Triumph Street Triple: Kleiner nie noodwendig slegter

Die Triumph Street Triple. Foto: Brian Cheyne

Die Triumph Daytona 675 is steeds ʼn ongelooflike mooi motorfiets, al het die ontwerp grotendeels onveranderd gebly sedert 2006.

Ongelukkig vir die Daytona het die Europese mark skielik meer van kaalfietse begin hou. Die nimlike Daytona is dus verlos van sy bakwerk en die Street Triple is gebore.

Die eerste Street Triple het groot ronde kopligte gehad en was maar ʼn onooglike fiets. Oor die jare het die verbeteringe aan die Triumph meer hoekige kopligte ingesluit. Die enjin is ook vergroot tot 765 cc en spog met 80 nuwe onderdele wat die kraglewering met 16% verhoog het.

Ek het verlede jaar die 1050 cc- Speed Triple onder hande gehad en was baie beïndruk met hoe maklik hierdie fiets was om te ry. Die kleiner weergawe het my ook nie teleurgestel nie. Net so terloops, Triumph is in 2019 die enjinverskaffer vir die Moto2-reeks en dit is hierdie einste eenheid wat die basis vorm van die nuwe enjins.

Die Triumph Street Triple. Foto: Brian Cheyne

Die eerste ding wat ek opgemerk het op die nuwe Street is die afmetings. Die fiets is baie kompak. Waar die Speed Triple se uitlaatpype onder die saal uitkom, het die Street ʼn baie elegante, verkorte uitlaatpyp wat net agter jou regtervoet stop.

Daar is verskeie modelle in die Street Triple-reeks, maar in Suid-Afrika kry ons net die top-RS-model. Hierdie model beskik oor snelskakeling, ʼn ekstra ryprogram en uitstekende vering. Voor is daar Showa-vurke en agter kry jy ʼn ten volle verstelbare Öhlins-stelsel. As jy ʼn baanspesialis is, gaan jy geen probleem hê om hierdie Street Triple fyn in te stel nie. Voor en agter is Brembo-remme. Alles omtrent hierdie fiets straal gehalte uit.

Die saal is pragtig met wit stiksels afgewerk en die Triumph-embleem pryk prominent op die passasier se saal. Die vloeiende tenkontwerp is oorgedra van die groter Speed Triple en die familie-ooreenkoms is baie duidelik.

Die Triumph Street Triple. Foto: Brian Cheyne

As jy ook onlangs een van die nuwe Triumphs gesien het, sal die instrumentasie dadelik bekend lyk. Dit is dieselfde eenheid wat in feitlik al die nuwe modelle voorkom. Dit is ʼn volkleureenheid met ʼn magdom inligting wat jy kan verstel na gelang van jou gemoed. Daar is, byvoorbeeld, ses verskillende uitlegte om van te kies en die verstelling is verspot maklik en intuïtief.

Die koppelaar is uiters lig en as die enjin luier, klink dit soos ʼn veel groter fiets. Daar is vyf ryprogramme om uit te kies: Reën, Pad, Sport, Baan en Ryer. Die baanprogram is net vir die mees bekwame ryers bedoel en laat die beheer grootliks aan die ryer oor. Ek kies maar Sport, want dit gee jou tog ʼn lewendige versneller, maar die belangrikste elektroniese vangnette is nog slaggereed. Die Ryer-program laat jou toe om alles van tolbeheer tot sluitwering onafhanklik te stel.

Die Triumph Street Triple. Foto: Brian Cheyne

Die spieëls is op die punte van die handvatsel gemonteer. Hierdie uitleg is seker die beste plek vir spieëls om te wees. Dit maak egter die fiets net daai tikkie breër en jy moet mooi korrel tussen die karre deur. Hulle het ook ʼn redelike vibrasie op spoed, so jy moet maar die koppelaar vir ʼn oomblik intrek as jy wil sien wat agter jou aangaan. Windbeskerming is daar nie op die Street Triple nie, maar dit is te verwagte van ʼn kaalfiets.

Die eerste teken dat ek hierdie fiets baie sou geniet, was toe ek die eerste keer die krane oopmaak.  Die enjin trek ʼn diep teug lug in en selfs met die standaarduitlaatpyp het die Street drie toonhoogtes van genot.

Van amper doodstil tot ʼn diep roggel vat nie veel op die versneller nie, maar as jy jou gewrig nog verder draai, klim die klank nog so ʼn oktaaf en die voorwiel raak lig. Die elektronika hou dit darem in toom, maar die klankbaan raak verslawend.

Die Triumph Street Triple. Foto: Brian Cheyne

Om nie eens te praat van draaie nie. Die fiets voel uiters sekuur in draaie en jy hoef bloot net in die rigting van jou beplande lyn te kyk, en die RS is al klaar daar. Die snelskakeling maak die versnelling uiters maklik en jy kan nie anders as om hierdie fiets terdeë te geniet nie.

As ek moet kies tussen die groter Speed Triple en hierdie fiets, sal ek bepaald die Street Triple vat. Hy is amper R60 000 goedkoper, maar wat rygenot betref, is daar min verskil tussen die twee.

Produkblad : https://www.triumph-motorcycles.co.za/bikes/roadsters/street-triple

Die feite:

Enjin765 cc-driesilinder
Gewig (Droog)166 kg
Kraglewering90 kw @ 11 750 rpm
Wringkrag77 Nm @ 11 000 rpm
Tenkkapasiteit17.4 L
Saalhoogte825 mm
PrysVanaf R157 000

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.