Verbruikersake: Bedryfskodes wat jou regte beskerm

beursie-koop-betaal

Foto: JéShoots.com/Pixabay.com

Wanneer mens van bedryfskodes praat, sal baie verbruikers dalk onthou dat hulle êrens op ’n plakkaat, advertensie of vorm iets van ’n bedryfskode van ’n onderneming gesien het, maar min mense weet wat ’n bedryfskode werklik beteken. Ina Opperman het gaan kyk wat die Wet op Verbruikersbeskerming sê oor bedryfskodes en wat dit nou eintlik beteken.

’n Bedryfskode kan baie betekenisse hê, omdat dit vir ’n bepaalde doel opgestel word, maar die bedryfskode waarna ons hier kyk, is gewoonlik een wat uitstippel hoe verbruikers behandel moet word en hoe hul klagtes opgelos moet word.

Enige onderneming kan ’n bedryfskode opstel wat sy personeel moet navolg en dit teen sy muur opplak, maar soms is hierdie bedryfskodes maar net deel van bemarking en nie eens die papier werd waarop dit geskryf is nie. Daarom is dit belangrik om te weet daar is bedryfskodes vir sekere bedrywe wat deur die Nasionale Verbruikerskommissie geakkrediteer is ten opsigte van die Wet op Verbruikersbeskerming.

Artikel 82

Artikel 82 van die wet handel oor bedryfskodes en definieer dit as ’n kode wat die interaksie tussen mense wat in ’n bepaalde bedryf sake doen, reguleer, of wat die interaksie tussen iemand in die bedryf en verbruikers reguleer, of wat voorsiening maak vir alternatiewe geskilbeslegting tussen hulle.

Die minister van handel en nywerheid kan ’n bedryfskode op aanbeveling van die kommissie voorskryf of ’n bestaande bedryfskode op aanbeveling van die kommissie terugtrek.

Die kommissie kan uit sy eie of in reaksie op ’n voorstel van mense in ’n bepaalde bedryf ’n voorgestelde bedryfskode by die minister aanbeveel nadat:

  • die voorgestelde bedryfskode vir openbare kommentaar gepubliseer is,
  • enige voorleggings in ag geneem is,
  • mense in die bedryf en geakkrediteerde verbruikersbeskermingsgroepe geraadpleeg is en
  • die nodige veranderings aan die voorgestelde bedryfskode aangebring is.

’n Bedryfskode moet ooreenstem met die oogmerke en beleid van die wet. Die kommissie moet op versoek van die minister die effektiwiteit van ’n bedryfskode met betrekking tot die oogmerke en beleid van die wet ondersoek, of dit elke vyf jaar hersien en aanbevelings aan die minister maak.

Wanneer ’n voorgestelde bedryfskode vir alternatiewe geskilbeslegting voorsiening maak en die kommissie meen die skema sal alternatiewe geskilbeslegtingsdienste kan lewer wat op dieselfde standaard is as wat ingevolge ’n openbare regulasie verskaf word, kan die kommissie ook aanbeveel dat die skema as ’n “geakkrediteerde bedryfsombud” geakkrediteer word.

Die kommissie moet die effektiwiteit van ’n bedryfskode met betrekking tot die oogmerke en beleid van die wet monitor en mense in die betrokke bedryf moet inligting verskaf wat nodig is vir monitering en hersiening van die kode. Handelaars mag nie hierdie bedryfskodes oortree nie.

Geakrediteerde bedryfskodes

Die kommissie het sover nog net twee gedragskodes geakkrediteer, naamlik die Suid-Afrikaanse Bedryfskode vir die Motorbedryf en die Bedryfskode vir Verbruikersgoedere en Dienste.

Die Bedryfskode vir die Motorbedryf

Hierdie bedryfskode reguleer die interaksie tussen mense wat sake doen in die motorbedryf en hul interaksie met verbruikers. Die doel daarvan is om verhoudings tussen die mense te reël en voorsiening te maak vir ’n alternatiewe geskilbeslegtingskema tussen verbruikers en alle deelnemers aan die bedryf en ’n bedryfsombud daar te stel om hierdie dienste te verskaf. Alle bepalings in die bedryfskode stem ooreen met die bepalings van die wet.

Die bedryfskode is van toepassing op die hele motorbedryf, wat almal insluit wat reeds lede van ander motorverenigings is. Dit handel oor die gedrag van lede wanneer goedere en dienste aan verbruikers verskaf word en fokus op verbruikersbeskerming, riglyne vir verskaffers en regverdige sakepraktyke.

  • Kry dié bedryfskode vir die motorbedryf hier.

Die Bedryfskode vir Verbruikersgoedere en Dienste

Die Bedryfskode vir Verbruikersgoedere en Dienste en die kantoor van die Ombud vir Verbruikersgoedere en Dienste is ingestel en geakkrediteer ingevolge die wet. Die bedryfskode is daarom van toepassing op alle deelnemers aan hierdie bedryf.

Die bedryfskode is ingestel om die bedryf leiding te geen oor die minimum gedragstandaarde wat van hulle verwag word wanneer hulle met verbruikers werk en hulle by te staan om klagtes op te los.

  • Kry dié bedryfskode hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.