Verbod op ou motors in Parys

Persone stap op die Champs Élysées in Parys, Frankryk (8 Mei 2016) Die straat sal elke eerste Sondag van die maand slegs vir voetgangers beskikbaar wees. Foto: REUTERS/Jacky Naegelen

Persone stap op die Champs Élysées in Parys, Frankryk (8 Mei 2016) Die straat sal elke eerste Sondag van die maand slegs vir voetgangers beskikbaar wees. Foto: REUTERS/Jacky Naegelen

Alle motors wat voor 1997 geregistreer is, sal vanaf 1 Julie 2016 in Parys, Frankryk, verbied word, onder ʼn nuwe wet wat poog om die stad se lugbesoedeling te verbeter.

Die Franse koerant Le Monde berig ouer motors sal gedurende weeksdae in die middestad verbied word. Alle motorfietse wat voor 1999 geregistreer is, word ook verbied.

Die verbod is verlede jaar aangekondig as deel van teenbesoedelingsmaatreëls wat binne die volgende paar jaar al hoe strenger gaan word. Teen 2020 sal motors, wat voor 2010 geregistreer is, waarskynlik verbied word.

Persone wat die verbod oortree, kan tot €35 (ongeveer R600) beboet word en vanaf 1 Januarie 2017 tot €78 (R1 300).

Anne Hidalgo, die burgemeester van Parys, het reeds verskeie maatreëls ingestel om die lugbesoedeling te beperk, waaronder ʼn onlangse besluit dat motors op die eerste Sondag van elke maand in die Champs-Élysées verbied word.

Ongeveer 10% van alle motors in Parys word deur die verbod op die 19 jaar oue motors geraak.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie voer aan ongeveer 42 000 persone sterf jaarliks in Frankryk weens lugbesoedeling. Die Franse senaat beraam dat lugbesoedeling die stad jaarliks ongeveer €100 miljard uit die sak jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

johann cb ·

Heel drastiese stappe wat geneem is. As só iets hier moet gebeur, sal baie motors van die pad moet afkom. Dit kan baie ongelukke voorkom. Alle ou motors word nie noodwendig goed onderhou nie en ek sien daagliks sulke “doodskiste op wiele”! Ek is nie lelik nie, want tot twee jaar gelede het ek self met ‘n 1993 model gery wat deeglik in stand gehou is en niemand bedreig het nie. Miskien kan ons hier ook sulke wetgewing instel. Padveiligheid en lugbesoedeling is ernstige sake. Ons het net een aarde…

Frederik ·

In SA is die lugbesoedeling erg as gevolg van al die ou bande wat daagliks verbrand word. Nie as gevolg van die ou motors nie.

Kobus ·

As wetgewing gevolg word en die “doodskuste” op wielle word van die pad af gehou is daar nie n probleem nie maar hoekom word ek met my 2004 model motor in goeie toestand afgetrek maar die rookende stuk scrap agter my kan maar verby gaan? Ons ekonomie is ook nie goed genoeg vir almal met ou voertuie om nuwes te kan koop nie.

Mira ·

Ek verstaan die probleem maar….. wat van mense soos ek. Geskei, sukkel om kop bo water te hou en my 1989 toyota corolla is al vervoer wat ek het. “Oumatjie” word klokslag gediens en is in ń puik toestand. Soms dink ek sy lyk beter as sommige nuwer voertuie. As sy nou nie meer haar wiele mag laat sing op ons verwaarloosde teerpaaie nie, hoe kom ek dan van punt A na punt B?

Burger ·

Alle ou karre en Fords …

Maar ek sien oldschool is weer in by die jeug . Hulle laaik die ou karre .

Akram ·

Genugtig. ek ruik iets…. so as die wet in werking is, wat doen jy met jou ou kar? gee hom weg? gaan die pryse darm sak sodat die gemiddelde man op straat n nuwe kar kan koop? dit klink meer na n plan om die motor mark n hupstoot te gee.. my beskeie opinie.

johann brits ·

Daar gaan my laaste geleentheid(dankie tog) vir ‘n besoek aan Frankryk met my ’96 Mercedes!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.