Verbruikersake: Die lesse uit motorklagtes

motor-herstelwerk

Foto: Danvolks99/Pixabay.com

Die ombudsman vir die motorbedryf het volgens sy jaarverslag, wat onlangs uitgereik is, 8 502 klagtes van verbruikers ontvang en 8 403 opgelos. Verbruikers het die meeste gekla oor swak diens (27,76%), enjins (22,78%), regskwessies (12,27%), kontrakkwessies (11,22%), ratkaste (4,96%), motorbakwerk (4,75%), wiele (2,85%), binnekant van motors (2,45%), versiening (2,28%) en elektriese probleme (2%). Ina Opperman het gaan kyk watter lesse verbruikers kan leer uit sommige van die klagtes wat die ombudsman ontvang het.

As iets raas

’n Verbruiker het sy motor, wat nog onder waarborg was, na ’n goedgekeurde diensverskaffer geneem omdat die enjin ’n geraas gemaak het. Die diensverskaffer het gemeen dit is die koppelaar en dit op die verbruiker se onkoste vervang, maar die geraas was steeds daar. Die verbruiker het dit onder die diensverskaffer se aandag gebring.

Uiteindelik het die enjin gebreek, maar die handelaar het die eis teen die waarborg afgewys omdat hy gemeen het die enjin se toere is opgejaag (revved). Die ombudsman het ’n tegniese verslag aangevra oor die rede waarom die enjin gebreek het. Volgens die verslag is dit veroorsaak deur ’n stukkende druklaer en is die probleem verkeerdelik gediagnoseer as die koppelaar.

Die ombudsman het bevind dat die enjin vervang moet word volgens die waarborg en dat die verbruiker niks daarvoor hoef te betaal nie.

Leer hieruit: Die verbruiker het reg opgetree deur die motor na ’n goedgekeurde diensverskaffer te neem omdat dit nog onder waarborg was. Hy het by die waarborgvoorwaardes gehou en toe die diensverskaffer die probleem verkeerd gediagnoseer het, kon hy eis dat die enjin volgens die waarborg vervang word.

As ’n liggie flikker

Nog ’n verbruiker het by die ombudsman gekla oor ’n gebruikte motor waarvan die olieliggie begin flikker het, net nadat hy dit by die handelaar gaan haal het. Hy het die handelaar laat weet, wat ’n tegnikus uitgestuur het om die olie aan te vul en gesê het hy kan maar aanhou om met die motor te ry.

Later dieselfde dag het die enjin begin raas en by nadere ondersoek moes die hele enjin opgeknap word. Die verbruiker reken hy is nie aanspreeklik vir die koste nie.

Nadat die ombudsman ondersoek ingestel het, het hy bevind dat die motor nie die vereistes en standaarde wat in artikel 55 van die Wet op Verbruikersbeskerming vervat is, voldoen het nie. Die handelaar moes vir die enjin betaal en nie die verbruiker nie.

Leer hieruit: Volgens artikel 55 van die wet moet handelaars veilige goedere van goeie gehalte lewer, wat gepas is vir die doel waarvoor dit gemaak is en in ’n goeie werkende toestand wees. Die goedere mag nie enige defekte hê nie en moet vir ʼn redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees. Die verbruiker het dadelik die handelaar in kennis gestel, wat sonder verdere ondersoek aanbeveel het dat hy verder ry. Dit is dus duidelik dat die handelaar nie ’n motor van goeie gehalte, wat in ’n goeie werkende toestand is, aan die verbruiker verkoop het nie.

As dit warm raak

’n Verbruiker het by die ombudsman gekla oor ’n gebruikte motor wat oorverhit het. Ten spyte van die liggies wat op die paneelbord flikker en die naald wat wys dinge raak nou warm, het die verbruiker aanhou ry vir nog vyf kilometer. Die enjin is daardeur beskadig, maar die verbruiker wil nie daarvoor betaal nie. Die ombudsman het nie hierdie keer met die verbruiker saamgestem nie, aangesien hy die waarskuwings dat die enjin oorverhit, geïgnoreer het en aanhou ry het.

Leer hieruit: Jy kan jou net beroep op die bepalings van artikel 55 as jy nie nalatig optree en self skade veroorsaak nie. Die verbruiker het aanhou ry ten spyte van waarskuwings dat die enjin oorverhit en dit het die skade veroorsaak, waarvoor die handelaar nie aanspreeklik gehou kan word nie.

Wanneer jy te veel betaal

Die verbruiker het ’n diensverskaffer gevra om sy motorfiets te herstel. Die diensverskaffer moes die petrolpomp vervang en die verbruiker het ingestem dat die werk gedoen word nadat hy ’n kwotasie ontvang het.

Die motorfiets is herstel, maar die verbruiker het by die ombudsman gekla dat hy te veel vir die werk betaal het. Die ombudsman het egter bevind dat hy wel toestemming gegee het vir die werk en geweet het hoeveel hy moes betaal en daarom kan hy nie die deel wat hy meen te veel was, terugeis nie.

Leer hieruit: Volgens artikel 15 van die Wet op Verbruikersbeskerming moet jy herstel- of onderhoudsdienste vooraf goedkeur voordat die hersteller met die werk kan begin. Die diensverskaffer het by die wet gehou en dus kan die verbruiker nie later oor die prys kla wat hy goedgekeur het nie.

Wanneer die rook trek

Nog ’n ontevrede verbruiker het by die ombudsman gaan aanklop vir hulp omdat hy meen die gebruikte dieselvoertuig wat hy gekoop het, rook te veel wanneer hy die sleutel draai. Volgens die verbruiker was die voertuig onbruikbaar en nie duursaam nie en hy wou die koop kanselleer.

Die ombudsman het ingestem dat die handelaar die voertuig laat toets deur ’n onafhanklike ondersoeker, wat gevind het dit was in ’n goeie werkende toestand, sowel as bruikbaar en duursaam. Die swart rook wanneer die voertuig aangesluit word, is normaal vir ’n dieselvoertuig. Die verbruiker kon dus nie die koop kanselleer nie.

Leer hieruit: Mens kan ’n koop net kanselleer as daar regtig groot fout is met ’n voertuig.

Kla hier:

Kla oor motorprobleme wat nie deur die handelaar opgelos word nie by die Ombudsman vir die Motorbedryf (MIOSA). Klagtevorms is beskikbaar by www.miosa.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

WIEBO ·

Ek was vir 25 jaar motor verkoopsman in Pretoria by n groot handelaarsgroep wat verskeie takke het vir Toyota, VW, Audi ens. Wat daar aangaan met gebruikte voertiue en in die werswinkel, sal jou hare laat rys. Ek was al 4 keer gedwing om splinter nuwe voertuie te verkoop, wat in helse ongelukke was. Mense, julle dink julle koop nuwe voertuie, maar die voertuig is gery van Durban af Pretoria toe en so kan ek aangaan…… Ek kon naderhand nie meer vir sulke mense werk nie…………..

Lou ·

Al die sake lyk regverdig hanteer behalwe die laaste een. Ek ry twee diesel voertuie en nie een van hulle gooi swart rook uit as dit aangeskakel word nie.
Die verbruiker het ‘n punt beet gehad om te kla.

Raadop ·

Alles loop vlot met die onbudsman tot die handelaar nie reageer op die onbudsman se navrae nie, dan kry jy maar net ‘n e-pos van die onbudsman wat sê hulle kan ongelukkig nie verder optree nie en jy moet maar verbruikersraad toe gaan…

Wonder ·

Dis altyd die verbruiker wat ongelukkig is, en altyd die verbruiker wat so onskuldig is. Ek het net simpatie met ‘n verbruiker indien, die verbruiker ‘n geldige klagte het. Te veel verbruikers kla partykeer oor absolute nonsens. Verbruikers lees ook bitter min die termes en voorwaardes, voordat hulle enige iets koop, so wanneer die gemors die fan tref, dan is hulle altyd tog o so onskuldig, en het nooit van niks geweet nie. Daar is altyd 3 kante van ‘n saak, joune die ander ou se storie en die waarheid.

Henk ·

So as jy 600 000 vir n nuwe voertuig betaal en dit klink in die voertuig soos n rattlebox, as dit reen is daar meer water in as buite die voertuig, die body mountings is nie vas nie en die aircon werk na 3 maande nie meer nie, dan is dit omdat ek nie die terme en voorwaardes gelees het nie?

AndrewL ·

Wanneer word voertuie se veiligheid ook getoets volgens hosveel langs die pad onklaar raak? In Suid Afrika is dit ‘n lewensgevaarlike ondervinding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.