Tydren-seisoen 2014

Die opkomende jong ster, Henk Lategan Foto: Motorpress

Die opkomende jong ster, Henk Lategan Foto: Motorpress

Glo jy ook, soos ek, dat Formula 1 gelykstaande is aan sit en kyk hoe bome groei? Indien wel, moenie bekommer nie, want die manne (en vroue) van staal – Suid-Afrika se tydrenspesialiste – maak gereed vir die nuwe seisoen.

Hierdie faset van motorsport, wat in afgeleë woude en plantasies afspeel, bied aan die duisende mans, vroue en kinders wat hulle helde aanspoor, die geleentheid om gratis op bepaalde punte saam te kom: net om te sien toe hulle helde teen asemrowende snelhede in ‘n oogwink verbyflits.

Dis dan wanneer die veteraantoeskouers van die amateurs onderskei kan word. Die ‘ou hande’ kyk altyd hoe die wind waai en sorg dat hulle uit die pad bly van die naderende stofwolk en vlieënde klippe wat deur hierdie kragtige motors opgeskiet word.

Miskien is daar ook ‘n diepliggende perverse bekoring daarin om tydrenjaers in aksie te sien omdat een misstap – anders as by Formula 1 – die motor en sy twee insittendes met ‘n boom kan laat kennis maak of teen ‘n steil afgrond na benede kan laat stort.

Vir die Groot Drie op die Suid-Afrikaanse tydrentoneel – Ford, Toyota en Volkswagen – is die seisoen van groot belang, want die kompetisie dien ook as toetsarena waartydens motors tot die uiterste beproef word en tegnologiese verbeterings later in gewone modelle ingebou kan word.

Die komende seisoen begin op 7 en 8 Maart met die KwaZulu/Natal-tydren (voorheen bekend as die Total) en speel af in die suikerrietlande en bosse van die Scottburgh-, Park Rynie- en Umzinto-omgewing.

Dit is dan ook hier waar Pretorianers Mark Cronjé en Robin Houghton, die 2012 en 2013-kampioene, met hulle super-vinnige en betroubare Ford Fiesta S2000 met sy 4-wielaandrywing vir die Toyotas en Volkswagens wil wys dat hulle steeds baas is (sien foto onderaan die berig). Om die titelhouer Fiesta (no 24) gereed te kry, kos in die orde van R2 miljoen, maar gelukkig vir die Cronjé/Houghton-wenspan, het Ford SA en die Ford-handelaars landwyd mooi handjie bygesit om die boonste plek op die podium die derde agtereenvolgende keer te betree.

Maar natuurlik sal Toyota en Volkswagen, albei groot en beroemde name op die SA motortoneel, nie sommer toelaat dat Ford met die louere wegjaag nie. Onder aanvoering van spanbestuurder Glyn Hall, wat al groot sukses vir Toyota in die moordende Dakar behaal het met die puik Hilux-renbakkies wat hy in sy werkswinkels optower, sal die Castrol Toyota Yaris-span alles in die stryd werp om die kroon te dra. Toyota se spanne sal bestaan uit Leeroy Poulter, wat onlangs sy vuurdoop in die Dakar gehad het met Elvene Coetzee wat as navigator die pad moet aandui.

Ander sterre in die Toyota-span sluit in Hergen Fekken, wat na Toyota terugkeer nadat hy enkele seisoene ‘n VW-stuurwiel in sy hande gehad het. Fekken se medebestuurder is die ervare Caroline Swan, nog ‘n meisie wat vreesloos sorg dat hulle motor nie die ‘clutch’ kwytraak nie. Dat Toyota belê in groot name is duidelik wanneer die spanlys die beroemde Giniel de Villiers (met ‘n eerste, tweede, derde en vierde plek in die moordende Dakar) insluit. Giniel se navigator is die ewe bekende en betroubare Greg Godrich.

Na ‘n aantal skommelinge in sy span met die vertrek van Hergen Fekken en die blitsige Enzo Kuun, het Volkswagen steeds die dienste behou van een van die opwindendste jong sterre, naamlik die 20-jarige Henk Lategan wat reeds vanaf sy 16e jaar agter die wiel van ‘n tydrenmotor sit. Henk word allerweë beskou as ‘n toekomstige kampioen wat deurentyd sy vaardighede in Europa opskerp wanneer hy nie plaaslik deelneem nie. Trouens, hy het verlede jaar by verskeie geleenthede getoon dat hy net so vinnig as die meer senior jaers is deur verskeie trajekte (stages) te wen. Volkswagen se ander S2000-motor sal in die betroubare hande van Gugu Zulu wees met Pierre Arries, wat verlede jaar langs Hergen Fekken gesit het, langs hom.

Die KZN-tydren word gevolg deur een van die gewildste renne op die kalender – die Sasol – wat afspeel in die Sabie, Hazyview, Witrivier en Nelspruit-omgewing. Hierdie byeenkoms sal óf op 11 en 12 April óf 23 en 24 April gehou word.

Hierna, op 23 en 24 Mei, is dit tyd vir die Rallystar-tydren naby Bapsfontein. Dis gewoonlik ‘n effe onaanskoulike affêre deur droë mielielande en gepaardgaande rooibruin stofwolke wat oor die omgewing hang. Dikwels is dit kostelik om te sien hoe van die deelnemers beheer verloor en deur die mielielande self ploeg voor hulle weer op die aangeduide weë beland.

Die PMC Rallystar-byeenkoms verskuif hierna na Port Elizabeth/Uitenhage vir die Volkswagen-tydren op 12 en 13 Julie. Sekere sneldele word in die Longwood-woude en plantasies beslis en dis hier waar verskeie toeskouer-kykpunte groot vermaak verskaf.

Skaars is die Volkswagen-tydren agter die rug of die aksie skuif terug na die stowwerige Diamantdorp Cullinan op 15 en 16 Augustus vir die Ford-handelaarstydren, en ‘n maand later, op 19 en 20 September is die Toyota Kaapse handelaars aan die beurt vir hulle ‘naam’-byeenkoms (Toyota Cape Dealer Rally). Weer eens (behalwe wanneer dit reën) word hierdie byeenkoms beslis op die grondpaaie in die Malmesbury-omgewing.

Polokwane (die voorlaaste byeenkoms van die seisoen) is hierna aan die beurt op 17 en 18 Oktober, terwyl die laaste byeenkoms, bekend as die Toyota Gautenghandelaars-byeenkoms, op 21 en 22 November iewers in die Noordwes-provinsie gehou gaan word.

Intussen is die 2012 en 2013-kampioenpaar Mark Cronjé en Robin Houghton, die oorweldigende gunstelinge, maar sal die Toyota- en Volkswagen-spanne alles in hulle vermoë doen om die titel ‘n nuwe tuiste te gee.

Mark Cronje se suksesvolle Ford Fiesta Foto: Quickpic

Mark Cronje se suksesvolle Ford Fiesta Foto: Quickpic

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.