Verbruikersake: Brandende Kugas se eienaars uiteindelik vergoed

Nog ‘n Ford Kuga brand uit (Foto: Ford Vehicles Burning/Facebook)

Ford het uiteindelik die eise van Kuga-eienaars, wie se motors tussen 2014 en 2017 uitgebrand het, gefinaliseer nadat die Ford Motor Company South Africa en die Nasionale Verbruikerskommissie ’n ooreenkoms bereik het om R50 000 aan elkeen van die eienaars te betaal as vergoeding en dit ’n hofbevel gemaak is deur die Nasionale Verbruikerstribunaal. Ina Opperman verduidelik wat gebeur het en wat verbruikers se regte is.

Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het oorspronklik met 76 verbruikers in gesprek getree oor klagtes van Kugas wat onverklaarbaar aan die brand geslaan het. Drie van die klagtes is afgewys omdat die verbruikers nie kon bewys dat hul motors wel uitgebrand het weens die defek wat veroorsaak het dat die enjinkompartement begin brand het nie.

Nog drie verbruikers het besluit om die saak verder te vat en 47 van die verbruikers het besluit om Ford se aanbod te aanvaar.

Die betrokke verbruikers kon kies of hulle ’n eis wou indien vir die R50 000 met of sonder ’n eis vir ander goedere in die motor teen Ford kragtens artikel 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming. Of hulle kan hul eise verder vat in die hof op hul eie onkoste.

Ford het in Januarie 2017 amptelik die Ford Kuga 1.6-liter EcoBoost om veiligheidsredes herroep en eienaars van alle Kugas moes hul motors teruggeneem na die handelaar, waar die onderdele, wat die enjinoorverhitting veroorsaak, vervang is.

Die herroeping is gedoen in samewerking met die NVK nadat 39 Ford Kuga-brande by Ford aangemeld is. Ford het toe reeds 15 enjins en ʼn motor na Europa en die VSA gestuur vir ʼn ondersoek om te bepaal wat die brande in die enjin veroorsaak.

Dit het geblyk dat die enjin oorverhit omdat die verkoelingstelsel nie reg werk nie. Dit het die enjinkop laat kraak, wat veroorsaak het dat olie lek wat dan vlamvat. Dit het veral in ouer Kuga-modelle voorgekom.

Artikel 61

Artikel 61 van die Wet bepaal die aanspreeklikheid vir skade wat goedere veroorsaak en die produsent of invoerder van goedere word geblameer vir algehele of gedeelde verantwoordelikheid vir hierdie skade.

Wanneer kan jy eis vir skade?

Jy kan eis vir skade wat veroorsaak is deur die verskaffing van onveilige goedere, ʼn produkgebrek, ’n defek of gevaar, onvoldoende instruksies of waarskuwings – ongeag of die skade die gevolg is van nalatigheid aan die kant van die produsent, invoerder, verspreider of handelaar, na gelang van die geval, word ingesluit, sowel as goedere wat in die verskaffing van dienste gebruik word.

Aanspreeklikheid

Elkeen in die verskaffingsketting kan aanspreeklik wees of almal saam.

Volgens artikel 61 kan ʼn skakel in die verskaffingsketting nie aanspreeklik gehou word vir skade indien die onveilige produkkenmerk, gebrek, defek of gevaar heeltemal toegeskryf kan word aan die nakoming van ʼn openbare regulasie nie.

Verbruikers kan ook nie ʼn skakel in die verskaffingsketting aanspreeklik hou indien die beweerde onveilige produkkenmerk, gebrek, defek of gevaar nie bestaan het toe die goedere gedurende die verskaffingsproses verskaf is nie. Goedere kan, byvoorbeeld, veilig wees wanneer dit die vervaardiger verlaat, maar indien die kleinhandelaar dit nie reg hanteer nie en die goedere word onveilig as gevolg daarvan, is die vervaardiger nie aanspreeklik nie, maar die kleinhandelaar wel.

Dieselfde geld indien die skade in die geheel toegeskryf kan word aan die nakoming van instruksies wat een skakel in die verskaffingsketting aan die volgende verskaf het. ʼn Vervaardiger kan, byvoorbeeld, ʼn fout maak met die instruksies oor hoe goedere geberg moet word. Die kleinhandelaar volg die aanwysings tot op die letter, maar die goedere veroorsaak steeds skade. Die kleinhandelaar is dan nie aanspreeklik nie, maar die vervaardiger is.

Volgens artikel 61 is dit ook onredelik om te verwag dat die verspreider of kleinhandelaar die onveilige produkkenmerk, gebrek, defek of gevaar moes ontdek, as mens die verspreider of kleinhandelaar se rol in die bemarking van die goedere aan verbruikers in ag neem. Wanneer ʼn kleinhandelaar, byvoorbeeld, goedere in geseëlde houers verkoop, kan jy nie verwag dat hy die houers moet oopmaak om seker te maak daar is nie fout met die produk nie.

Verjaring

Eise vir skadevergoeding moet ingestel word binne drie jaar nadat iemand dood of beseer is weens die produk of op die vroegste tydstip waarop die verbruiker vasstel die goedere het ʼn siekte veroorsaak of vasstel dat verlies of skade deur die goedere veroorsaak is of verlies gely het.

Vir watter skade kan die verbruiker eis?

Jy kan ʼn skadevergoedingseis instel as die goedere iemand se dood, siekte of besering veroorsaak het of in die geval van ʼn verlies van, of fisieke skade aan eiendom. Indien dit ekonomiese verlies veroorsaak het, kan jy daarvoor ook eis.

Wat kan die hof doen?

Wanneer jy ʼn eis instel, kan die hof bepaal of die skade bewys is en voldoende beperk is. Die hof kan ook die mate en geldelike waarde van skade, met inbegrip van ekonomiese verlies vasstel en bepaal wie in die verskaffingsketting aanspreeklik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kaptein67 ·

En wat leer ons uit die aangeleentheid? Bly maar ver weg van Ford.

Andréas ·

Dit is ‘n veralgemening en nie op feite basseer. Ek sê dit ook sonder dat ek ‘n Ford eienaar is.

tweeling ·

So iemand moet wegbly van Toyota omdat mense dood is deurdat die versneller van verskeie corollas in Amerika vasgehaak het?

Duck ·

R50 000!
Jy kan nie eens 4 wiele koop vir daai geld nie
Treuring

Niklaas ·

Nou wonder ek net wat is die besluit ten opsigte van die Kuga eienaars wat lankal ten volle vergoed is deur hul versekeraars vir die eise wat ingestel is ? Kry daardie mense steeds hul bedrag van R 50 000 boonop ? Dan is dit darem ‘n troospryse en bonus.

Marius ·

Dit se vir my dat Ford reken n lewe is net R50,000.00 werd . Skokkend om die minste te se .
Ek sal nie n Ford koop nie al is dit die laaste voertuig .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.