V10 ʼn orkes vir die sintuie

Die Lamborghini Huracán Evo. Foto: Verskaf

Party petrolkoppe hou van 4×4 en ander van vinnig ry. Party hou van die jongste model op die mark, en ander van ʼn gerestoureerde veteraanmotor. Party hou tot van ʼn stokou motor wat oud lyk, maar nuwe meganiese truuks in sy stukkende moue voer. Daar is wel twee dinge wat brandstof deur die meeste petrolkoppe se are aan die vloei kry en dis ʼn supermotor en die klank wat die enjin maak.

Weereens het verskeie mense verskillende voorkeure. Ek hou die meeste van ʼn inlynsessilinder en ʼn kruiskrukas-V8 … maar daar’s een wat kenmerkend is.

Die Lamborghini Huracán Evo. Foto: Verskaf

As jy hom hoor, weet jy dis ʼn Lambo … en dis ʼn atmosferiese V10. Ongelukkig is enjins sonder turbo’s amper ʼn ding van die verlede en dit maak my hart baie seer. Já – daar is beslis plek vir turbo’s – maar hier, agter die stuur van die nuwe Lamborghini Huracán Evo wens ek dat turbo’s én uitlaatgas-regulasies nie ʼn werklikheid is nie.

Ek het verlede jaar my eerste dans met ʼn Lamborghini gehad. Dit was asemrowend – maar dit was ʼn Huracán Performanté met soliede koolstofveselsportsitplekke. My boude was af ná ʼn paar honderd kilometer. Ek was dus effens bang vir die Evo – maar die Evo het my aan ʼn heeltemal verskillende karakter voorgestel.

Die Lamborghini Huracán Evo. Foto: Verskaf

Die Performanté is kliphard en altyd opgedraai na maksimum plus 1. Die Evo gee dieselfde 101% – net meer gemaklik. Vyf kilometer van die handelaar af merk ek en my bestuursmaat op dat die Evo ʼn baie sagter supermotor is in Strada-rymodus. ʼn Mens kry presies dieselfde V10- atmosferiese enjin met ʼn klankbaan wat ʼn dooie man se hart aan die brand sal kan sing. Die programmering van die sewespoed-dubbelkoppelaarratkas is myle beter as sy voorganger en ratwisselings is blitsig dog egalig in Strada.

Die Lamborghini Huracán Evo. Foto: Verskaf

Ná ʼn paar kilometer besluit jy dat die Sportfunksie ʼn beurt moet kry. Skielik maak die V10 sy keel skoon, die skokbrekers is stywer en die ratkas staan op aandag. My bestuursmaat trap die versneller tot teen die vloer en soos die omwentelinge bó 6 500 r/min bou, begin die hoendervleis. Hier teen 8 500 r/min skreeu die V10 uit volle bors en die aanslag op ʼn mens se sintuie is asemrowend. Jy snak letterlik na asem.

Gelukkig is my bestuursmaat Sean Nurse van Auto Dealer. Hy is nogal handig agter ʼn stuurwiel en vroetel hier en daar met ʼn resies of twee. Ek weet Franschhoekpas lê voor en ek het gemengde gevoelens. Ek wil self die pas ry – maar ek wil ook sien wat die Evo in sy mou voer as iemand met meer kundigheid as ek die stuur vat. Dink net hoe aaklig dit sou wees as ʼn mens nie vertroue in die bestuurder gehad het nie.

Die Lamborghini Huracán Evo. Foto: Verskaf

Nodeloos om te sê, is Franschhoekpas in ʼn oogwink verby. Die Evo raak hier en daar geniepsig. Sien – die Evo het vierwielstuur. Al wat ek kan dink, is as ʼn mens by die draai aankom teen 180 km/h, en hard op die kolossale remme klim, draai die agterwiele nog in dieselfde rigting as die voorstes. Dan val die spoed onder 100 km/h en só verander die rigting waarin die agterwiele draai om vir die Huracán meer rats te maak. Daai oorgang laat die Evo bietjie rondbeweeg, maar dis niks wat ʼn mens nie vinnig baas sal raak en naderhand begin gebruik nie.

Die Lamborghini Huracán Evo. Foto: Verskaf

So is dit my beurt om te bestuur. Ek het die oop stukke tussen Villiersdorp en De Kelders. Soos voorheen is die snellerreaksie vlymskerp. Die 5.2-V10 bly asemrowend met 470 kW en 600 Nm. Let wel, 0–100 km/h neem ʼn blitsige 2,9 sekondes; 200 km/h slegs 9 sekondes. Die Huracán Evo sal aanhou tot verby ʼn verstommende 325 km/h. Die paaie is sleg hier en daar, so ons kry beslis nie plek vir dáái soort spoed nie, maar die Evo het bitter lang bene.

Die ontwerp is vir my presies hoe ʼn Lambo moet lyk. Die kar is piepklein en vou om jou sodra jy begin haastig raak. Die kajuit is meer ruim as wat ʼn mens van die buiteproporsies verwag – maar daai enjin bly alles. Vir diegene wat dit kan bekostig en motormanne is – sou ʼn mens werklik maklik met ʼn Huracán Evo elke dag kon saamleef. Dis sag genoeg in Strada en mal genoeg in Corsa. Ek sou graag nóg ʼn rymodus wil hê waar ek die elemente kan kies en keur soos ek wil. Ek soek die sagte vering en stuur, rustige ratkas en die harde uitlaatpype. Die nuwe raakskerm wat alles in die voertuig beheer, werk puik en is met CarPlay en Android Auto toegerus. Dit is baie eenvoudiger om mee te werk as die vorige stelsel.

Die Lamborghini Huracán Evo. Foto: Verskaf

ʼn Mens moet weet hoe goed ʼn motor is waar die enigste kwaal in ʼn kar die rigtingwyser-skakelaartjie is. Die Huracán het nie ʼn armpie agter die stuur soos die meeste karre nie – nee, dis ʼn knoppie links op die stuurwiel soos ʼn motorfiets s’n. Dalk het ek net nog nie genoeg motorfiets gery nie, maar sjoe, ek kan nie gewoond raak daaraan nie.

Verder is die Huracán ʼn asemrowende orkes, met sy wortels in ʼn vorige era. ʼn Era waar hoe iets jou laat voel het alles was. Dink aan rock-musiek. Dis dalk nie almal se smaak nie, maar as Freddie Mercury ʼn hele stadion vol mense aan die gang gekry het, was dit pure hoendervleis. Die Huracán is presies dit – een van die beste rock-orkeste ter wêreld.

Die Lamborghini-reeks lyk nou só

Lamborghini UrusR3 495 000
Lamborghini Huracán EvoR4 500 000
Lamborghini Huracán Evo SpyderR4 950 000
Lamborghini Huracán Evo AWDR5 500 000
Lamborghini Huracán Evo AWD SpyderR5 950 000
Lamborghini Aventador SR7 895 000
Lamborghini Aventador S RoadsterR8 695 000
Lamborghini Aventador SVJR9 695 000
Lamborghini Aventador SVJ RoadsterR10 408 000

Alle Lamborghini’s word met ʼn 3 jaar/100 000 km-diensplan verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

andre ·

Net vir n klein persentasie van die bevolking,eks jaloers !! Dit sal darem lekker wees as intreevlakmotors meer getoets word ,byvoorbeeld motors onder R180 000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.