fiets se volle vermoë uitgekom nie. Die vering op die fiets is uiters goed en ek het gevoel dat ek genoeg vertroue in hierdie fiets het om tegniese stukkies aan te pak. Nie net sal jy ver paaie kan ry met die Triumph Scrambler XE, jy sal ook ver van die pad af kan verken. Triumph het deesdae ook hulle eie aanlyn winkel as jy dalk klere wil koop om by jou nuwe Scrambler te pas.

Sien die produkblad hier.

Besoek Triumph Suid-Afrika se aanlyn winkel hier.

Die feite:

Enjin1 200 cc parallel-twee
Gewig (droog)207 kg
Kraglewering66 kW teen 7 400 rpm
Wringkrag110 Nm teen 3 950 rpm
Tenkkapasiteit16 ℓ
Saalhoogte870 mm
PrysVanaf R205 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gys ·

Lyk na n lekker speelding, en Triumph maak goeie fietse. Ek sou sê die beste dubbeldoelfietse bly maar modelle soos die Tiger, Explorer, Africa Twin, Tenere, KTM en BMW GS.

KrokodilBotha ·

Engelse scrambler is seker goed om deur Londen te ry. Dink n regte 100 kg scrambler en n ou bakkie sal verder kan ” explore”

SjN ·

Vertoon nie te sleg nie maar sal nie my 1200 gs adventure vir hom wil ruil nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.