Verbruikersake: Jou regte oor gebruikte motors

gebruikte-motor-motors-bestuur

Foto: JéShoots.com/Pexels.com

In Suid-Afrika kom jy net goed oor die weg as jy ʼn motor het, maar min mense kan splinternuwe motors bekostig. Gewone mense koop maar gebruikte motors, maar dit gebeur gereeld dat jou nuwe gebruikte motor nie so ʼn goeie kopie is as wat jy gedink het nie. Dit is so dat mens soms maar iemand anders se probleme koop wanneer jy ʼn gebruikte motor aanskaf, maar jy het steeds regte volgens die Wet op Verbruikersbeskerming. Ina Opperman vertel wat jou regte is volgens die Wet op Verbruikersbeskerming.

Verbruikers se klagtes oor gebruikte motors is omtrent so oud soos die motor self. Totdat die Wet op Verbruikersbeskerming in 2011 ingestel is, moes verbruikers maar op hul regte volgens die gemene reg staatmaak om hul klagtes oor gebruikte motors op te los, maar nou is daar verskeie bepalings in hierdie einste wet wat dit vir verbruikers baie makliker maak om hul klagtes op te los.

Artikels 29 en 41

Volgens artikel 29, wat handel oor die algemene standaarde vir die bemarking van goedere of dienste, mag niemand ʼn motor bemark deur middel van ʼn misleidende voorstelling of op ʼn manier wat misleidend is wat betref die aard, eienskappe, voordele of gebruike van die motor, die prys daarvan of enige ander wesenlike aspek nie. Dit beteken die handelaar mag jou nie mislei oor die toestand van die motor en die aantal kilometers wat dit al afgelê het nie.

Artikel 41 sluit hierby aan en bepaal dat die motorhandelaar nie valse inligting vir jou mag gee oor die motor nie en ook nie iets impliseer wat onwaar is nie of iets verswyg, soos dat die motor voorheen in ʼn ongeluk beskadig is. Dit is ook sy plig om jou reg te help as hy kan sien jy verstaan iets nie reg nie, soos die aantal kilometers wat die motor op die klok het. Jy mag ook nie mislei word oor enige prestasiekenmerke, bybehore, nut, voordele of gehalte of dat dit nuut of ongebruik is as dit nie die geval is nie.

Die motorhandelaar mag ook nie aandui dat die motor vir ’n tydperk gebruik is in ’n mate of op ’n wyse wat wesenlik van die feite verskil nie. Dit beteken hy mag nie vir jou verseker die motor het net een eienaar, ʼn bejaarde vrou, gehad as die motor werklik al ʼn paar eienaars gehad het wat dit hardhandig hanteer het nie.

Jy mag ook nie mislei word oor die beskikbaarheid van diens-, onderhoud- of herstelfasiliteite of onderdele nie. Met motorhandelaars wat uit die land onttrek, bestaan die kans dat jy ʼn motor kan raakloop waarvan die onderdele nie meer so geredelik beskikbaar is nie en daarom is hierdie bepaling ook belangrik. Die handelaar moet ook eerlik wees oor prysvoordele en heffings en sy verkoopspersoneel moet gemagtig wees om ’n ooreenkoms met jou te sluit.

Artikel 44

Met gebruikte motors is artikel 44, wat handel oor die verbruiker se reg om te aanvaar dat die verskaffer geregtig is om goedere te verkoop, baie belangrik. Hierdie artikel bepaal dat jy die reg het om te aanvaar dat die handelaar die wettige reg of magtiging van die regmatige eienaar het om die motor te verkoop. Indien dit nie die geval is nie, bepaal artikel 44 dat dit die motorhandelaar se risiko en verantwoordelikheid is indien die motor dalk gesteel is.

Voordat die wet in werking getree het, het ʼn verbruiker wat onwetend ʼn gesteelde motor gekoop het, bloot die motor verloor wanneer vasgestel word dit is gesteel. Indien jy die motor met die bank se hulp gekoop het, moes jy dan steeds die bank terugbetaal.

Artikel 55

Artikel 55 bepaal jou reg op veilige goedere van goeie gehalte, maar is nie van toepassing op motors wat op veilings gekoop word nie. Dit bepaal dat jy die reg het om ʼn motor te kry wat redelikerwys gepas is vir die doel waarvoor dit in die algemeen bedoel is. Jy koop die motor om mee te ry: dus moet die motor kan ry.

Dit moet van goeie gehalte wees, in goeie werkende toestand en vry van enige defekte en vir ’n redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees, met inagneming van gewone gebruik, tensy die motorhandelaar jou uitdruklik inlig dat die motor sekere probleme het en dat jy steeds ingestem het om dit te koop.

Aangesien die motorhandelaar motors verkoop, mag jy ook aanvaar dat hy jou die regte raad sal gee wanneer jy verduidelik waarvoor jy die motor wil gebruik.

 Artikel 56

Hierdie artikel is ook baie belangrik vir verbruikers wat gebruikte motors koop, aangesien dit handel oor die versweë waarborg van gehalte. Selfs al is dit ʼn gebruikte motor, is daar ’n versweë bepaling dat die handelaar waarborg dat die motor aan die vereistes in artikel 55 voldoen.

Indien dit nie die geval is nie, kan jy binne ses maande nadat jy die motor gekoop het, eis dat die handelaar die motor herstel of vervang of jou geld terugbetaal. Hierdie herstelwerk is vir drie maande gewaarborg en indien dit binne hierdie drie maande weer breek, moet die handelaar dit herstel of jou geld teruggee.

Verbruikers moet egter in gedagte hou dat jy nie die motor kan teruggee en jou geld terugkry as daar net ʼn klein foutjie aan die motor is nie. ʼn Venster wat nie oopmaak nie, beteken nie dat die motor nie kan ry nie, maar jy kan steeds eis dat die handelaar die venster herstel.

Kla hier

Verbruikers wat probleme het met gebruikte motors kan kla op die Ombudsman vir die Motorbedryf se webtuiste by www.miosa.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Peet Schabort ·

Na slegs 95 000 km het my Toyota Corolla Exclusive D-4D (nuut @ R223 000) probleme gegee om in die oggend aan die gang te kom. Deur die dag was daar geen probleem en die fout het ook nie op die diagnostiese rekenaar gewys. Omdat ek ‘n gewete het en bewus was van dit het ek die voertuig laat herstel (R15 572 EN 40c) voordat ek dit verkoop het. Ek het my 1300 Ford Ikon (nuut R85 000) behou wat nie eers lugversorging het asook nie ‘n kattebaklig teenoor al die luukshede van die Corolla waar die grondvryhoogte ook maar skraps was. Die Corolla is ook moeilik om gewone instandhouding te doen teenoor die Ikon. Volgens my is selfs ‘n nuwe voertuig ‘n risiko.

Lientjie ·

En wat van die klient wat lieg oor die toestand van hulle voertuig wat hulle inruil. Hulle weet daar is ‘n probleem, maar bly stil oor die probleem. Die handelaar kan nie die probleem dadelik sien die dag as die klient daar was vir ‘n waardasie nie, maar gelukkig is daar nou ‘n stelsel in plek waar die handelaar kan sien of die voertuig in ‘n ongeluk was, wanneer en wat die bedrag aan skade was. Die probleem is indien enig iets fout gaan onmiddelik na die inruil, dan was die klient sy hande in onskuld en moet die handelaar soms pa staan vir bitter baie geld. So daar ry baie meer skelms daar buite rond as wat handelaars is.

Jorie ·

Nee wat. Die handelaars betaal dikwels ten minste R30 000 minder vir die kar as wat dit werd is. So hulle het baie ruimte om foute te herstel.

tilla ·

Om by die ombudsman te probeer kla help mens ook nie veel nie. Ek het 2 jaar terug ‘n klagte ingedien waarop ontvangs erken is maar tot datum het hulle nog nie enige terugvoer gegee nie. Moes maar intussen ander planne maak wat my duisende rande gekos het.

chris venter ·

Ek stem saam ek het een jaar gelede n kiag ingedien Miosa kon niks uitrig nie hulle het my na die verbruikersraad verwys alle dokumente is aan hulle per epos gestuur weer n belofte van kontak met my te maak om die saak aan te roer , nou amper een jaar later alles so stil soos n graf my mening is dat nie een van die instansies hulle aan die arme verbruiker steur nie. Elke keer verwysings nommers gegee.

Klug spul ·

Ek moes n dokument van 24 bladsye lees en teken,en dit NET om die verkoper te beskerm,daar was NIKS op om enigsins die koper te beskerm nie…wat n klug

WILLIE ·

motor ambudsman grootste klug. het brief in my hand gehad, wat handelaar aangebied het om dit terug te koop na vals advertensie hul het toe hul tyd gevat en op die einde van die dag vir my gese hul kan dit nie meer terug koop, omdat dit so lank geneem het,maar hulself het tyd gemors. het als vir ambudsman aangestuu, het heeltyd net gehoor besig met dit, seker vir 4mnde so aan gehou toe gooi ek handdoek in

Wonder ·

Moes laas jaar my maatskappy voertuig inruil. 300 000km op die klok, vol diens rekord.. Geen ongeluk skade nie, kort by die R100000 se extras, is R95 000 geoffer, 2 weke later staan hy op die vloer vir R165 000…. Wie maak nou lekker geld… O ja, die ding het R500 000 nuut gekos (was ‘n “hand me down” van een van die direkteure af) Ry nou Indiaanse voertuig. Ten minste val sy waarde in verhouding nie so baie nie… Ook laas jaar my vrou se voertuig (vir R15000 deur die maatskappy gekoop nadat hy “te oud” verklaar is verkoop om vir haar ‘n nuwe ryding aan te skaf. Eerste handelaar gee een kyk en NEE dankie… 2de een R50 000 kontant.. net daar, ek het huis toe geloop. Gaan beide kante toe.

Bekommerd ·

Ek stem saam met die beskerming van verbruikers teen ongenaakbare handelaars, maar die gemiddelde profeit op ‘n kar onder R100000 is so R10 tot R15000. Jy kan in ses maande 300000km ry as jy wil. Verduidelik enige slimjan vir my, hoe waarborg ‘n handelaar ‘n kar met 250000km op vir 6maande en onbepaalde kilo’s – met R15000 profeit btw excl – en die kar is 10jaar oud. Die vervaardiger sal nie eers die kar waarborg nie.

Speedguard ·

Waar kla mens oor die “Insleep dienste”!! Hulle rook die arme verbruiker !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.