Twee Mercs – dieselfde, maar verskillend

Die Mercedes-Benz A200-sedan. Foto: Verskaf

Ons kon onlangs twee Mercedes-Benz-voertuie direk ná mekaar op die proef stel.

Ek’t gewonder – hoekom sou Mercedes-Benz twee motors vervaardig wat amper identies is? Nadat ek met hulle albei gery het, verstaan ek egter hoekom.

Die twee motors ter sprake is die A200-sedan en die CLA 200.

Ontwerp:

Die A200-sedan is presies wat dit sê – ʼn doodgewone vierdeur-sedanmotor met sitplek vir vyf. Die CLA 200 is óók ʼn vierdeur-motor met sitplek vir vyf, maar hy’t die “koepee”-siekte wat alle vervaardigers op elke reeks toepas. Dink GLC coupé, of X4, X6, ens. Vat ʼn gewone motor, druk sy boude stomp sodat hy soos ʼn piesang lyk, en siedaar – ʼn koepee met vier deure. Ek moet byvoeg dat die woord koepee twee deure beteken. Ja, ek verstaan ook nie.

Binneruim:

Die Mercedes-Benz CLA 200. Foto: Verskaf

Die twee voertuie is amper identies in die binneruim. Die enigste groot verskil is die laer daklyn vir agterste passasiers weens die bogenoemde koepee-siekte. Verder het die CLA ʼn mooier kleurskema gehad – maar dis alles opsies en jy kan jou A, óf CLA, verander nes jy dit wil hê. ʼn Opsie wat die A200 gehad het, wat maar standaardspesifikasie moet word deur die hele reeks, is die groter skerm. Die paneel waarin die skerms lê, is altyd dieselfde grootte, maar die kleiner skerm steek af teen die res van die kajuit.

Enjin en ratkas:

Die Mercedes-Benz CLA 200. Foto: Verskaf

Albei voertuie word aangedryf deur Mercedes-Benz se nuwe 1.3-viersilinderturbopetrolenjin. Hy bied 120 kW en 250 Nm. En 0–100 km/h neem ʼn billike 8,1 sekondes – veral vir ʼn 1.3. Hier is dit waar dinge baie interessant raak. In die A200 voel die enjin baie grof en die ratkas traag. In die CLA is daar baie minder vibrasie en geraas van die enjin en die ratkas baie gladder. Daar is tegnies geen verskil tussen die twee nie. Al wat ek kan dink, is dat die CLA nuwer programmering bevat. Waar die 1.3 wel tot sy eie reg kom, is met brandstofverbruik. Op die oop pad is die A200 én CLA 200 voorwaar lig op petrol.

Ritgehalte en padhouvermoë:

Die ritgehalte op die twee, albei die intreemodelle in hul reeks, is puik. Dis te danke aan kleiner wiele. Sodra mens na AMG-produkte begin kyk, loop hulle almal op reusewiele met piepklein bandprofiele. Padhouvermoë is in die kol vir dié soort voertuig en mens kan alles geniet wat die 1.3 te bied het.

Veiligheidstelsels:

Die Mercedes-Benz A200-sedan. Foto: Verskaf

Mercedes-Benz bou nog altyd prima voertuie. Die A en CLA het elke denkbare veiligheidstelsel, aktief en passief. Die botsingwaarskuwingstelsels in nuwer voertuie werk puik in die verkeer om jou vroeg bewus te maak van die verkeer wat skielik stilhou. Een van Merc se stelsels wat beslis aandag kort, is die lane keep assist. Sodra die voertuig dink mens dwaal uit jou baan uit, pluk hy die motor terug met ʼn hengse gejuig terwyl hy redelik aggressief rem. Die eerste keer dat dit gebeur, het mens byna ʼn ambulans en defibrillator nodig om jou hart weer aan die gang te kry. Verder werk alles mooi in harmonie met die voertuig.

Om die twee op te som is maklik. Dis ʼn jammerte dat ons ʼn tendens het waar ons wegbeweeg van sedanmotors af. Dit ry lekker en is meer prakties as wat mense dink, veral met kattebakspasie. Om die een of ander onverklaarbare rede voel die CLA beter afgerond en ʼn luukser produk as die A200-sedan. Gelukkig is my kinders nog nie lank nie, so die simpel dak sal hulle nie pla nie.

Die reekse lyk só:

A-klas-sedan

Mercedes-Benz A200 sedan Progressive120 kW/250 Nm5.4 ℓ/100 kmR541 000
Mercedes-Benz A200d sedan Progressive110 kW/320 Nm4.5 ℓ/100 kmR579 000
Mercedes-Benz A250 sedan AMG Line165 kW/350 Nm5.4 ℓ/100 kmR615 771
Mercedes-Benz A200d sedan AMG Line110 kW/320 Nm4.5 ℓ/100 kmR629 175

CLA

Mercedes-Benz CLA200120 kW/250 Nm5.5 ℓ/100 kmR579 380
Mercedes-Benz CLA220d110 kW/320 Nm4.4 ℓ/100 kmR622 000
Mercedes-Benz CLA200 AMG Line120 kW/250 Nm5.5 ℓ/100 kmR629 555
Mercedes-Benz CLA220d AMG Line110 kW/320 Nm4.4 ℓ/100 kmR672 175
Mercedes-Benz CLA200 Edition 1120 kW/250 Nm5.5 ℓ/100 kmR677 980
Mercedes-Benz CLA220d Edition 1110 kW/320 Nm4.4 ℓ/100 kmR720 600

Die kompetisie lyk só:

Audi A3 30TFSI sedan110 kW/250 Nm4.8 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R490 410
BMW 220i Coupé Sport Line135 kW/270 Nm5.5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R580 159

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Nie oortuig dat ‘n klein turbo enjin die antwoord is in SA nie. Kry ‘n gevoel dat die enjins nie vir ‘n lang lewe gebou word nie. Sal maar hou by my gewone enjins.

koos10 ·

Wat my verbaas is hoe Mercedes in die laaste 10 jaar enjins se kraglewering meer as verdubbel het. 10 tot 15 jaar terug het VW ‘n 1400 enjin gemaak wat 125kw gelewer het, en dit was ongelooflik. Dit was egter ‘n prototipe. Nou doen Merc dit op produksie vlak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.