Triumph Speedmaster – die rustige Bonneville

Die Triumph Speedmaster. Foto: Brian Cheyne

As daar nou één ding is wat reg in Triumph se hand gespeel het, is dit die skielike herlewing van retro-motorfietse.

Die Triumph Bobber het só goed verkoop in Engeland en Europa dat Triumph die Bobber Black by die reeks gevoeg het. Die Black het dubbele skyfremme op ’n kleiner, maar breër voorwiel gekry. Dit is juis die rebelse ontwerp van die Bobber en Bobber Black wat Triumph se verkoopsyfers laat groei het.

Triumph het nou voortgebou op daardie platform en ’n fiets geskep wat hy as ’n toerfiets wil voorhou: die Triumph Speedmaster. ’n Meer konserwatiewe Bobber, as jy wil.

Die Triumph Speedmaster. Foto: Brian Cheyne

As jy die Speedmaster langs ’n Bobber parkeer, sal jy gou die ooreenkomste sien, maar tog vertoon die Speedmaster meer klassiek. Daar is chroomafwerking oral op die fiets en die lae saal is stylvol gevorm en afgewerk met wit aksente. Daar is selfs ’n plek vir ’n passasier, iets wat die Bobber nie bied nie. Die passasier sal egter nie lang afstande op die klein vierkantjie kan aflê nie, maar ’n vinnige Saterdagoggendontbyt behoort haalbaar te wees.

Die voorkant van die Speedmaster het die bonkige 16”-voorwiel met die twee lywige remskywe van die Bobber Black.

Die Triumph Speedmaster. Foto: Brian Cheyne

Daar is ’n klassieke ronde voorlig kompleet met moderne LED-dagryligte. Die instrumentasie is eenvoudig, met ’n enkele meter wat jou spoed aandui. Dit sluit ook ’n klein vloeikristaleenheid in – wat onder meer ’n ritmeter en enjinrevolusies insluit. Ek sou verkies het om die dubbele meters van die ander Bonnevilles op die Speedmaster te sien, maar dit sou dalk net afbreuk doen aan die klassieke lyne.

Die handvatsels is nie reguit nie, maar na die ryer toe gebuig. Saam met die voetkontroles wat voor op die fiets gemonteer is en die lae saal, is die sitposisie baie ontspanne.

Die Triumph Speedmaster. Foto: Brian Cheyne

Op die Speedmaster is spoed die laaste ding waaraan jy dink. Inteendeel, die hele ryervaring bring ’n rustigheid oor jou. Die klank uit die twee uitlaatpype is amper hipnoties. Die brandstoftenk is groter as dié van die Bobbers en die fiets is toegerus met elektroniese spoedbeheer. Alles om jou ryervaring moeiteloos te maak.

Danksy die uitstekende vering hanteer die Speedmaster baie goed. Die fiets is net baie laag, so jy leun skaars in ’n draai, dan voel jy al jou skoene op die teer. Leun jy nog verder, skraap die pennetjies onder die voetrusse. Die eerste keer dat dit gebeur het, het dit my onkant betrap, want ek het nie verwag dit gaan so gou gebeur nie. Dadelik het my pas stadiger en rustiger geword.

Die Triumph Speedmaster. Foto: Brian Cheyne

En dit bring my weer terug na die karakter van hierdie fiets. Met 77 pk en 106 Nm wringkrag kan dié Triumph vinnig versnel, maar dit voel nie reg nie. Jy moet rustig raak as jy op ’n Speedmaster klim. In geen stadium het ek gevoel ek wil sy topspoed probeer bereik nie. Sy topspoed hang in elk geval heeltemal af van jou vermoë om te kan vashou.

Klassieke lyne en ’n rustige ryposisie maak dat die Speedmaster aandag trek, waar ook al jy stop. Dit is ’n motorfiets wat ek graag sal wil hê vir daardie lui Sondagmiddagritte na nêrens nie.

Die feite:

Enjinkapasiteit1200 cc parallel twee
Gewig (Droog)245.5 kg
Kraglewering77 pk/57 kW @ 6 100 rpm
Wringkrag106 Nm @ 4 000 rpm
Tenkkapasiteit12 ℓ
Saalhoogte705 mm
PrysVanaf R 179 000

Klik hier vir die produkblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.