Unieke Italiaanse avontuurfiets

Paulo op sy Moto Guzzi. (Foto: Brian Cheyne)

Paulo was ’n karakter van sy eie. Ek het hom raakgeloop by die Long Tom-kanon op die Long Tom-pas. Uitgevat in sy rooi en wit Marlboro-leerbaadjie om by sy fiets te pas. Selfs sy sonbril was wit en rooi. Hy was besig om op sy fiets te klim toe ek nader gestaan het. Nog voor ek die naamplaatjie gesien het, het ek geweet hy ry ’n Moto Guzzi. Die unieke enjinkonfigurasie is eie aan hierdie Italiaanse vervaardiger.

Honda se CX-reeks motorfietse het wel dieselfde uitleg gehad, maar as jy ’n V-twee sien wat dwars in ’n raam sit, is die kanse baie goed dat jy met ’n Moto Guzzi te doen het. Paulo het sewe Moto Guzzi’s en hy het twee saamgebring uit Italië terwyl hy hier was op kontrak in Hoedspruit.

Sy gesig het gestraal van passie vir sy fiets en ek is ’n kort les gegee in die korrekte uitspraak van die naam: “Ghoetsie,” het Paulo trots gesê, met die meegaande handgebare. Paulo se Moto Guzzi kon jy baie ver hoor toe hy die Long Tom-kronkels aanvat. Manalleen, net hy en sy Guzzi en die Oos-Transvaal se beste paaie.

Die Moto Guzzi V85 TT. (Foto: Brian Cheyne)

Moto Guzzi bestaan al van 1921, en hoewel die maatskappy al ’n paar maal van eienaars verwissel het, het hulle steeds, ononderbroke motorfietse vervaardig. Hulle val tans onder die Piaggio-groep wat bekend is vir Aprillia en die alombekende Vespa-motorfiets. Moto Guzzi het tans ’n paar modelle beskikbaar in Suid-Afrika – die klein V7 en die fokus van my toets, die V85 TT.

Die V85 TT is onmiskenbaar ’n Guzzi. Sommer met die eerste oogopslag, soos met Paulo se fiets, kyk jy net na die enjin en jy wéét. Die TT in die benaming staan vir “Tutto Terreno”, Italiaans vir alle terrein. Dit beteken dat Moto Guzzi hierdie fiets bemark as ’n avontuurfiets en hier in ons land is die kompetisie redelik straf.

Die Moto Guzzi V85 TT. (Foto: Brian Cheyne)

Die enjin is ’n 853 cc eenheid wat hom in ’n klas sit saam met fietse soos die BMW F 850 GS en Triumph se Tiger. Met 80 perdekrag en 80 Nm se wringkrag lyk dinge skielik nie meer so goed vir die Italianer nie. Die V85 het boonop nog ’n dryfas na die agterwiel wat die krag nog verder gaan tap.

Die fiets is afgewerk in geel, wit en rooi. Paulo sou nou mooi gepas het by hierdie fiets! Dit is glad nie ’n onooglike fiets nie en hy lyk stewig genoeg vir die doel waarvoor hy gemaak is. Miskien sou ’n enkele voorlig die prentjie nog beter laat lyk het, maar die dubbele voorlig dra by tot die unieke karakter van die V85. Afwerking is oral uitstekend.

Die Moto Guzzi V85 TT. (Foto: Brian Cheyne)

As jy op die fiets klim, is dit glad nie ’n slegte plek om te wees nie. Die saal is baie gemaklik en die handvatsels gemaklik breed. Daar is ook minimale knoppies en skakelaars, selfs al het hierdie fiets spoedbeheer en ’n volkleur TFT-skerm wat verstel moet word. Gepraat van die skerm, dit kan koppel met jou foon en jy kan dan informasie van jou rit opneem. Daar is drie ryprogramme om van te kies: Road, Rain en Off Road. Die Off Road program skakel die sluitwering op die agterwiel af.

Min dinge kom egter by die gevoel as jy die aansitter druk op so ʼn fiets. Net soos met ’n bokserenjin skop die aansitter hard in en as die enjin luier, wikkel die hele fiets. As jy die versneller draai, trek die fiets na regs soos die sentrifugale kragte inwerk op die raam. Dit is ’n lekker gevoel. Die koppelaar is lig en eerste rat skakel sonder enige meganiese byklanke.

Die Moto Guzzi V85 TT. (Foto: Brian Cheyne)

Op die snelweg het ek my self gevang dat ek groot geglimlag het. Hierdie fiets ry ongelooflik lekker. Soos ek verwag het, is daar nie baie krag nie. As jy die versneller groot oopdraai, maak die fiets die diepste gromgeluide, maar nie veel gebeur nie. Dit maak egter nie die rit minder aangenaam nie. Daar is steeds genoeg woema om jou meer as 180 km/h te kan laat kry, so wat wil jy meer hê?

Die saal is ruim en ferm genoeg dat jy baie ver sal kan ry voor jy sal moet stop. Die fiets hanteer goed en kan nogal galop as jy haastig is. Die voorste windskerm was, vir my, net te kort, maar nie ongemaklik nie. Om sy grondpadvermoë te beproef het ek het een middag na werk uitgery die veld in. Al met ’n bokspoorpaadjie af tot by ’n droë dam. Selfs hier het die VT my beïndruk.

Die Moto Guzzi V85 TT. (Foto: Brian Cheyne)

Die fiets hanteer maklik en voel lig genoeg dat ek ’n baie kort, tegniese stukkie sonder vrese kon aanpak. Die V-enjin lewer genoeg wringkrag op lae spoed en dit boesem vertroue in.

Alles in ag geneem skiet die V85 op papier tekort. Daar is vinniger en sterker fietse in sy klas, maar die Guzzi bied net iets anders wat ek nie in woorde kan omsit nie. Die karakter oorrompel jou. Die Moto Guzzi V85 TT sal nie meeste mense se eerste keuse wees nie, maar dié wat wel op hom besluit, sal soos Paulo wees. Hulle weet wat hulle het, en hulle geniet dit tot die uiterste!

Moto Guzzi is beskikbaar by Italian Motorcycle Importers en kom met ’n 3 jaar/60 000 km onderhoudsplan wat alles dek behalwe bande en remskoene. Daar sal twee modelle beskikbaar wees: Die toetsmodel staan bekend as die Evocative en dan is daar ook die Travel-weergawe wat beskikbaar sal wees met bagasie, ’n groter skerm en verhitte handvatsels.

Kyk hier na die produkblad.

Die feite:

Enjin853 cc 90° V-twee.
Gewig (Nat)229 kg
Kraglewering59 kW @ 7 750 rpm
Wringkrag80 Nm @ 5 000 rpm
Tenkkapasiteit23 l
Saalhoogte830 mm
PrysR 234 850 vir die Evocative

R 249 850 vir die Travel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.