Verbruikersake: Alles wat jy wil weet oor motorversekering

Argieffoto: Pixabay

Al is die meerderheid motors op ons paaie nie verseker nie, is dit belangrik om te weet waarvoor jy jou inlaat wanneer jy jou motor verseker. Hoewel versekeraars probeer om hul dienste meer verstaanbaar en toeganklik te maak vir leke, is dit tog maklik om deurmekaar te raak en verkeerde besluite te neem wanneer jy motorversekering uitneem. Ina Opperman gee raad oor hoe om te kies en te weet waarvoor jy jou inlaat.

Niemand hou daarvan om vir versekering te betaal nie en baie mense wat ons ken, was nog nooit in ’n motorongeluk betrokke nie. Waarom dan nog rande uit jou beursie wurg om vir motorversekering te betaal?

As jy jou motor op krediet gekoop het, het jy nie juis ’n keuse nie, aangesien die kredietooreenkoms vereis dat jy die motor verseker. Moet jy dan jou ou rammelkas verseker? Die antwoord is ja, beslis. Terwyl baie mense nooit in ’n ongeluk betrokke is nie, is daar ook baie met wie dit wel gebeur, al is dit nie hul skuld nie. En as die ongeluk wel jou skuld is en jy is nie verseker nie, moet jy jou maar regmaak vir min slaap en ’n dunner as dun beursie.

Die Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging (SAIA) som dit mooi op: motorversekering gee jou gemoedsrus oor jou motor. Jy betaal maandeliks ’n vasgestelde bedrag en in die geval van ’n ongeluk, brand of diefstal, sal die versekeraar jou motor herstel of vervang – afhangend natuurlik van jou polisvoorwaardes.

Hieruit kan jy kies

Jy kan kies uit drie soorte motorversekering:

  • Omvattende (en duurste) motorversekering bied die wydste moontlike dekking en sal die meeste risiko’s dek, soos ongelukke, haelskade, brandskade en vloedskade, asook die ander motor se herstelkoste indien jy ’n ongeluk veroorsaak.
  • Derdeparty-, brand- en diefstalversekering vir jou motor beteken jou motor is gedek indien dit gesteel word of uitbrand, asook vir die skade aan die ander motor, maar nie ongelukskade aan jou eie motor nie.
  • Derdepartymotorversekering alleen is die goedkoopste, maar dek net die ander motor in ’n ongeluk. Skade in ’n ongeluk of brand aan jou eie motor word nie gedek nie en diefstal ook nie.

Uitbetalings

Versekeraars betaal suksesvolle eise uit gegrond op of die motor herstelbaar is of nie:

  • Herstelbare skade: die versekeraar betaal vir al die herstelwerk en jy betaal die bybetaling.
  • Onherstelbare skade of ’n volle afskrywing: die versekeraar betaal die hele versekerde waarde van jou motor uit, wat jy kan gebruik om jou motorlening af te los of ’n nuwe motor aan te skaf.
  • Diefstal: die versekeraar betaal ook die hele versekerde waarde van jou motor uit, wat jy kan gebruik om jou motorlening af te los of ’n nuwe motor aan te skaf.

Die versekerde waarde van jou motor is die maksimumbedrag wat uitbetaal kan word. Jy kan kies uit vier opsies:

  • Boekwaarde is die laagste bedrag waarvoor jy jou motor kan verseker en is die bedrag wat jou motor werd is in rekenkundige terme met waarde wat maandeliks afneem.
  • Handelswaarde is die bedrag wat ’n motorhandelaar jou sal betaal indien jy jou (onbeskadigde) motor inruil.
  • Markwaarde is ’n bedrag tussen die boekwaarde en handelswaarde.
  • Kleinhandelwaarde is die hoogste bedrag waarvoor jy jou motor kan verseker en is die bedrag wat jy sou betaal as jy dit by ’n motorhandelaar koop.
gebruikte-motor-motors-bestuur

Foto: JéShoots.com/Pexels.com

Moet jy ’n makelaar gebruik?

Nee, jy hoef nie. Jy kan op verskillende maniere te werk gaan om jou motor te verseker:

  • ’n Makelaar kan jou help om die beste produk te vind en sal namens jou met die versekeraar onderhandel. Jy betaal vir die makelaar se dienste.
  • Jy kan ook direk by die versekeringsmaatskappy (en sommer per telefoon) jou motor verseker. Dit is gewoonlik goedkoper omdat jy nie ’n makelaar se kommissie betaal nie, maar daar is niemand wat jou kan help om vergelykings te tref tussen premies, vlakke van dekking en uitsluitings nie.
  • Jy kan gebruik maak van internetdienste wat in ’n japtrap versekeraars se premies vergelyk en jou verwys na die goedkoopste een.

Geen uitbetalings van eise

Jou versekeraar sal nie jou eis goedkeur indien:

  • jy in ’n ongeluk betrokke is en onder die invloed van drank of dwelms is;
  • jy nie ’n geldige bestuurderslisensie het nie; of indien
  • jy enige wanvoorstellings maak wanneer jy aansoek doen vir motorversekering, soos wie gewoonlik die motor bestuur, vorige versekerings- en eisegeskiedenis, kredietgeskiedenis, veiligheidsmaatreëls en of die voertuig vir persoonlike doeleindes of sake gebruik word.

Onthou hierdie wenke:

  • Onthou dat verskillende versekeraars se produkte nie altyd dieselfde is nie, al lyk dit op die oog af so.
  • Maak seker van uitsluitings, soos dat haelskade nie gedek word nie. Dit laat dit dalk lyk asof die versekeraar se premie goedkoper is, maar die dekking is ook minder.
  • Maak seker of daar beperkings is op hoeveel die versekeraar sal uitbetaal vir sekere soorte skade.
  • Onthou dat versekeraars ook ander voordele kan aanbied wat nie wesenlik deel van die versekering is nie om jou om te praat om hulle te kies. Voorbeelde hiervan is bonusse as jy nie eis nie of as jy nie van versekeraar verander nie.
  • Lees die voorwaardes sodat jy nie eers te laat agterkom dat jy nie dekking het nie.
  • Maak seker jy vergelyk dieselfde voorwaardes ook wanneer jy pryse vergelyk.
  • Meer dekking is gewoonlik beter, maar jy sal ook meer betaal.

Kla hier:

Kla oor motorversekering by die Ombudsman vir Korttermynversekering. Besoek die webtuiste by www.osti.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kansvatter ·

Medies en motorversekering is dieselfde.
My raad aan jong mense wat nou begin werk:
Belê elke maand die bedrag wat jy aan medies of versekering sou spandeer. Dis nou indien jou werkgewer jou nie verplig om aan ‘n mediese fonds te behoort nie.
Ja, dit verg selfdissipline.
Na 10 jaar (argumentsonthalwe) sal jy waarskynlik genoeg geld hê om enige onkostes self te betaal. Medies en motor.
Ja, jy vat ‘n kans, maar iewers in die lewe moet jy seker kanse vat.
Oor die algemeen kom ‘n mens gewoonlik weg met die kanse wat jy vat.

Vraagteken ·

Kaansvatter, ek stem saam met jou tot op ‘n sekere punt. Kry derdeparty en ‘n hospitaalplan. Die probleem is, as jy in ‘n ou se nuwe Mercedes vasry, dan is jy verantwoordelik (wat die derdeparty dan dek). Verder, as jy nie ‘n medies het nie, dan gaan dit jou baie kos om op ‘n medies te kom as jy ouer is wanneer jy dit wel benodig.

As jy op ‘n hospitaalplan is en jy het derdeparty, dan kan jy die ekstra bedrag wegsit vir wanneer jy dit nodig het.

Meraai ·

Ek gaan definitief nie sonder versekering nie. Het nie die geld vir n ander motor nie en ook nie die herstel daarvan nie. Boonop is ek pensioenaris met geen bybetaling nie, groot voordeel. Santam was nog altyd goed vir my

Makelaar ·

Hierdie artikel is nie 100% korrek nie. Die meeste makelaars ontvang hulle kommissie van die versekeraar, aangesien die makelaar baie van die administrasie namens die versekeraar hanteer, wat dit goedkoper vir die versekeraar maak. Indien die klient direk met die versekeraar sou werk, sou die maandelikse premie presies dieselfde wees. Van die direkte versekeraars betaal ook “kommissie” aan hulle eie personeel.

Jim ·

Nie korrek nie. Natuurlik betaal die versekeraar die kommissie oor aan die makelaar maar die kommissie-tarief is ingebou by klient se premie. Kyk weer jou polis se tarief-uiteensetting. Die kommissie -tarief word daar getoon en by die premie getel. Wetgewing vereis dit want alle kostes moet aan klient openbaar word. Daar is geen manier dat die versekeraar die koste van die kommissie sal dra nie. Jy as klient betaal dit.

wilma ·

Dankie vir bogemelde artikel. Dit is egter die eerste keer wat ek lees dat daar vier opsies is waaronder ‘n voertuig verseker kan word!

Wielspore ·

Ek betaal sederd 1985 aan kort termyn omvattende versekering, dit is vir huis inhoud en voertuig versekering. In hierdie tydperk is al ons eise agv toestande buite ons beheer, hael skade, windskerm skade agv klippe, rondloper perd op die pad. Daar was 4 eise en die hoogste bedrag was R13000. My een voertuig het ons nuut in 2004 gekoop en het omvattende versekering op hom van dag een tot op datum, 16 jaar later het ek geen eise op die voertuig gehad. Ons het uitgewerk dat die totale premies was ons op die voertuig betaak het, meer is as die huidige waarde.
Na my mening moet dit verpligtend wees dat elke voertuig wat op ‘n openbare pad gebruik word, oor versekering beskik. Dit sal die premies verminder want die mense wat versekering subsudieer die wat nie versekering het.

Hanno ·

Wielspore, dankie dat jy my subsidieer. Wees verseker, ek waardeer dit opreg. Jy is n vriend duisend.

Werk slim ·

Stem nie saam met kansvatter nie. ‘Spaar’ elke maand R100, na 3 maande R300 + minimale rente. Betaal Elke maand R100 aan medies, kom in ongeluk, kar afgeskryf en moet hospitaal toe, sit jy et slegs R300 plus minus. Moet op die ou end persoonlike lenings uitneem net om oor die weg te kom. Dus, indien moontlik, is mediesefonds en versekering belangrik. Kan nie bekostig om op staatsvervoer staat te maak, of gebruik te maak van publieke hospitaal nie. Net my 2c

corne ·

My ondervinding is dat inbelversekeraars snert is en hoopenloos te duhr soek mooi myne wou hulle met 19% verhoog en nou healuif deur n makelaar vir baie minder en dan ool nog beter voordele kyk mooi daar is maar baie skelm strukke

Rooijan ·

Kry vir jou ‘n Haltlock sisteem en jy hoef nooit weer bekommerd te wees oor motor diefstal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.