Uiteindelik – ‘n pragtige BMW

Die nuwe BMW 4-reeks Foto: BMW

Die nuwe BMW 4-reeks Foto: BMW

Deur die jare het BMW verskeie gedaanteverwisselings ondergaan – van die hoekige en bonkige ‘baksteen op wiele’-era, tot die Chris Bangle-geslag (toe eienaardige agterstewe die norm geword het) – en nou die 4-reeks.

Hierdie nuweling bly in sy sportiewe wese steeds getrou aan die BMW-tradisie van bougehalte en werkverrigting, maar bied nou die bykomende voordeel van ‘n skoon, elegante ontwerp wat koppe laat draai en mense twee keer laat kyk. Trouens, die ontwerpspan het daarin geslaag om die 4-reeks weg te posisioneer van sy 3-reeks stalmaat.

Sigbaar langer en breër as sy voorgangers, maar steeds met BMW se tradisionele kort oorhange (wiele wat op die hoeke geplaas word), die lang enjinkap en die lae-vloeiende daklyn verkondig dat die ‘4’ ‘n koepee vir die fynproewer is.

Die binneruim is ewe aanskoulik. Puik gestileerde sitplekke met versonke kopstutte en topgehalte materiaal skep ‘n omgewing vir die kieskeurige eienaar wat net die beste wil hê en bereid is om daarvoor te betaal.

Drie toerustingvlakke, asook ‘n M-Sportpakket kan gekies word – wat meebring dat die 4-reeks by die individuele koper se smaak aangepas kan word.

Vanselfsprekend kan die voornemende koper ook kies tussen verskillende enjins en ratkaskombinasies. Daar’s ‘n kragtige in-lyn 6-silinder wat 225 kW uitskop en ‘n 4-silinder wat 180 kW ontwikkel en in die 428i Coupé gebruik word. Ratkaskeuse bestaan uit ‘n 6-gang handskakeleenheid of die 8-gang Sports Automatic. Laasgenoemde was ‘n belewenis in dié sin dat skakeling so snel en glad was dat die bestuurder die toereteller moes dophou om te sien wat besig is om onder die enjinkap te gebeur.

Die handskakeleenheid – wat steeds deur sommige puriste verkies word – het ook puik presteer, danksy ‘n redelike ligte koppelaargevoel en kort gooie. Soos by alle BMWs is aandrywing deur die agterwiele en is daar dus geen sprake van wringstuur nie.

Alhoewel brandstofverbruik tydens die bekendstellingsrit in die Wes-Kaap nie gemeet is nie, het BMW die jongste tyd heelwat moeite gedoen om sy motors ligter en meer brandstofdoeltreffend te maak. Die Efficient Dynamics-ontwikkelingsprogram konsentreer sterk op aerodinamika, outomatiese aan- en afskakeltegnologie en ratskakelaanwysers (in die handratmodel).

Die boodskap is duidelik: BMW sal sekerlik nooit afstand doen van sy sportiewe geaardheid nie, maar is ook terdeë bewus van hulpbronne wat optimaal benut moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.